Local newsNews

Vrywilligers laat waai met besems om swembadvloer veilig te kry vir oopstelling

Danksy 'n handjievol vrywilligers en 'n swembadsuperintendent kan die swemmers van die Moot bes moontlik vandeesweek induik in die Tjaart van Vuuren-swembad, maar nie alle metro-swemmers is so gelukkig om oopgestelde openbare swembaddens te kan geniet nie.

Inwoners van die Moot kan uitsien om dalk nog vandeesweek die Tjaart van Vuuren-swembad te gebruik nadat die weldoenersprojek om die teëls te vervang, geslaag was.

Die water is reeds die naweek ingelaat en die swembad was Maandagoggend vol – alhoewel nog groen.

Christopher Zungu, die swembadsuperintendent, het aan Rekord gesê basiese instandhoudingswerk moet nog aan die pomp gedoen word.

Hy sal dan daarna chemikalieë gebruik om die water swemveilig te maak.

“Ek moet ’n filtrasiepomp vervang en sal daarna chloorgas gebruik om die swembadwater swemgereed te kry,” verduidelik Zungu.

Hy het in Augustus hande gevat met vrywilligers in die buurt onder leiding van swemafrigter Duane Seymore en Dirk Jordaan.

Meer as agt vierkante meter teëls en teëlsement is deur skenkings bekom om toe te sien dat die swembad in September reg is vir gebruikers.

Die vrywilligersgroep het ook saam met die superintendent in Augustus ingespring om die gebreekte teëls te verwyder en te vervang.

Die pas afgelope naweek het lede van die gemeenskap en personeel ook, voordat die water ingetap is, seker gemaak die swembadvloer is deeglik gevee om van die orige teëlsement en stukkies gebreekte teëls ontslae te raak.

Seymore sê dit was goed om te sien hoe almal saamgestaan het om toe te sien dat die swembad alreeds in September weer vol en veilig vir swemmers is.

“Ek is so bly die swembad is nie sonder water nie. Ons sal egter volgende seisoen bes moontlik weer met die herstelwerk moet voortgaan aangesien die volle swembad eintlik met nuwe teëlsement oorgedoen moet word,” sê Seymore.

’n Duikinstrukteur het ook aangebied om die pompkleppe te vervang sodat sy duikskool van die diep kant van die swembad gebruik kan maak.

Nie alle swemmers en swembadgangers in Pretoria kan egter hierdie seisoen verwag om ’n skoon en vol swembad aan te tref as hulle naderstaan nie.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die volgende swembaddens sal nie in September vanjaar open nie: Club Rendezvous, De Jong, Sunnyside, Atteridgeville, Les Marais, en Saulsville.

“Die stad sal bepaal en aan gebruikers kommunikeer op watter datums die swembaddens oopgestel sal word vir die publiek. Ons doen die stappe om toe te sien dat alle oopgestelde swembaddens lewensredders het en aan veiligheidsvereistes voldoen.”

Voor: Gedurende Augustus het die gemeenskap van Villieria nog min moed gehad dat die Tjaart van Vuuren-swembad oopgestel kon word in September.

Mashigo verduidelik dat swembaddens toe bly as gevolg van ’n gebrek aan personeel, kontantvloei-prioriteite van die metro, onafgelewerde chemikalieë en swembaddens wat onveilig is as gevolg van ’n gebrek aan onderhoud.

Die totale metrobegroting vir swembaddens in Tshwane beloop R19-miljoen.

“Die enigste uitgawes wat reeds aangegaan is, is uitgawes om swembaddens vir die seisoen gereed te kry en die verhitting van die Hillcrest-swembad in die pasafgelope winter.”

Die metro het tans 29 lewensredders in diens, wat volgens Mashigo met die aanbreek van elke seisoen opnuut ’n vaardigheidstoets moet ondergaan.

Mashigo wou nie spesifieke redes gee hoekom alle poste vir lewensredders nie tans gevul is nie.

“Die metro glo die stad is voldoende voorsien en is tevrede met ’n aktiewe en voorsien-soos-en-wanneer nodige tender om interne kapasiteit aan te vul.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button