Skool vier 75e bestaansjaar met unieke liedjiefees
Oud-leerlinge van Laerskool Leipoldt deel staaltjies oor gratis lemoene, kaalvoetskooldae, rekspring en tuisgemaakte blou skoolrokke.
Net drie jaar na die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1948 het die eerste leerlinge agter houtbankies ingeskuif by Laerskool Louis Leipoldt in Lyttleton, Centurion sê bemarkingsbeampte Carla Coetzee.
Dié skool vier vanjaar sy 75e bestaansjaar.
Ter viering van die mylpaal hou die skool ’n liedjiefees op 5, 6 en 7 September om 18:30. Elke graad in die skool sal liedjies opvoer.
Coetzee sê die fees beloof om groot pret te wees.
“Ons wil elkeen in ons gemeenskap uitnooi om te kom voel hoe dit is om ’n Leipie te wees. Ons kry deesdae nie baie geleentheid om te ontspan en te sien hoe kinders die lewe geniet nie. Hier gaan gesing, gelag, gedans en geïnspireer word terwyl ons die lente en ons skool se 75e verjaarsdag vier.
“Kinders floreer op die energie van die gehoor, aanmoediging van ouers en onderwysers, so kom maak dit vir hulle en ons skool ’n hoogtepunt.”
Oud-leerlinge het staaltjies met Rekord gedeel.
Die skoolhoof van die afgelope agt jaar, Pieter Ferreira (58), vertel die skool is destyds deur lede van die gemeenskap en kerk gestig.
“Ons het hierdie aanhaling van een van die stigterslede van die skool, Mnr. A Skeen in ons argiewe gevind. Hy skryf: ‘Ons het die behoefte gevoel om ons eie skool in Lyttelton te hê aangesien ons kinders per trein na Irene of Pretoria moes reis om skool te gaan. In opdrag van die NG Kerkraad (toe die Pretoria-Suid NG Gemeente) het ek begin om ’n naamlys van al die kinders te maak. Ek het van huis tot huis, ook op Lyttelton-kleinhoewes, Clubview en Waterkloof gegaan om kinders en ouers in kennis te stel’.”
Op 21 Januarie 1948 het 168 leerlinge vir hul eerste skooldag aangemeld.
Daar was net drie personeellede, maar vandag spog die skool met ’n personeel van 86.
Dit blyk of talle van die onderwysers by die skool vandag bloot nie kon wegbly van hulle alma mater nie.

Ferreira is ook ’n voormalige leerling van die skool.
“Ek was sewe jaar oud, kaalvoet en met bakore. Ons het pouses albasters, kennetjie, yo-yo, ‘ding bat’ en brandbal gespeel. Skool was baie lekker en ons het pakslae gekry wanneer ons die dogtertjies geterg het,” onthou Ferreira.
Hy sê hy glo die skool is steeds ’n sukses omdat hulle nou nog glo ’n kind moet kan kind wees.
“Ek het kaalvoet skool toe gekom en meeste van ons kinders doen steeds. Ja, prestasie en akademie is belangrik maar kinders moet nog speel en lag.”
Hy glo hulle wenresep is die Christelike waardes wat die skool steeds uitleef, toegewyde onderwysers en betrokke ouers.
“Ons is kind-gesentreerd. Ons beoog ook dat elke kind ’n kans kry om deel te neem aan alle moontlike aktiwiteite sodat hulle hul belangstellings kan ontdek.”
Annemaré Janse van Rensburg (63) woon al 60 jaar in die omgewing en het vir 30 jaar by Laerskool Louis Leipoldt skool gegee.

Sy was in 1967 tot 1973 ’n leerling en sy het verlede jaar afgetree.
“Daar is dinge by die skool wat nog dieselfde is. Maar dit het natuurlik ook baie verander sedert ek daar skool gegaan het. Ek onthou mens kon nie die dogters se rokkies koop nie. Elke ma het self die skoolrokkies gemaak en dié blou materiaal en patroon was by ’n spesifieke winkel gekoop. Die truitjies, wat tot vandag toe nog dieselfde lyk, is ook deur ma’s gebrei,” vertel sy.
Sy vertel haar gunstelingspeletjies was rekspring en die seuns het in die stof albasters gespeel.
“En ons het jagertjie gespeel. Mekaar gejaag van dreindeksel tot dreindeksel,” onthou sy.
Sy onthou hoe hul eksentrieke musiekmeneer Mnr. Hoffman, altyd geklee in ’n swart pak, die klavier so hard gespeel het dat die klawers vasgehaak het.
“Hy het altyd gekla die klavier speel te sag en dan sou hy die agterkant oopmaak. Dit is dieselfde meneer wie ook Louis Leipoldt se skoollied getoonset het. Ek onthou nog die dag toe hy dit aan die hoof, JF Naudé, oorhandig het.”
Amanda Snyman (63), ook ’n onderwyser by Laerskool Louis Leipoldt en ’n oud-leerling, onthou hoe opgewonde hulle was wanneer hulle gratis melkkartonnetjies gekry het.
“Uitspan-lemoene het ook elke jaar vir elke kind ’n boks lemoene en pomelo’s gebring.”
Susan Booyse (63) gee al sedert die tagtigerjare skool by Louis Leipoldt en was ook ’n leerling in die skool.
“Dit is ’n voorreg om ’n groot gedeelte van my lewe, eers as skolier en toe as onderwyser, hier te kan deurbing.”

Bianca Wolmarans (22) is tans ’n onderwys-intern by die skool.
“Ek was in 2008 tot 2013 in die skool en my gunstelingding om pouses te doen was ook rekspring,” vertel sy.
“In Laerskool Louis Leipoldt voel mens soos familie. Ek dink dis hoekom soveel oud-leerlinge terugkom as onderwysers.”
Die Liedjiefees-kaartjies is beskikbaar by die skool teen R100 per persoon, kinders onder twee is gratis. Kaartjies sal tot 3 September te koop wees maar nié op die aand van die fees nie. Daar sal eet- en drinkstalletjies beskikbaar wees die aand en hekke maak reeds 16:00 oop.
Gemeenskap werk saam om swembad reg te kry vir die somer
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
