Local newsNews

Beswaardes gefokus om Rietvlei-mynaansoek te stuit

Besware oor ’n breë spektrum is geopper deur omgewingsaktiviste, inwoners, sportlui en boere tydens die openbare deelnemingsvergadering rondom die uitbreiding van ‘n mynlisensie naby Rietvleidam en -reservaat.

Gemoedere het hoog geloop tydens die onlangse openbare prosesvergadering oor baksteenvervaardiger Corobrik se aansoek rondom die uitbreiding van hul mynlisensie vir klei.

Corobrik het tydens die vergadering ’n konsep-omgewingsimpakstudie aan die publiek voorgelê om ook die myn van steenkool in te sluit op hul terrein naby aan die Rietvleidam en -reservaat.

Die uitvoerende bestuurder, Nick Booth, het aan die meer as 100 beswaardes verduidelik die voordele is werkskepping, die verlenging van die lewe van die kleimyn met 13 jaar en verlaagde uitgawes vir sy maatskappy.

“Ons wil nie ’n steenkoolmyn oopmaak nie. Net die bestaande operasie uitbrei om die steenkool uit te haal wat in lae bo-op en onder die klei lê,” het Booth gesê. “Daar is geen gevare vir Rietvleidam of die -reservaat nie.”

Marius de Val van AfriForum het direk in gesprek getree met die uitvoerende hoof van Corobrik, Nick Booth.

Hy het bevestig reeds 20 000 ton steenkool is uitgehaal en van die terrein verwyder.

Die Departement van Minerale Bronne en Energie het egter in Mei bedrywighede gestaak omdat die huidige lisensie nie die myn van steenkool insluit nie.

Omgewingsbewustes, hengelaars, lede van die Rietvleidam se Seiljagklub, boere en inwoners van residensiële buurte naby aan Corobrik het die vergadering bygewoon.

Hulle het Booth, sowel as die impakstudiepraktisyn van Licebo Environmental and Mining, Ralph Repinga, hewig oor die kam geskeer oor onder meer die impakstudie se gebrekkige detail.

’n Soja- en groenteboer van ’n plaas aangrensend tot Corobrik se terrein, Dee O’Rourke, het nie Booth se versekering geglo dat doeltreffende metodes gebruik sal word om mynstof te mitigeer nie.

“Ons het al van Februarie vanjaar gehoor hoe daar snags by die gruisgroef met plofstowwe geskiet word. Wie gaan my produkte koop as dit vol koolstofstof is?” het O’Rourke gevra.

Die huidige kommodoor van die Pretoria Seiljagklub, Oscar de Weijer, het beklemtoon hoe die klub die afgelope vier jaar ’n ontwikkelingsplan in werking gestel het. Geriewe by die dam word toenemend gebruik.

“Indien die dam se waterkwaliteit deur die myn van steenkool bedreig word, sal ons lede benadeel word. Die dam is ’n juweel. Dit is ons plig om dit te beskerm.”

Twee inwoners in die onmiddellike omgewing van die Rietvleidam, Helen Lachenicht (links) en Anna Lutz, beide van Irene, het hul besware kom lig.

Die vergadering is by die seiljagklub gehou.

Repinga moes tydens die vergadering verskeie kere aandring dat daar by vergaderingsprotokolle gehou word.

Lede van die gehoor het veral warm onder die kraag geword oor die impakstudie se gebreke.

Hy het klem daarop geplaas die impakverslag is volgens die opdrag van die Department van Minerale Energiebronne en Energie net as ’n basiese studie aangepak.

Volgens Repinga sal moontlike waterbesoedeling tot ’n minimum beperk word, vleilande sal beskerm word deur mynwater na ’n stoordam te herlei, enige mynstorting sal opgeklaar word en daar sal geen aktwitieite snags plaasvind nie.

“Corobrik sal ook watergehalte vanaf boorgate monitor, trokke met steenkool sal met seil toegemaak word om stof te beperk en ’n verkeersbeheerprogram sal ingestel word om met die besiger paaie te help,” het Repinga verduidelik.

‘n Voormalige kommodoor van die Pretoria Seiljagklub, Fransie Girdlestone, het tydens die vergadering rondom Corobrik se aansoek om hul mynlisensie uit te brei, beklemtoon nog mynbedrywighede sal tot die algemene verval van die omgewing bydra en seiljagaktiwiteite benadeel.

Daar is tydens die vergadering bevestig die steenkool word reeds gemyn en is na Ekhurleni deur ’n kontrakteur vervoer.

Inwoners en eienaars van eiendomme in die omgewing is bekommerd oor die visuele impak, verslegtende paaie in die omgewing, maar veral ook die impak op die water in die omgewing van die dam en reservaat.

’n Landbou-ekonoom, Francis Geldenhuys, het op die swak gehalte navorsing in die studie gewys.

Sy het aangedring die vergadering moet weer gehou word en deur die Minerale Bronne en Energie minister toegespreek word.

Nog ’n beswaar van Geldenhuys was dat prosedures vir die hou van hierdie vergadering nie gevolg is nie, want in die onmiddellike omgewing van die reservaat en dam is daar net een kennisgewing geplaas.

AfriForum se verteenwoordiger, Marius de Val, het in aansluiting hierby voorgestel dat ’n tweede ronde van die openbare deelnemingsproses gehou word.

’n Verteenwoordiger van Tshwane metro se Wetenskaplike Dienste-departement, Cecile Schmidt, het daarop gewys hul laboratoriums nie die uitslae van Corobrik se watertoetse kry nie.

“Ek is bekommerd Tshwane se watertoevoer, wat grootliks vanaf die Grootfontein-oog in die omgewing van die myn afkom, deur sulke mynbedrywighede gekontamineer kan word,” het Schmidt die vergadering toegelig.

Booth het aangedui besware soos tydens die vergadering uitgewys, sal deur hom en sy bestuur in die voorlegging daarvan in ag geneem word en daar sal weer na die impakstudie se navorsing opgelet word.

Hy het ook bevestig ’n agterstallige bedrag van R6-miljoen in mynbelasting op steenkool reeds gemyn, is reeds betaal. Booth het verduidelik die bedrag was as gevolg van ’n oorsig uitstaande.

Besware oor die toestaan van die uitbreidingsaansoek van die bestaande lisensie kan steeds skriftelik ingedien word tot 26 September wanneer die openbare deelnameproses afgesluit sal word.

Die konsep impakstudie sal dan deur die konsultante gefinaliseer word en aan die minister vir kennisname voor 17 Oktober voorgelê word.

Die Department van Minerale Bronne en Energie moet hul besluit na 107 dae na die ontvangs van die impakstudie bekendmaak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button