Geliefde geestelike leier vir 20 jaar vader van stilkerkbeweging
Willem Nicol is nou reeds 20 jaar besig om sy stilkerkdienste in veral Pretoria-oos te bevorder, maar staan ook bekend as die vader van die peinsende beweging in die NG Kerk.
Wanneer dr. Willem Nicol van die NG Kerk Stellastraat soggens die verkeer op die hoofweg van sy netjiese aftreewoning in Pretoria-oos hoor, wonder hy hoe moet dit voel om so vroeg in die oggend al onderweg te wees en laataand eers terug te keer.
Vir Nicol, ’n voorstander van ’n peinsende leefstyl, is ’n gejaagde leefwyse al vir jare taboe.
Hy organiseer en begelei vanjaar al vir amper 20 jaar sonderlinge stil, meditatiewe dienste by die Stellastraat NG-gemeente om 18:00 op ’n Sondagaand.
Hy glo aan die oopheid van die oomblik.
“As jy betekenisvol wil leef, moet jy jou vir die oomblik oopstel. Dan lei als in ’n verdiepende rigting.”
So ’n stadiger, meer bewuste manier van lewe is sy medisyne vir lewensvoosheid.
“Ek dink baie mense in Pretoria ly aan prestasie-siekte. Hulle wil baie doen en hulle wil dit vinnig doen. Watter soort lewe is dit?”
Nicol se stil dienste het ’n stemming en atmosfeer van hul eie.
Gedurende só ’n diens is daar nie ’n preek nie.
Diegene wat dit bywoon word tot eie, diepe nadenke van hul eie gelei by wyse van digkuns, eenvoudige gebedsange en ’n Bybelteks wat bloot op ’n skerm vertoon word.
“Dis nie iets anders as wat ons ken nie. Die bekende word net intenser beleef. Jou geloof word sterker deel van jou lewenservarings.”
Nicol verduidelik in sy jare van stilkerkbegeleiding het klein getalle opgedaag vir die meditatiewe dienste maar die behoefte daaraan is konstant en groei op sekere plekke.
Ook ander gemeentes soos die NG Kerk Lynnwood, die NG Kerk Pretoria-Oos en die onafhanklike kerk Mosaiek het vir lidmate met so ’n instelling begin voorsiening maak.
“Die behoefte is eg en sterk. Mens moet gehoor daaraan gee.”
Nicol sê as die gewoonte vir ’n meer peinsende leefstyl eers by ’n gelowige posvat, kan dit ’n sterk oortuiging word.
“Dikwels help ’n gewoonte van daaglikse doelbewuste stilword met die Here mense in dié rigting. In die stilte beleef baie mense hulle geloofsinhoude dieper,” meen Nicol.
Hy word beskou as die vader van so ’n peinsende benadering in die NG Kerk.
Hy het ook die Sentrum vir Spiritualiteit van die Ring van Suidoos-Pretoria begin.
Die sentrum bevorder ’n peinsende lewe by wyse van toevlugsoorde en stil byeenkomste.
Die rol van ’n stil kerkleier is ’n mantel wat gemaklik op Nicol se skouers rus.
Hy het kleintyd van stiltetyd gehou. Sy evangeliese pa, William Nicol, ook later administrateur van die destydse Transvaal-provinsie, het die voorbeeld gestel.
“My pa het geglo ons maak godsdiens te kompleks. Wat belangrik is om te glo jy is God se kind en om sy wil te doen.”
Hy het self in 1982 meer ernstig met die stil Bybel-meditasie op persoonlike gebied begin.
Hy was studenteleraar by NG Universiteitsoord vir 30 jaar.
Die lewe was egter nie altyd so rustig vir Nicol nie.
Hy was een van die stemme in die tagtigerjare wat in die kerk teen apartheid opgestaan het.
“Ek het geweet die politieke sisteem is verkeerd en ’n wrede idee. Ek het die idee van aparte aanbidding veral sterk teengestaan.”
Nicol is ook ’n skrywer wat wyd publiseer. Daar is al 12 boeke uit sy pen gepubliseer: Gebed van die Hart, In die hande van die Pottebakker, Oop vir die Oomblik, Gegryp deur Christus, ’n Dieper Dors, Genooi om te Volg en Verby ons gedagtes, om maar net ’n paar te noem.
Vorentoe hoop Nicol om gelowiges te help om met ’n meer peinsende leefstyl ’n sinvolle lewe te lei.
“So ’n leefstyl speel oral in die praktyk uit. Jy word oper vir die oomblik en beleef die rykdom van die oomblikke waaruit jou lewe bestaan. Jou sintuie word gevoeliger vir die natuur en jy kom nader aan jou kontak met mense.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
