Local newsNews

Geliefdes kom van ver vir tannie Runa se 100e

Op haar 100e verjaarsdag dink Runa Labuschagne graag terug aan kleintydtye in die Boland en visvang saam met haar pastoor-eggenote.

Vriende en geliefdes het van sover as Kanada gekom om die vriendelike en geselserige Runa Labuschagne se 100e verjaarsdag in Residentia Hermon in Pretoria Noord te vier.

Die boorling van Noupoort en eertydse pastoorsvrou is deur die bestuur van die huis by ’n partytjie op 15 September trakteer waar ’n verjaarsdagkoek en haar gunstelingsnoepery, kaaskoeke, bedien is.

Sy is sedert 2016 ’n inwoner van die huis vir bejaardes.

Labuschagne het vir bykans 50 jaar in die bediening gestaan langs haar pastoorsman, Johannes. Sy amp as president van die Pinkster Protestantse Kerk het hulle na verre oorde soos Zambië en Namibië geneem.

Sy het op Stellenbosch grootgeword. Pretoria-Noord is nou vir vele jare haar tuiste nadat sy en haar man hier in die bediening gestaan het.

Labuschagne, wie se nooiensvan Janse van Rensburg is, is gelukkig om haar goue jare in Pretoria deur te bring en veral dan ook by Residentia Hermon.

“Ons is ’n eensgesinde groep wat goed versorg word en mekaar se geselskap geniet,” vertel ’n laggende Labuschagne.

Zandré van der Schyff het al die pad uit Kanada vir haar geliefde ‘aangenome ouma’, Runa Labuschagne, in Residentia Hermon in Pretoria, kom kuier om haar 100e verjaarsdag te kom vier. Die verbintenis kom ’n lang pad met Labuschagne wat vriende was met Van der Schyff se ouma.

Sy is op hoogte van wêreldsake want veral saans en deurgaans luister sy na nuusprogramme.

Hierdie belangstelling in aktualiteit en die vriendskap van geliefdes soos Liefie Swiegers en haar familie hou haar aan die gang.

Die Swiegers se dogter, Zandré van der Schyff, het juis so ver as Kitchener in Kanada gereis om al die verjaarsdagvieringe verlede week te kon bywoon.

Sy skryf haar hoë ouderdom toe aan die genade van die Here en ’n goeie lewe met ’n man wat vir haar lief was, ’n waardes-gebaseerde opvoeding en ’n rustige lewenshouding.

“Ons was nooit ’n familie wat raas en baklei nie, en my ouers was kalm mense,” sê die oudste van vyf kinders, waarvan vier nog lewe.

Van haar aangenaamste herinneringe is om saam met haar geliefdes en gesinne ’n braai en Kersetes te hou.

“Hoor jy, kan ons dan ’n hele dag lank eet en gesels!” vertel sy met ’n vonkel in die oog.

Om saam met haar man te kon gaan visvang in Gansbaai in die Wes-Kaap staan ook uit.

Sy koester ook gedagtes aan motorfietsritte saam met haar pa op die Boland se paaie.

“Die kuiers by die see was van die talle hoogtepunte in my lewe.”

Drie nuwe snuffelsnoete is kragtige wapens om monument te beskerm

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button