Local newsNews

Pretoria-sjef is altyd reg vir nuwe uitdagings

Vir sjef Ané Wait is 'n ewe groot uitdaging om teatergangers wat "gou ietsie soek om te eet' sowel as fynproewers se lekkerbeksmake en voorkeure in ag te neem.

Noem haar sommer die sjef in sneakers.

Want al het sy 11 jaar lank in ’n restaurant gewerk waar Franse kookkuns en lekkerbekkos fynproewers in Pretoria laat aansit, is Ané Wait nou in beheer van ’n teaterrrestaurant waar die eise aan haar kokvernuf anders is.

Om van Franse fynproewerskos na konferensie- en teatergangerkos oor te gaan is nogals ’n kopsprong en verg vinnige voetwerk.

Wait het eers by Brasserie de Paris in Waterkloof in die kombuis die septer as sjef geswaai.

Sy is sedert 2021 verbonde aan die teaterrrestaurant by die AfriForum-teater, Pronk, in die ooste van Pretoria.

Boonop is sy ’n drawwer wat al vir liefdadigheid ’n halfmarathon voltooi het. Dus om drafskoene te dra is tweede natuur.

Die eise om ’n prestige restaurant se kombuis te bestuur, het tydsgewys te veel geword toe haar kleinding Eben sy verskyning gemaak het.

“Ek moes net ’n plan maak. Die lang ure het net te veel geword.”

Vandag is dié buksie al ses jaar oud. Wait het as ma groot sukses met haar kleinding se eetgewoontes gehad.

Die sesjarige se gunstelingkos is heel verrassend broccoli!

Die oud-student van die Capital Hotel School in Pretoria sê sy is altyd reg vir ’n nuwe uitdaging. Die skuif was ’n avontuur.

Haar geesdrif vir kosmaak het in ’n kombuis in die Paarl begin. Hier het haar ouma, wyle Hettie Burger, elke Kersfees hoenderpastei gemaak met haar eie onfeilbare skilferkorsdeeg.

“Dit is ’n kuns wat min haar sal kan namaak,” meen Wait.

Ouma Hettie se watertand kosmaaktradisies voor die kospotte is in Pretoria voortgesit deur Wait se ma, Carina Gilson. Sy het by beide geleer.

“Elke sjef steel mos maar so met die oë!” meen Wait.

Sjef Ané Wait sit ook dikwels handjie by met die bestuur van Buffelsfontein Beesboerdery-restaurant en het met die samestelling van die kookboek “Rys, vleis en brandewyn” gehelp.

Sy hou ook steeds ’n ogie oor die restaurant by Buffelsfontein Beesboerdery waar haar man, Ichnus, by betrokke is.

Wanneer nodig, sit sy ook handjie by by’n kosinisiatief van die familieboer-organisasie Saai, Lamb Champs en het op die Lamb Champs TV-reeks verskyn.

Sy het ook gehelp met die samestelling van die Buffelsfontein Beesboerdery se resepteboek Rys, vleis en brandewyn.

Dit het haar ’n rukkie geneem om haar voete te vind by teatergangers se sonder-fieterjasies-smake-en-voorkeure.

“Pronk het oopgemaak net nadat Covid-19 verby is. Dit was ’n wipplankjaar. Ons het begin met vingerkosborde want teatergangers sê altyd hulle wil gou ietsie eet.”

Die vernuftige Wait kon egter mettertyd meer van haar sjefvernuf inspan en op die spyskaart begin uitbrei.

Vandag is een van haar kenmerkende disse by Pronk ’n smullekker Griekse lamsburger met ’n pikante tzatziki-sous.

Sy meng en maak self die geurige hamburgerfrikkadelle met ’n mengsel van songedroogde tamaties en vars kruie soos kruisement.

Vir haar flatervrye wortelkoek-met-’n-verskil, wat in Pronk bedien word, het sy in teenstelling met die tradisionele roomkaasvulsel, ’n gladde meringue-vulsel.

Die Pronk-teaterrrestaurant vier Afrikaans in sithoekies vol spreekwoorde en prettige woorde.

Hier is nou egter een troukoekbakker met min ooghare vir fondant as versiersel.

“Ek sal jou droomtroukoek maak, maar nie met fondant nie! Vreemd tog hoe lief kinders daarvoor is.”

Sy voel die restaurant kom ook tot sy reg wanneer ’n wynproe aangebied word.

Vir ’n sjef wanneer dit by kos-en-wynparing kom, verkies sy wildsvleis by Pinotage-wyne en vis of hoender by ligter wyne soos Chardonnay.

“Maar ek verkies om eers die wyn te proe en dan die gereg daarby aan te pas,” sê Wait.

Sy hou ’n ywerige oog oor die vloei van die teaterrestaurantkombuis, net vir ingeval sy moet nader draf in haar drafskoene.

“Ek verkies altyd ’n aparte voorbereidingsarea. Wanneer die teatergangers eers inkom, moet geregte vinnig tafels toe kan beweeg.”

Tuis kook sy graag op gas. Sy glo self in ’n gesonder spyskaart, maar moet ook die kosvoorkeure van haar huisgesin in ag neem.

Haar hartsbegeerte as ’n sjef is om ’n roomysmaker, die “blast chiller” te besit wat binne ’n minuut ryk en romerige bestanddele kan omtower tot smullekker roomys.

“En daar gaan my voorneme by die venster uit om gesonder te eet!”

– Kliek hier om te sien hoe om ’n hamburger met ’n Griekse geurtjie te maak: https://protect-za.mimecast.com/s/0TiiCO792xFwXYoAuE7bSK?domain=youtu.be

– Kliek hier om een van Wait se besonderse koekskeppings te sien: https://www.instagram.com/pronkrestaurant/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button