Local newsNews

Centurion-sanger se gehoorgestremdheid hou haar nie terug nie

Zoé Jacobs het binne 'n jaar opgang gemaak met haar eie liedjies na ’n talentsoeker haar raakgesien het.

Sprankelende nuwe ster van Centurion, Zoé Jacobs, is kleintyd met gehoorgestremdheid gediagnoseer.

Vandag sing en dans die nuwe ster en boorling van Tzaneen in Limpopo egter asof die ooroperasies in haar verlede en haar kleintyd-gehoorapparate vergete is.

Sy moet voor ’n optrede die klankingenieur vertel sy kan nie haarself goed genoeg hoor nie.

’n Stel binne-oorklankapparate maak dit moontlik vir haar om die musiek goed te hoor.

“En dan moet ek onthou om die klankingenieurs te vra om die monitors vir die klank heeltemal oop te maak.”

Niks hiervan het haar verhoed om vanaf verlede jaar tot nou met haar musiekloopbaan te woeker nie.

En volgende maand pluk sy die vrugte van haar toewyding.

Op 8 September open sy vir bekende kletsrymer, Snotkop, by Hoërskool Waterkloof se Musiekfees.

Sy tree ook in Oktober by die Afrikaanse kunstefees Aardklop op.

“Ek het hierdie jaar geleer mens moet ander mense in die musiekbedryf leer ken en uitreik. So gaan die deure oop,” sê die brunet in haar 20s.

Sou sy haar gesteur het aan die gespot en boelies op Laerskool Tzaneen, kon sy nie nou met drie suksesvolle enkelsnitte en video’s spog nie.

Die gespot het haar daartoe gedryf om op hoërskool haar gehoorapparate vir eers weg te pak.

Die lirieke en melodieë van haar enkelsnitte het sy self geskryf.

Jacobs het haarself op die klavier leer tokkel en eers vanjaar met sanglesse begin.

Danslesse was 17 jaar lank deel van haar lewe.

Sy lag rinkelend as sy dink aan haar eerste optrede toe haar ma ook haar hart in Jacobs se weergawe van Abba se Dancing Queen gegooi het.

“Dit was in graad 1 met my eerste optrede. Ek en my suster het al die regte klere en tamboeryne gehad vir die kultuuraand by die laerskool.”

Die droom om voltyds sanger te wees, het vorm aangeneem in die Aspatat-kleuterklas.

“Ek het ’n plakkaat van popster Hannah Montana teen my muur gehad om die droom lewendig te hou.

Sy is die eerste om op haar openhartige manier te erken sy het ’n unieke geleentheid gekry om die musiektoneel te betree.

Op die TV-talentkompetisie Die Kontrak kon sy nie die lys van finaliste maak nie.

Jo Black het haar egter raakgesien en genooi om op sy TV-program Doodgewone Jo te kom optree.

Hier het ’n platemaatskappy se talentspeurders die aantreklike en spontane donkerkop raakgesien.

Toe Vonk Musiek/Cooler box Records se verteenwoordigers haar vir ’n oudisie verlede jaar in September gebel het, het Jacobs gedink iemand bak haar ’n poets.

Die tweede oproep het haar oortuig sy moet haar tassies pak om in Boksburg drie van haar eie liedjies tydens ’n oudisie te gaan sing.

Sy het op drie van haar eie liedjies besluit: “Crazy Meisie”, “Lief hê” en “Hier”.

Hiermee het haar loopbaan momentum gekry.

In dié stadium was Jacobs ’n assistent-kunsjuffrou by haar skool op Tzaneen.

Zoé Jacobs van Centurion het haar nie deur haar gehoorgestremdheid of boelies laat terughou nie.

Kuns was op skool haar tweede liefde.

“Ek was daai bleeksiel kultuurvraat op skool met al die balkies,” dink Jacobs nostalgies terug.

Toe sy die keuse moes maak om in die “groot stad” haar loopbaan te begin en kuns te los, het Jacobs self aan deure begin klop.

Haar ouers, Larissa Jonker en Meyer, was skepties of sy sukses sou kon behaal.

“Maar hulle het geweet wie ek is en hoe ek grootgemaak is. Ek het ook geweet die Here het die geleenthede oor my pad gebring. Ek moet die kanse net raaksien en benut.”

Vandag is sy nie spyt sy het met vasberadenheid die jaar lange pad aangepak nie.

“Ek het nou ’n stabiele inkomste. Nie te sleg vir die meisie wat met ’n borsel as mikrofoon video’s kleintyd gemaak het nie. Of haar liedjies in die bad met ’n selfoon te skryf nie!”

Sy neem nou sanglesse by Yolande Bekker en vind haar voete in Pretoria. Sy het reeds by vermaakplekke soos die Sowaar Bar en Cafe Railways opgetree.

Sy kyk sonder bitterheid terug na die jare toe boelies fluitjies in haar ore met gehoorapparate geblaas het en ’n seer kringfluit veroorsaak het.

“Jy kan nie in die mure voor jou vaskyk nie. As mens kla, gaan jy nêrens kom nie.”

Kliek hier om Jacobs se liedjie “Crazy Meisie” te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button