Local newsNews

Drie nuwe snuffelsnoete is kragtige wapens om monument te beskerm

Bobaas veiligheidshonde en hul honde-geleiers maak seker die terrein waarop die Voortrekkermonument staan veilig is. En nou is daar drie nuwe aankomelinge wat hulself bewys.

Die sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument, Danie Dreyer, spog maklik met die veiligheidspan se nuwe Hollandse herdershond, Steve O, se eerste inhegtenisneming.

Maar vir hierdie bobaas-snuffelsnoet en ander werkshonde by die monument is dit darem nie net werk, werk en nogmaals werk nie.

Tyd word ingeruim vir speel, bederf en opleiding.

En beslis ’n mooi aanprysing van Dreyer: “Bravo! Steve O, Ellie, Volt en die veiligheidspan.”

Hierdie pryswoorde word gewoonlik opgevolg met ’n beloning soos ’n spesiale drukkie en ’n goeie krap op die magie van die spitsoor- en langoorhonde.

“Hulle word nie soos werkshonde behandel nie, maar eerder soos huishonde,” sê Dreyer.

Die patrolliehond, Steve O, is onlangs tesame met twee Rottweilers, Volt en Ellie, op ’n bruikleengrondslag aan die monument se sekuriteitspan geskenk.

Hierdie waardevolle donasie is gemaak deur ’n hondeverskaffer en wagteopleidingsentrum, Genesis Groep K9, om met die beveiliging van besoekers en drawwers, sowel as die veiligheidspan op die monument se terrein te help.

Dreyer is trots op die drie nuwe aankomelinge wat saam met nege ander veiligheidshonde die 8km-grenslyn van die terrein veilig en vry van indringers moet hou.

Die patrollies word ook afgewissel met perdepatrollies wat bestaaan uit vyf perde en die veiligheidspan se ruiters.

“Ons personeel is ook goed opgelei deur Genesis Groep K9 om die honde goed te versorg en reg te gebruik,” vertel Dreyer.

‘n Sterk en stewige Rottweiler, Ellie, is onlangs tot die Voortrekkermonument se K9-veiligheidspan toegevoeg. (Naam van veiligheidwag om veiligheidsredes nie verstrek nie.)

Hy is veral versigtig om die spannetjie té lank op ’n slag te laat werk.

“Daar is ook veiligheid daarin vir ons span om saam met die honde uit te gaan. Indien hulle veral met meer as een oortreder gekonfronteer word, kan die honde hulle verdedig,” verduidelik Dreyer.

’n Verandering in die honde se gedrag tydens patrollies dui gewoonlik op ’n oortreder wat ’n draad geknip het en die terrein betree het.

“Ons navorsing dui daarop dat daar ’n baie hoër kans is dat ons snuffelhonde in so geval die oortreder sal kan opspoor en met die arrestasie sal kan help.”

Dreyer weet waarvan hy praat. Hy ken die terrein goed, aangesien hy al nege jaar daar werk en die laaste twee jaar vir die sekuriteit daarvan as hoof van die span verantwoordelik is.

Hy het self hondegeleiersopleiding gekry en kwalifikasies verwerf oor hoe om die honde vir die beveiliging van die terrein in te span.

Danie Dreyer, sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument, is in sy noppies met die nuwe aankomeling in sy K9-veiligheidspan, die tweejarige Steve O.
Vir hom staan daar veral twee dinge uit met die hantering van sulke werkshonde.

Daar moet na al hul behoeftes omgesien word om te verseker hulle is in topkondisie om hul rol te vervul.

“Al is hulle werkshonde, hou hulle van speel, veral om aan ’n tou saam met jou te trek,” sê Dreyer.

Hul gesondheid word ook goed na omgesien met noodhulpkissies vir ingeval ’n besering aan diens opgedoen word. ’n Veearts is net ’n oproep weg.

“Voor hulle uit hul hondehokke kom soggens, sorg ons ook dat dit veilig vir hulle is. Alles moet op standaard gehou word vir hulle om hul werk te doen,” sê ’n sorgsame Dreyer oor sy vierpotige spanlede.

Taps dry for almost two years for Mams ext. 6

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button