Local newsNews

Montana se braaikoning is vuur en vlam om te wen

Van 'n visbraai tot by sy eie wildsbobotie op die kole – hierdie rekenmeester weet hoe om die somme rondom ’n kampvuur te laat klop.

Eenkant staan die roker waarmee braaikoning van Pretoria-Noord en geoktrooieerde rekenmeester Joubert Spies dikwels sy dik stukke vleis vir ses tot twaalf uur rook om ’n spesiale geur en kleur daaraan te gee.

Sy agt braaiers is regoor sy Pretoria-Noord Bosveldtema-huis met sy koel stoepe onder die doringbome versprei.

Want dié deelnemer in kykNET se TV-werklikheidprogram Kokkedoor: Vuur en vlam speel nie wanneer dit by die tradisies van braai kom nie.

Spies, of Jouba soos sy vriende hom noem, ken van uithaal en wys wanneer hy braai.

Maar hy gee darem nie om om so hier en daar met finesse en flair sy eie stempel af te druk nie.

Soos om die krui vinkel in sy smullekker tuisgemaakte wors te gebruik. Of om ’n wildbobotie op die vuur te maak.

Hy skrik ook nie om orgaan- of boerbokvleis op die kole te gooi nie.

Spies erken self hy is heel mededingend. So was dit ook lekker vir hom om episode 5 se Groot Steak Challenge saam met sy spanmaat, Cindy Menigo, te wen.

“Van kleins af is ek geleer ek moet my beste lewer,” merk hy op terwyl hy nog ’n stukkie hout op die vuur sit en dit met ’n kennersoog bekyk.

Die boorling van Secunda ken ook sy hout so goed soos die formules waarmee hy as rekenmeester sorg vir sy kliënte se geldsake en besighede.

Saam met ander deelnemers in die program het hulle vir 13 episodes deur kategorieë soos visbraai en gatbraai hulle braaivurke geswaai met die hoop om as Kokkedoor gekroon te word.

In die kompetisie word ’n braaikenner (die kinkelbraaier) en ’n tuiskokbraaier (die onthoubraaier) in spanne gekombineer om teen mekaar mee te ding.

Daar veroorsaak die reeks nog amper familiemoles ook. Spies moes teen sy voedselwetenskaplike susterskind, Lara van der Merwe, deelneem.

“Ons kon darem die pyn en opwinding deel,” lag hy en draai die wildsvleiswors behendig om.

Joubert Spies gebruik dikwels sy roker om vleis te rook voordat hy dit braai.

Kyk, vir Spies haal jy nie oor die kole wanneer dit by braai kom nie.

Sy pa, Johan, het hom die fynere kunsies reeds as ’n seun geleer, al was braai vir hom as jong seun ’n groot bederf.

Sy ma, Judith, weer het altyd reggestaan om kos te maak vir haar seun wat lief is vir eet.

“Sy het dit so geniet as mens lekker eet,” sê die pa van twee kleingoed, Ale en Arlouw, en eggenoot van Rone.

Hy glo egter jy kan amper van enige vleis ’n feesmaal maak.

“Kies ’n spesery en ’n marinade wat werk, maar gebruik dit om die vleis se natuurlike smake te ondersteun en nie oor te neem nie.”

Sy droom is juis om saam met ’n vriend, Roelie Gey van Pittius, onder hul nuwe handelsmerk, Hangry, sulke produkte op die rakke te plaas.

Spies verkies om vleis van die platteland op die vuur te gooi, want daar ken jy nog jou slagter op die naam.

Stap hy by ’n slaghuis in, is dit C-graad vleis van beeste wat hy koop.

Joubert Spies is een van die deelnemers van die kykNET TV-program ‘Kokkedoor: Vuur en Vlam’.

“Ek verkies vleis van ouer veldbeeste met geelvet.”

Wanneer dit by skaapvleis kom, is sy voorkeur tweetandskape se vleis.

Ten spyte van al die persoonlike voorkeure en smake, glo hy aan eenvoud om die kampvuur.

“Moenie braai te ingewikkeld maak nie,” sê hy en bied ’n stukkie ‘bukwors’ aan. Jy weet mos: Die stukkie sappige wors wat jy so vooroor buk wanneer jy dit warm vanaf die braairooster eet.

Beslis een van die braaikoning van Pretoria-Noord se talle spesialisdisse.

Jouba se braaiwenke

– Om wors te maak het jy goeie vleis en goeie vet nodig. Die vleis moet fyngemaal wees en jy moet nie die senings of vet proe nie. Gebruik eers die growwer stelling op die maalmasjien en maal dit dan daarna weer fyner saam met die vet en speserye. Maak jou eie speserymengsel na smaak en moenie skrikkerig wees om tradisionele speserye soos koljander eenkant toe te skuif vir kruie nie. Met wildswors is dit veral nodig om goeie kwaliteit vet in te meng. Winddroog die wors voor jy dit braai.

– As jy hout gebruik, maak seker dit kom van ’n volhoubare bron. Moenie hout van skaars spesies houtsoorte gebruik nie. Die goedkoper, indringerhout is heeltemal aanvaarbaar

– As jy wonder of jy genoeg kole het, het jy te min. Gooi nog ’n knertsie kole en nog ’n stukkie hout op die vuur.

– Almal kan betrek word by die maak van potjiekos. Dit is die vryste vorm van braai. Jou potjie se eindresultaat moet so wees dat jy elke liewe bestanddeel op sy eie kan proe. Om dit reg te kry: Werk in lae, met elke laag wat ’n halfuur kook op die kole voordat jy die volgende laag byvoeg. Begin met uie en vleis onder, dan die harde groente soos aartappels en wortels, en rond af met sagte groente soos murgpampoentjies. Jou sous vir ’n pot is jou keuse, maar gooi dit so halfuur voor die einde by.

Kokkedoor: Vuur en Vlam word Donderdae om 20:00 op kykNET-kanaal 144 uitgesaai.

– Kliek hier om Spies tydens ’n program in aksie te sien: https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/kokkedoor-vuur-en-vlam/seisoen/1/ontmoet-joubert-spies-kokkedoor-vuur-vlam-onthoubraaier/video

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button