Local newsNews

Gr. 6-leerder samel sakke en sakke proppies vir rolstoel in

Minka Theyse en haar gesin het hande geneem en die gemeenskap van Sinoville gevra om te help om proppies in te samel om 'n rolstoel vir 'n skool vir kinders met gestremdhede te kan skenk.

Minka Theyse (12), ’n graad 6-leerder van Laerskool Stephanus Roos in Sinoville, was so aangegryp deur ’n herwinningsprojek van Afrikaans Hoër Meisieskool waarvan sy op sosiale media gelees het, dat sy terstond besluit het om ook haar kant te bring.

Die skool is ook die alma mater van haar ousus, Arnais (21).

Sy het ’n jaar lank tussen vriende, bure, skoolmaats en die gemeenskap meer as 35 000 plastiese proppies van koeldrank- en ander bottels en houers versamel om aan die geesdriftige herwinnaars te oorhandig.

Die 41 sakke het ’n totaal van 140kg op die skaal getrek.

Haar projek het momentum aangeneem en sedertdien het sy alreeds weer tien sakke bymekaar gemaak.

Die oorhandigingsgeleentheid aan haar mede-herwinnaars by die meisieskool van die sakke en sakke vol proppies het onlangs plaasgevind.

Die Afrikaans Hoër Meisieskool se mikpunt met die herwinningsprojek is om die sakke aan die Alma-skool te oorhandig.

Wanneer 450kg aan ’n herwinningsmaatskappy oorhandig kan word, word ’n rolstoel aan die skool geskenk.

Die herwinnaars kon al nege rolstoele aan kinders met gestremdhede skenk sedert 2018.

Theyse se projek het ’n jaar gelede begin, en niks het die laerskool bobaas-redenaar ontmoedig om haar selfopgelegde projek aan te pak nie.

Haar ouers Andri en Jacques is ingespan om saam kragte te snoer.

“Ek het net gevoel ons moet minderbevoorregte kinders help waar ons kan en soos ons kan,” sê Theyse.

Pretoria FM vier 30e verjaarsdag in styl

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button