Local newsNews

Vullisfiasko: Organisasie help met vullisverwydering in twee buurte

Selfdoen-inisiatiewe het 'n vullisfiasko in twee buurte tydens die Tshwane metro vullisverwyderingskrisis verhoed.

Te danke aan selfdoen-inisiatiewe in Moreletapark en Pretoria-Wes, is die twee voorstede nou skoner en meer higiënies.

Terwyl ’n onbeskermde staking in die Tshwane-metro voortwoed, is noodsaaklike dienslewering in dié munisipaliteit – soos die verwydering van vullis – so te sê tot stilstand gedwing.

Vullisverwydering in dié en ander buurte is drie weke gelede gestaak weens stakende munisipale werknemers se intimidasie van kontrakteurs verantwoordelik vir vullisverwydering.

Twee takke van AfriForum het leiding geneem om handjie by te sit en het die projekte elk op ’n unieke manier aangepak.

Moreletapark se tak het ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy aangestel om op 9 September verligting in gebiede te bring waar vullis sowat vier weke laas verwyder is.

’n Totaal van 2 000 dromme se vullis is binne sewe ure in Moreletapark verwyder na ’n private stortingsterrein van ’n vullisverwyderingsmaatskappy.

Hiervoor het die tak meer as R100 000 aan die firma, wat verkies om anoniem te bly, betaal.

Die tak het ook gehelp om die vulliswaens tydens die verwydering veilig te hou.

“Ons verstaan dat die huidige onwettige staking net nóg meer druk op die Tshwane metropolitaanse munisipaliteit plaas om dienste in hierdie metro te lewer. Dit is wel binne ons plaaslike tak se vermoë om hierdie verligting en hulp aan die gemeenskap te bied,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

’n Privaat vullisverwyderingsmaatskappy is deur AfriForum aangestel om op 9 September verligting in gebiede te bring waar vullis sowat vier weke laas verwyder is. ’n Totaal van 2 000 asblikke se vullis is binne sewe ure in Moreletapark verwyder.

Die organisasie se Pretoria-Wes-tak het ook op 4 September ingespring om die vullisfiasko in die Danville-gemeenskap te beredder.

Taklede het vragmotors en werknemers wat vullisverwydering hanteer, op hul roete in dié gebied begelei en gehelp om vullisdromme leeg te maak.

Verskeie vullisvragmotors is reeds tydens die staking aan die brand gesteek.

Die Pretoria-Wes-tak van afriForum het met begeleiding toegesien dat die ses vragmotors wat opgedaag het in die Danville-gebied hul werk veilig kon verrig.

Dit het volgens die Tshwane-metro daartoe gelei dat kontrakteurs hul dienste onttrek het.

“Die staking woed nog sterk. Intussen staan basiese dienste wat aan lede van die publiek gelewer moet word, heelagter in die ry. Gemeenskapslede wat reeds hul sente omdraai, moet nou nog dieper delf om self in te staan vir dienste wat die Tshwane-metro eintlik moet lewer.

“Ons wou hiermee help,” verduidelik Dewet Ungerer, koördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button