Local newsNews

Sport-entrepreneurs belê groot in nuwe balspel

“Dis asof tennis en muurbal ’n baba gehad het.”

Die balle klap reeds vir ’n week op die vier pasgeboude padelbalbane by die Wingate Park private klub as ’n voorloper vir die amptelike opening op 9 September.

Indien jy nog altyd gewonder het oor padelspel, die gier wat nou al vier jaar in Suid-Afrika posvat onder veral tennisliefhebbers, is hierdie vier bane die plek om iemand vir ’n potjie te nooi.

Mede-eienaar van die Proactive-padelklub, Tammy Pieters, verduidelik die spel is “asof tennis en muurbal ’n baba gehad het”.

Die bane is aan die agterkant soos muurbalbane toegemaak, met spesiaal aangepaste glas en verder omring met stewige staalheinings.

Met padelspel en tennis word daar op dieselfde manier telling gehou, twee kante van die baan word met ’n net geskei maar die spelers het aangepaste rakette en balle nodig.

Met die nuwe spel slaan jy egter nie oor jou skouer af soos met tennis nie. Nadat jy die bal een keer met jou hand laat bons het, moet jy dien deur die bal van onder af te moker.

Met die terugslaan van ’n bal, mag jy toelaat dat die bal net een keer bons voordat jy dit weer oor die net slaan. As die bal een keer gebons het en dan teen die glas bons, moet jy die bal direk van die glas terugslaan, voordat die bal ’n tweede keer kan bons.

Pieters is ’n voormalige professionele tennisspeler en tennisafrigter.

Sy het reeds soortgelyke bane in Irene by haar tennisskool gevestig waar veral gesinne saam kom speel.

Padelbalsport is nog nuut in Suid-Afrika. Padelbalspelers speel maar nog net so bykans vier jaar die spel nadat bane in Kaapstad en Johannesburg gebou is.

Pieters het juis die spel in Kaapstad raakgesien voordat sy besluit het om die sport na Pretoria te bring.

Bemarkingsbestuurder Kim Kasselmann en baanassistent Lehlogonolo Mashaba.

Vir haar het die speel van padelspel talle voordele.

“Mens hoef minder fiks te wees as met tennis en het meer soepelheid nodig. Dis dus ’n ideale spel vir sportliefhebbers wat daarteen opsien om superfiks te word voordat hulle deelneem,” vertel die spelfikse Pieters.

Nog ’n voordeel is dat jy nie aan ’n klub soos die Wingate Klub hoef te behoort om te kan speel nie.

Besprekings kan deur alle sportliefhebbers per ’n rekenaaraanpassing gedoen word.

’n Volledige spel met vier spelers neem sowat ’n uur.

Pieters glo die sport kan so gewild in Pretoria-oos word dat hulle gou ’n liga, sowel as toernooie, sal kan instel.

“Dit is ’n gewilde spel vir families. Ouers en kinders kan saam op een baan speel omdat die bane die helfte van ’n tennisbaan se grootte is,” verduidelik sy.

Kim Kasselmann, die bemarkingsbestuurder van Proactive Padel, is geesdriftig oor die toekoms van die spel. Die bou en opening van die bane het haar ’n tweede asem gegee.

“Ek was ’n huisvrou vir 14 jaar en het besluit om die leënessindroom te vermy. Ek en my eggenoot het as mede-eienaars in die spel belê,” sê Kasselmann.

Die bou van die bane, sowel as ’n winkel om sportbenodigdhede vir die spel aan te koop, het sowat R5-miljoen gekos.

Kasselmann voorsien dat die spel veral gewild sal wees onder damesgroepe en korporatiewe spanne wat wil spanbou.

“Die sosiale aspek van die spel is belangrik. Met die kleiner baan kan jy maklik kommunikeer en pret maak,” benadruk Kasselmann.

Tammy Pieters swaai haar padelbalraket op die nuwe padelbalbane in Pretoria-oos. Die aangepaste raket het nie snare nie en is groter en ronder as ’n tennisraket.

Sy staan ook aan die hoof van die winkel waar sporttoerusting vir die spel te koop is.

Padelspelrakette is groter en ronder as tennisrakette en het geen snare nie, maar het wel gate op die raketoppervlak.

Die balle is kleiner as tennisballe en die druk daarbinne is laer, sodat dit minder bons en dus meer in die spel gehou kan word.

Brand Theunissen, ’n bestuurskomiteelid van die Wingate Park private klub, sê hulle verwelkom die belegging in die toekoms van sportliefhebbers wat die klub se geriewe gebruik.

“Ons het die besluit geneem om vanjaar pro-aktief geriewe uit te brei met ook veranderings aan die verskeidenheid van sportsoorte wat by die klub aangebied word. Padelspel was vir ons ’n logiese uitbreiding.”

Theunissen beklemtoon dat die spysenieringsgeriewe ook opgeknap is. ’n Nuwe spysenieringsbestuurder is aangestel om aan die groter wordende aantal besoekers ’n ligte maaltyd na hul potjie padelbal aan te bied.

“Dit is ook ’n bewys dat die klub van krag tot krag gaan,” sê Theunissen.

– Kliek hier om die eerste punte te sien wat op die nuwe bane aangeteken is:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button