Bekroonde film steek nou ook regisseur se grense oor
Filmmaker Corné van Rooyen se oupa en sy gesonde houding oor die ouderdom was die inspirasie vir die film oor die karakter uit Rudie van Rensburg se wenboeke, Hans van Kraaienburg.

Op 29 September keer Afrikaans terug na die groot skerm met die ikoniese Hans steek die Rubicon oor.
Geliefde akteurs – wat Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en Nicola Hanekom insluit – sal hul buiging as die goue ouer garde in dié komedie maak.
Pretoria se Hans-bewonderaars kry voor die res van die land op 20 September ’n vroeë kykie na die rolprent.
Regisseur Corné van Rooyen het 18 jaar in Pretoria gewoon, hier skool gegaan en op die Universiteit van Pretoria gestudeer.
Hy bied graag aan sy geliefde stad so ’n voorkeurkykie met ’n amptelike voorskou.
Die oud-leerling van Hoërskool Silverton onthou sy skaatsplankdae veral goed en al die vriende wat hy rondom die prettige sport gemaak het.
Tans woon hy in die Kaap, maar sy hart hunker dikwels na Pretoria.
“Wanneer ek na Pretoria verlang, is dit na samesyn met vriende en sy mense. Pretoria het nie soos die Kaap die berg en die see nie, maar die mense maak daarvoor op. In die Kaap is dit elke man vir homself, maar in Pretoria tel samesyn.”
Van Rooyen verbeeld in die film verskeie van sy oupa, Inus van Rooyen, en sy eie standpunte oor die ouderdom.
Die film is gegrond op die trefferboek deur die oud-joernalis en bekende misdaadskrywer Rudie van Rensburg.
Dit was ’n treffer op RSG toe Tobie Cronjé dit voorgelees, het asook ’n treffer eenmanstuk.
Die rolprent het onlangs ook die toekenning vir die Beste Speelfilm ontvang by die Silwerskermfees in Kampsbaai.

Die verhaallyn draai rondom die bejaarde Hans van Kraaienburg. Hy is 90 jaar oud.
Die storie begin by wewenaar Hans se afskeid van sy huis. Sy kinders is oor verskillende vastelande en eilande versprei.
Hans probeer verskeie ontsnappingspogings uit die ouetehuis want hy beskou hom nie as ouetehuismateriaal nie.
Die film draai dan ook oor sy manewales en filosofie rondom oudword.
Van Rooyen se oupa, Inus van Rooyen, word vanjaar 102 jaar oud en was sy inspirasie vir die film.
“Wie het dan nou nog op 43-jarige ouderdom die voorreg om jou oupa te nooi na die film wat jy self geregisseer het? Ek moes daarvan gebruik maak.”
Die saadjie vir die film is juis deur sy oupa gesaai.
Hy het die voorlesings op die radio so geniet dat hy sy kleinseun telkens daarmee vermaak het.
“My oupa is nog springlewendig en gesond. Hy laat my ook aan die karakter dink en weier dat oudword in sy pad staan. Ek het die karakter uit sy oë waargeneem en uitgebeeld hoe hy sy lewe benader. Nogals baie soos my oupa self.”
Vir hierdie filmmaker van ander suksesvolle films soos Vaselinetjie, is Hans se storie ’n belangrike bevrydingskreet van ouer mense.
“Dit gaan oor hoe om oud te word op jou eie terme en dat jy self jou onafhanklikheid moet prysgee. Jy moenie toelaat dat dit van jou weggeneem word nie.”
Deel van Van Rooyen se uitgangspunt was om legendariese Afrikaanse akteurs weer in te span.
“Ek wil ons legendes weer lewe gee en het die room van die Afrikaanse bedryf betrek. Ek wil hulle die waarde en respek gee wat hulle toekom.”
Sy uitgangspunt is ook dat gehore nie vir die karakters moet lag nie, maar saam met hulle moet lag.
As regisseur is een van die mees komiese tonele vir hom wanneer Hans daggakoekies in die ouetehuis uitdeel.
“Ek het nog nie iemand ontmoet wat nie met hul eerste aanblik van hierdie toneel plat op die grond is van die lag nie.”

Van Rooyen (43) het saam met sy eggenoot (38) in ’n span aan die rolprent gewerk.
Vir hom is ouderdom opsigself n “vreemde konsep”. Hy wou ook in die film ondersoek oor sy eie standpunte daaroor doen.
“Ek sien uit om ouer te word. Die samelewing glo mens moet dit verhoed en rome aansit. Soos met Hans en my oupa gaan ouderdom my nie terughou nie.”
– Die filmmakers het toestemming gekry om ’n spesiale vertoning van die film op 20 September om 12:00 by Ster Kinekor The Grove te hou spesifiek vir aftree-oorde en die ouer garde. Dié groep kry die geleentheid om die fliek te gaan kyk voor dit vir die algemene publiek beskikbaar is. Pensioenaris- en groepsbesprekings kan gemaak word aanlyn by https://protect-za.mimecast.com/s/5_C_CMjB2vc9ApWLhkFdEb?domain=rb.gy of by die fliekteaters.
– Kliek hier om na die film se voorskou te kyk: https://www.youtube.com/watch?v=gunIkdVwiMM
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
