Local newsNews

Ouers oorweeg regstappe teen Steve Biko-hospitaal na beweerde nalatigheid

"Hoe kan die weiering van fisioterapie in elk geval lei tot septiese wonde?" vra Elsa van Zyl, ma van Andries Neethling.

Waarskuwing: Grafiese inhoud wat lesers kan ontstel: Video van die wond aan die geamputeerde been van Andries Neethling

Die ouers van Andries Neethling, ’n 34-jarige man van Roodewal wat in die Steve Biko-hospitaal verskeie amputasies na ’n motorfietsongeluk ondergaan het, oorweeg regstappe teen die hospitaal.

Neethling se ma, Elsa van Zyl, sê hulle sal met hul prokureur opvolg na haar seun se volgende amputasie by die hospitaal.

Van Zyl hoop so ’n operasie kan op 15 of 16 Februarie plaasvind.

Sy beweer die hospitaal was met vorige operasies en amputasies oor ’n tydperk van ses maande nalatig met die versorging van haar seun se wonde.

Neethling het na die motorfietsongeluk skuins voor middernag in Pretoria Noord in Zambezirylaan sy linkerarm met ’n amputasie afgestaan.

Hy het vir ’n slaggat in die pad uitgeswaai en toe gegly.

’n Ambulans kon hom eers twee ure na die ongeluk na die Steve Biko-hospitaal in Arcadia vervoer. Hy is in die noodgevalle-afdeling opgeneem.

“Sy lewe was in gevaar. Hy sou doodgaan as sy arm nie afgesit is nie. Dit was sy lewe of sy arm,” sê Van Zyl.

Na die hospitaalopname en eerste amputasie het hy ook in die Steve Biko-hospitaal verdere amputasies ondergaan en so sy linkervoet, linkerbeen, regtergroottoon en regtervoet verloor.

Hy het tydens sy verblyf in die hospitaal ook ’n beroerte gehad en ’n prosedure ondergaan waartydens ’n aar vervang is.

“My kind is in ontsaglike pyn en die laaste amputasie van sy regterbeen bo sy knie blyk vir ons die laaste uitweg te wees om van die pyn ontslae te raak,” sê Van Zyl.

Neethling is verlede Woensdag ontslaan maar is weer Saterdag opgeneem nadat dit geblyk het hy het wondvergiftiging as gevolg van maaiers in sy wonde rondom die amputasie aan sy regterbeen.

“Ek voel nog deurgaans dat my kind se pyn kom as gevolg van die infeksies in die wonde rondom die amputasies,” sê Van Zyl.

Andries Neethling na drie amputasies. Foto: Verskaf

Sy is vroeg op 15 Februarie weer na die hospitaal om toe te sien dat haar seun wel die nodige behandeling ontvang en wag vir die amputasie van sy regterbeen bo die knie waarvoor hy toestemming gegee het.

Sy hou goeie moed aangesien hy op 15 Februarie nie kos ontvang het nie en dalk geopereer kan word.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die Department van Gesondheid, het aan Rekord gesê dat Neethling op vorige geleenthede fisioterapiedienste geweier het.

“Hierdie dienste was krities vir sy herstel en welwees,” verduidelik Modiba.

Volgens hom het die familie vroeër vandeesweek aangedui dat hulle oorweeg om hom na private sorg te skuif. “Ons het die komende operasie gekanselleer,” bevestig Modiba.

Van Zyl sê egter sy kon nie private sorg gereël kry nie.

Sy bevraagteken ook die woordvoerder se stelling oor die fisioterapie-dienste. Sy beweer haar seun het slegs een keer as gevolg van pyn nie kans gesien vir fisioterapie nie en het ’n goeie verhouding met die fisioterapeut.

Hoe kan die weiering van fisioterapie in elk geval lei tot septiese wonde?” vra Van Zyl. “Maar indien die enigste uitweg nou nog ’n amputasie is, berus ek my daarby. My kind het nou lank genoeg gely.”

Waarskuwing: Grafiese inhoud wat lesers kan ontstel:

Waarskuwing: Grafiese foto Maaiers wriemel in die wonde na ‘n amputasie aan sy regterbeen. Foto: Verskaf

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button