Local newsNews

Trauma groep in Rietfontein help slagoffers in nood

As die oorsaak van die trauma nie so gou as moontlik behandel word nie, kan dit ander permanente skade aandoen.

“Dis moeilik om te weet hoe die trauma van ’n misdaadervaring jou sal tref. Eers as jy iets soos ’n gewapende roof beleef, besef jy dat so ’n ervaring met jou menswees saamloop.”

So sê ’n Pretoria-inwoner wat onlangs self trauma ervaar het.

Persone wat deur trauma gaan as gevolg van misdaad of tragiese gebeurtenisse kan wel hulp bekom en emosionele ondersteuning kry van die Mon Ami Trauma Troops wat in Rietfontein, Pretoria geleë is.

Hulle bied emosionele ondersteuning, sowel as slagofferbemagtiging, aan mense wat traumatiese ervarings beleef het.

Estelle Gerber praat met leerders oor trauma. Foto: Estelle Gerber

Mon Ami, (Frans vir “My Friend”), Trauma Troops, is ’n nie-winsgewende organisasie en gemeenskapsgebaseerde, ondersteuningsgroep.

Die aksiegroep is in 2007 gestig nadat Jacques Botes (maatskaplike werker in privaat praktyk) en Klaas van der Kooi (skepper van Kilnerpark Sekuriteit) in samewerking met die Villieria-polisie ’n ondersteuningsgroep in die Pretoria Moot begin het.

Die Mon Ami Trauma Troops bestaan uit ’n groep vrywilligers wat hulle tyd en dienste gratis skenk om te help in verskeie trauma-sake insluitende poging tot moord, gewapende roof, dood van ’n geliefde vriende of familie, poging tot selfmoord, moord, en seksuele aanranding. Basies enige traumatiese ervaring.

Vrywilligers leersessie. Foto: Estelle Gerber

Hulle beveel aan dat mense hulle binne die eerste 72 uur na hul voorval op hul hulplyn kontak vir bystand of om ’n afspraak te maak. Hulle het ook ’n magdom kontakte by die polisie en hospitale wat hulle laat weet wanneer hulle op ’n krisistoneel benodig word.

“Die eerste 72 uur is baie belangrik, omdat die slagoffer na die tydperk nie meer ’n akute reaksie op die traumatiese gebeurtenis het nie,” vertel Botes.

As die oorsaak van die trauma nie so gou as moontlik behandel word nie, kan dit ander permanente skade aandoen, soos post-traumatiese stresversteuring (PTSD) en selfs ook, wat sielkundiges as “self medicating” beskryf, veroorsaak. Dit is wanneer slagoffers na alkohol, pille of ander dwelms gryp om hulle self beter te laat voel.

Rekord het met Jacques Botes en Estelle Gerber gesels om meer uit te vind oor die projek en die slagoffers.

Hulle verduidelik dat daar glad nie ’n standaard manier is van hoe mense in hierdie situasies reageer nie, maar dat elke persoon op sy eie manier getraumatiseer word deur ’n moeilike situasie of skokkende gebeurtenis.

Vir sommige mense is dit maklik om net so ’n gebeurtenis te laat gaan en te vergeet, terwyl ander diep emosieneel “gewond” word deur wat hulle beleef het. Daarom is dit so belangrik vir mense om gou hulp te kry.

Hulle se dat enigiemand welkom is om hulle te kontak vir hulp.

Al die beraders het sertifikate van die Universiteit van Pretoria vir slagofferbemagtiging, maar is nie geregistreerde trauma beraders nie. Dus verwys hulle persone wat meer hulp nodig het, na professionele beraders of sielkundiges vir professionele hulp.

“Dit is altyd beter om vroeg hulp te soek sodat permanente skade aan jou geestesgesondheid verhoed kan word,” se Botes.

Estelle Gerber praat met leerders by ’n skool oor trauma. Foto: Estelle Gerber

Gerber vertel van ’n geval wat haar diep geraak het.

Hulle is gekontak om uit te kom na ’n mamma en pappa wie se ses-maande-oue babatjie dood is.

By haar aankoms, het die mamma op ’n stoel gesit met haar oorlede babatjie in haar arms, met die pappa en ’n familievriend wat langs haar staan.

Toe Gerber haarself voorstel en haar hulp aanbied, het die pappa vir haar gesê: “Ek weet julle is hier om te help, maar ons het julle nie vandag nodig nie”.

Sy het toe rustig terug gestaan en vir die geskokte gesin hulle spasie gegee.

Na ’n rukkie, het sy wel ingespring om seker te maak dat die hospitaal die situasie reg hanteer en vir die mamma en pappa van die oorledende al hulle regte en opsies gee rakende die dood van hulle kind.

Dit is ’n goeie voorbeeld van die onopvallende manier waarmee die verskeie slagoffers benader moet word.

Hulle stem saam dat al die gevalle op hul eie manier skokkend en onvergeetbaar is.

Mon Ami besoek ook gereeld skole om kinders wat hulp nodig het maar nie weet met wie om mee te praat nie, ’n kans te gee om uit te reik vir hulp oor ’n traumatiese gebeurtenis wat hulle beleef het of steeds besig is om te beleef.

“Soms wil slagoffers nie met vriende of familie praat oor wat hulle beleef het nie, maar eerder met iemand wat sal verstaan waardeur hulle gaan en wat hulle nodig het op daardie stadium.”

’n Vrye vertaling van die Griekse woord trauma is “wound to the soul.” En dit is wat die Mon Ami Trauma Troops in elke geval waarmee hulle werk, aanspreek.

Omdat hulle ’n nie-winsgewende organisasie is, maak hulle op donasies van die gemeenskap en besighede staat.

Hulle kan gekontak word by 073 653 4497 of traumatroopers@gmail.com.

Vir meer inligting oor die organisasie, besoek hulle webwerf by www.monamitrauma.co.za

Oos-Moot soek weer Noordvaal glorie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

tuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button