Openbare deelname kritiek om aansoek oor steenkoolmyn naby Rietvlei in perspektief te bring
Omgewingsbewustes en inwoners van wyk 91 word deur 'n raadslid en drukgroepe versoek om 'n openbare deelnamevergadering oor die toestaan van 'n moontlike lisensie om steenkool te myn naby die Rietvlei-reservaat en -dam by te woon en hul besware daarteen te lug.
Verskeie oproepe is sedert die bekendmaking van ’n konsep basiese impakbepalingsverslag rondom die myn van steenkool naby die Rietvlei-natuurreservaat en -dam gemaak op beswaardes en ontstoke omgewingsbewustes om deel te neem aan die openbare bekendmakingsproses.
Daar is ook ’n ernstige beroep gedoen om die bespreking van die verslag op ’n openbare vergadering op 8 September by te woon.
Raadslid vir wyk 91, Henning Viljoen, vra kiesers in sy wyk en omgewingsaktiviste om egter koelkop te bly oor die voorlegging van die verslag as ’n voorloper vir ’n mynlisensie-aansoek.
Viljoen sê hy het verlede week ’n vergadering met die opstellers van die verslag, Licebo Environmental and Mining, gehad om meer inligting rondom die feite in die impaksudie en die aansoek van baksteenvervaardiger Corobrik, te kry.
“Dit blyk uit ons gesprek hierdie voorlegging is nog nie ’n in-diepte omgewingstudie nie. Die Departement van Minerale Bronne en Energie se opdrag aan die omgewingsimpakbepalingspraktisyn was blykbaar om net ’n basiese verslag saam te stel,” verduidelik Viljoen.
Uit die verslag is dit duidelik dat die kleimyn van Corobrik se bestaande mynreg slegs ten opsigte van klei geld.
Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het egter vroeër vanjaar die myn aangemaan om ’n terugwerkende aansoek vir omgewingsmagtiging in te dien.
Die stap is geneem nadat dit aan die lig gekom het dat steenkoolreserwes wat gedurende die kleimyn se normale bedrywighede ontbloot is, sonder die nodige magtiging gemyn word.
Hierdie aansoek is aan ’n basiese impakbepalingsproses onderworpe en die verslag is tans vir openbare kommentaar beskikbaar.
Viljoen sê hy was verbaas toe hy ’n geruime tydjie gelede van omgewingsaktiviste in sy kiesafdeling van die moontlike aansoek om die mynlisensie verneem het.
“Van die eiendomsontwikkelaars in die omgewing het hul kommer daaroor met my bespreek sowel as waterkenners. Daar is ook besorgdheid van die aktiviste se kant oor die stabiliteit van die damwal sou daar moontlik skietwerk plaasvind,” benadruk Viljoen.
Hy woon naby aan die reservaat en voel die aangeleentheid moet verantwoordelik en met tersaaklike inligting ter hand benader word.
“Uit die beskikbare inligting ten gunste van die aansoek in die verslag, kon ek egter aflei daar is nie veel kans dat die departement die aansoek van die hand gaan wys nie. Die aansoek blyk vir ’n oopgroefmyn te wees. Daar word beweer dat hierdie myn nie waterkwaliteit sal beïnvloed nie.
“Ek is versigtig optimisties dat dit nie afgekeur gaan word nie, tensy ’n deeglike studie en evaluering van die impak die teendeel as die huidige verslag bewys.”
In die lig hiervan, het Viljoen ’n beroep gedoen op alle kiesers in die omgewing, sowel as diegene wat bekommerd is oor enige impak op die Rietvlei-reservaat, om die openbare vergadering by te woon en hul besware te lig.
Hy raai aan die publiek moet ook aandring op ’n volledige verslag.
“Ons sal hierdie saak objektief eerder as emosioneel moet benader. Gebruik hierdie geleentheid,” versoek Viljoen.
Hy het onderneem om, indien daar enigsins ’n gevaar vir die gemeenskap is, die saak vorentoe te neem na die nodige owerhede en om die aansoek teë te staan.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook omgewingsbeswaardes aangemoedig om die openbare vergadering by te woon.
Die organisasie is bekommerd oor die omgewingsimpakstudie wat volgens hul kenners gebrekkig is.
Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake, sê hulle is bekommerd omdat die impakbepalingsverslag deurspek is van teenstrydighede.
“Dit wil voorkom asof gedeeltes van die teks sonder enige aanpassing uit ander verslae gekopieer is. Indien dit werklik die geval is, is dit plagiaat en bedrog,” sê De Vaal.

De Vaal het enkele voorbeelde hiervan uitgelig.
Hy benadruk op een plek word daar gesê die aansoek word gedoen vir omgewingsmagtiging en ’n watergebruikslisensie, terwyl daar op ’n ander van ’n afvalbestuurslisensie gepraat word.
“Op ’n ander plek word daar gesê daar is vyf jaar se steenkoolreserwes, terwyl daar teenstellend later gesê word daar gaan vir 30 jaar gemyn word,” sê De Vaal.
Vir hom is sulke onvoldoende navorsing verder ’n kommerwekkende tendens wat in al hoe meer aansoeke vir omgewingsmagtiging raakgesien word.
Hy meen dit skep ’n gevaar dat die bevoegde owerheid se besluit om magtiging toe te staan al dan nie op ongegronde feite gebaseer sal word as die publiek nie teen sulke gebreke beswaar maak nie.
Hy het die publiek gevra om betrokke te raak en om ook as belanghebbendes en geaffekteerde partye te registreer om hul besware te lug.
– ’n Openbare deelnamevergadering vind Vrydag 8 September om 11:00 by die Pretoria Seiljag klub by Rietvlei Dam plaas.
– Die sluitingsdatum vir die publiek om kommentaar te lewer is 26 September.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
