Propvol program vol hoogtepunte by Erfenisfees
Van witblits tot vetkoek, van polkas tot kanonskote – die FAK se Familie- en Erfenisfees was ’n viering vir oud en jonk van tradisies maar ook van pret en plesier.
Meer as 3 000 feesgangers het op Erfenisdag die FAK Familie en Erfenisfees by die Voortrekkermonument bygewoon met talle bedrywighede, stalletjies en aktiwiteite waaraan oud en jonk deelgeneem het.
Een van die hoogtepunte was die oorhandiging van ’n sekuriteitsbakkie vir die monument se veiligheidspersoneel.

Dié voertuig sal vir brandbestryding ingespan word.
Die stigter van die Sinoville Brandbestrydingsvereniging, Johan Botha, het die voertuig aan die sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument, Danie Dreyer en die uitvoerende direkteur van die FAK, Danie Langner, oorhandig vir gebruik op die terrein.

Die voertuig is deur Gys Pitzer Motors geskenk deur bemiddeling van die familieboerevereniging, Saai.
Dreyer sê die vereniging het ook vantevore ’n brandwa aan die monument geskenk met die bynaam ‘Rooinek’. Die nuwe sekuriteitsbakkie sal gebruik word om die brandweertoerustingwa rond te trek na waar nodig op die terrein.
Botha het ook ’n toegeruste brandweertoerustingswa met die bynaam “Weeskind” aan Dreyer en Langner oorhandig.
Hierdie wa sal eersdaags na die Bloedrivier-monument in KwaZulu-Natal gestuur word om daar met brandbestryding te help.
Twee feesarenas kon Sondag besoek word. Op die een terrein is ’n antiekmark aangebied waar feesgangers lui-lui kon drentel van tafel tot tafel vol ougoed uit toeka se jare.
Die Oshoek Boereorkes het hier ’n waarderende gehoor vermaak met jong Johnny Badenhorst wat die konsertina luid teen die Voortrekkermonument se suil laat weerklink het.
Daar was wel ’n benoude oomblik of twee op die terrein toe ’n rukwind verskeie van die tente en gazebo’s rondgeruk het. Tentpenne is stewiger ingekap en die fees het voortgegaan.
Op arena 2 het die feesaktiwiteit afgeskop met die luide knal van die Susanna-kanon afgevuur deur Wernando Stoltz en Carel van Bosch.


Die ses-ponder Britse skeepskanon uit die 1800’s is gewoonlik gelaai met 400g-swartkruit.
André Rossi van Pretoria-Tuine het besoekers van sover as Namibië by die jukskeibane ingelyf in die kuns om ’n skei met die regte gewig te kies om ’n wengooi te kry.
Wat sal ’n Erfenisfees nou ook wees sonder tradisionele sopie witblits?
Vrywillligers van die Mampoerstokersgilde het van verlede jaar se gildekompetisie se wenwitblits, sowel as brandewyne versny met mampoer, gedemonstreer en te koop aangebied.
Christo Graill van die gilde het omstanders verseker die beskikbare wenwitblitsbottels is almal gestook deur lede met wettige permitte.
Jacob en Endrietta van Rensburg bestuur die Lewende Laer by die monument. Hulle het toeriste rondgeneem en verduidelik hoe sonderling die ervaring is om ’n aand in een van die ossewaens te slaap. Hulle bedryf die diens aan toeriste al vir tien jaar.
Vir die jong klomp was daar meer as genoeg pret op die program. Kinders kon aan perderitte deelneem onder die wakende oog van die monument se plaasbestuurder, Michael Barnard.



Die uitdrukking “Agterosse kom in die kraal” het gou duidelik geword vir die jong kunstenaars wat klei-osse wou maak.
Hier het Lizette Jansen van die Erfenisstigting en Simoné Truter van die monument se Toerisme-afdeling met enemmelborde vol klei die aspirant-beeldhouers wysgemaak oor hoe speelgoed in die trektye gemaak is.
By ’n tafel vol emmers met klippe, kon ma en pa en hul kroos ook onder die leiding van Mariechen Laubscher leer om ’n outydse kettie se rek met die regte skietgoed vol te maak, die leerband te trek en met ’n stip blik te mik om ’n blikkie raak te skiet.
Andries van der Westhuizen het letterlik die swepe laat klap om nuuskieriges te leer hoe om die kuns baas te raak. Die gewillige leerlinge het egter gou agtergekom dis makliker gesê as gedaan.
Die Wapadrand Boeredansgroep het hul enkellengte rompe in die klein arena op die maat van “Daar kom die Alibama”-medley gedraai en geswaai.


Lede van die gehoor is ook nadergenooi om op ’n paar polkas vas te trap deur die vrolike tieners in hul kleurvolle volksdrag.
Vir die ouer garde het die saal waar gesinne se geneaologie soos die Brinks en Du Preezs nagevors kon word, die voete getrek. Hier was ook ’n aantal versamelaarsboeke soos die bekroonde boek van Eunice Visser oor slawe aan die Kaap, Die Kaapse Slawe – 1652 tot 1838 te koop. Die boek is uitgegee deur Protea Boekhuis.
Die kleurvolle kunswerke van Valerie de Beer om ’n familie-stamboom uit te werk en ten toon te stel, het ook in die saal die oog van menige familie-navorser getrek.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
