CrimeLocal newsNews

Lid se beweerde kroeggeveg met bottel brandewyn ‘n “bomskok” vir Bittereinders

'n Slagoffer van 'n kroeggeveg met Bittereinder-lid moes steke kry na hy glo met brandewynbottel gemoker is.

Die polisie het bevestig dat ’n aanrandingsklag ingedien is nadat ’n 25-jarige slagoffer Saterdag, 2 Desember in ’n kroeggeveg beseer is.

Die slagoffer is om 00:20 in die Vellies-kroeg in Myburghstraat, Capital Park met ’n drankbottel oor die kop geslaan.

Die verdagte is klaarblyklik ’n lid van die Bittereinders-jeugbeweging en is op 5 Desember in hegtenis geneem by die Wonderboom-polisiestasie.

Die slagoffer is na die hospitaal geneem en moes steke kry. Hy is daarna ontslaan en het dieselfde aand ’n klag aanhangig gemaak.

Ajudant-offisier Johan van Dyk het aan Rekord bevestig dat die klaer ’n jaareindfunksie vir sy werk bygewoon het.

“Die verdagte het hom glo genader met talle vrae. Hy was onder die invloed van drank en klaarblyklik baie arrogant,” sê Van Dyk.

Hy het bevestig die slagoffer het telkens probeer om die konfrontasie te vermy en probeer wegstap.

“Die verdagte het hom egter toe met ’n 750ml bottel Richelieu-brandewyn oor die kop geslaan. Hy het duiselig neergeslaan en gesien die beweerde aanrander kom weer vir hom,” sê Van Dyk.

Volgens Van Dyk het ander kroeggangers toe die verdagte verhoed om verder met die geveg voort te gaan en die verdagte het vertrek.

Die Bittereinders-groep in Pretoria sê dat hulle vanaand bymekaar sal kom om die waarheid uit te pluis oor die man wat glo ’n prominente lid van die groep is.

Hy sou vandag in die Pretoria Magistraatshof verskyn in verband met ’n beweerde voorval van aanranding in die kroeg.

“Dit was vir ons ’n bomskok om hiervan te hoor,” sê Alicia Booysen, wat vir die groep se administrasie verantwoordelik is.

Sy het bevestig dat die beweging nog nie agter die waarhede rondom die voorval kon kom nie en eers saam daaroor wou kop bymekaar sit.

“Wat op die oomblik daaroor gesê word, is nie die waarheid nie,” benadruk Booysen.

Gerugte wat die Bittereinders ontstel, lui dat die woordewisseling ontstaan het toe die slagoffer glo vrae gevra het oor die verdagte se betrokkenheid by die beweging.

Die Bittereinders is volgens hul sosiale media bladsye ’n jeugbeweging wat onbeskaamd alleenlik vir Afrikaner en Boere belange baklei met die leuse “Ons sal weer vry wees”.

Bevestiging deur die Klerk van die Hof of die Nasionale Vervolgingsgesag oor die uitslag van die hofsaak was nog nie beskikbaar ten tyde van publikasie nie.

LEES OOK: Hoërskool Garsfontein stel nuwe seuns-hokkie direkteur aan

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button