Local newsNews

Kerstydfliek laat komediant ook selfondersoek doen oor die ouderdom

'n Gewilde komediant van Irene speel 'n rol in 'n Afrikaanse Kerstydfilm,wat hom self ook diep laat nadink het.

Vanjaar se feestyd is ekstra spesiaal vir fliekvlooie met ’n Afrikaanse Kersfeesfliek, Kind, wat op Saterdag 23 Desember op televisie uitgesaai word.

Die tema is een wat vele ouers vandag ken: Hoe vier jy die feestyd as jy sonder kind of kraai sit?

Lenie en Marius, ’n ou getroude paartjie, se enigste seun en sy gesin gaan weg met vakansie en laat hulle op hul eie vir Kersfees.

Komediant en akteur van Irene, Hannes Brümmer, speel die rol van Human, die paartjie se enigste seun en bring sy gawe om gehore te laat glimlag na die film.

“Ek glo onteensteglik dat lag die beste medisyne is, en ek vind self genesing daarin om die geheime daaragter vir ander te probeer ontsluit,” sê Brümmer.

Sy karakter in die film besluit na ’n sielsondersoek om op die vooraand van sy dogter se studies die tradisionele kersplanne te laat vaar.

Hy wil eerder tyd saam met sy gesin te spandeer.

Brümmer neem, soos sy karakter, self die oomblik wat die eerste kersversierings in die winkels gehang word, onwillekeurig die jaar in oënskou.

komediant
Hannes Brümmer in die Afrikaanse Kerstydfilm, Kind.

“Teen Kersdag self, is ek dan so te sê reg om weer met hoop die vooruitsigte van die nuwe jaar aan te pak. Ek dink dis hoekom mens kerstye so gevul met emosies is – soms ook gemeng. Ek was al ongelukkig genoeg kere noodgedwonge kerstyd weg van my naastes. Mens het daardie samesyn nodig om sin te maak van jou bestaan,” glo Brümmer.

Soos die ouer karakters in die film, het die film die 44-jarige ook weer oor die ouderdom laat nadink.

“Die morbiede standpunt is dat soos ons ouer word, ons nader aan die dood beweeg, maar ek word gerusgestel dat dit met kennis en perspektief kom. In my twintigs kon ek nie insien dat ek in my veertigs meer sou weet as toe nie, en nou maak ek dalk dieselfde fout as ek aan sestig-jariges dink, maar ek leer stelselmatig dat ervaring en ondervindings gewoonlik uitloop op tikkies wysheid.”

Die veelsydige oud-Tukkie het al diep spore in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld getrap nadat hy in 2001’n BA-graad in Drama verwerf het.

Hy is ook veral bekend as lid van die Afrikaanse komedie-duo, Die Flying Dutchmen, saam met Melt Sieberhagen.

Oor hierdie gewilde en bekende samewerking met skreeusnaakse akteur en stemkunstenaar Sieberhagen, glimlag Brümmer maklik.

“Ek en Melt het ontmoet op ons heel eerste dag as dramastudente by Tukkies, die mees angswekkende én mees opwindende dag van ons jong lewens. Ek dink daardie kennismaking het ’n onmiddelike band gevorm. Ons het geen ander keuse gehad as om broers, beste vriende en kollegas te word nie.”

Hy meen die teks van die kersfliek, Kind, het ’n besondere eerlikheid.

“Ek hou van die teks se boodskap wat onder meer lui dit is moontlik om nog steeds lief vir mekaar te wees selfs al is julle nie in mekaar se teenwoordigheid nie. Die situasies en dialoog is nie net baie snaaks nie, maar vol deernis ook. Nes dit n goeie teks betaam,” meen die improvisasie- en skerpskertskomediant.

In hierdie hoedanigheid was hy onder meer te siene in Joe Parker’s Improv Express (2005), Starship Improvise en Jozi Comedy Showdown (2008 – finalis; 2009 – finalis) sowel as Rocking the Daisies (2009, 2010).

“Om te probeer verstaan waarvoor mense lag is al baie lank ’n obsessie van my. Eintlik verkies ek om dit eerder my studieveld te noem. Komedie kan motories en selfs wiskundig waardeer word, maar kan ook nie funksioneer sonder eerlikheid en emosionele weerloosheid nie,” glo Brümmer.

Hy is ook self ’n knap draaiboekskrywer. Uit sy pen na die klein skerm is produksies soos Blikskottel, Kompleks, en Die vlieënde springbokkie-reeks waarvan hy die regisseur en hoofskrywer was.

Hy gee graag ’n draaiboek ’n kwinkslag of twee.

“Lag is nie ’n emosie nie, maar ‘n reaksie gegrond op emosionele inhoud. Ek glo nie dis moontlik om snaaks te wees sonder om die hele emosionele spektrum in ag te neem nie,” verduidelik die akteur van reekse soos AmaliaBinnelanders en Villa Rosa.

Vir sy rol in Elke skewe pot is hy in 2019 met ‘n South African Film and Television Awards-toekenning bekroon as beste akteur in ’n TV-komedie.

Brummer is sedert sy studentedae ’n Jakarandastad-inwoner en het ’n besondere liefde vir die hele stad.

“Aanvanklik was dit ’n praktiese besluit ter wille van werk, my vriendekring en gunsteling kuierplekke, maar mettertyd het dit huis geword. Irene is nog steeds voorstedelik, maar met ’n rustigheid waarop Johannesburgers vir seker jaloers is. Ek ken eintlik die hele Pretoria al baie goed. Dis my huis,” vertel ’n ietwat nostalgiese Brümmer.

– Die veteraanspelers Rika Sennett en André Stoltz is onderskeidelik te sien as Lenie en Marius in die kykNET-film, Kind. Ook deel van die rolverdeling is Zonika de Vries, Monica Muller en Andreas Jordaan. Die draaiboek is deur Tharine Pienaar geskryf, en die regisseur is Gustav Gerdener. Kind is in Johannesburg verfilm, en dit sluit wilde jaagtogte, danspassies in die natuur en laatnag-putt-putt in.

LEES OOK: Petrolswendelaar se dae dalk getel na motoriste ‘n speletjie van haar verskynings maak

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button