Local newsNews

Maatskaplike Werkersmaand: Nuwe denke oor subsidies en hofwerk nou nodig

Hofsake as deel van NPO-organisasies se werkslading en subsidies as deel van hul befondsing is weggeneem deur die provinsiale regering van maatskaplike werkorganisasies.

Vir maatskaplike werker van die CMR-Noord (CMRN) in Daspoort, Stian Pretorius, is dit belangrik om families te beskerm en te ondersteun.

Sy pos is vir hom ’n roeping en nie net nog ’n werk nie.

Met die herdenking van Maatskaplike Werkersmaand in Maart is dit een van vele aspekte van sy werk wat hy wil uitsonder.

“Mens moet werklik ’n hart vir mense hê,” sê Pretorius.

Vir dié pa van drie is ’n jaar van reuse-uitdagings in sy pos vir eers agter die rug.

Die provinsiale subsidie van die Departement Sosiale Ontwikkeling aan NPO-organisasies soos die CMRN is ’n jaar terug gestaak en van die stadsraad kry hulle geen geldelike ondersteuning nie.

Die CMRN se personeel en die organisasie opsigself moet nou staatmaak op ondersteuning van die NG-Kerk, fondswerwing en skenkings om gemeenskappe in stand te hou.

Hiervoor moes die CMRN as organisasie, maar ook individuele maatskaplike werkers soos die verbeeldingryke Pretorius, opnuut dink en planne maak.

’n Kopskuif was nodig.

“Ons werk nou veel meer voorkomend,” vertel Pretorius. Dit is in lyn met die fokus van die Departement Sosiale Ontwikkeling.

Op sy tafel is daar 50 tot 60 gevalle ’n dag waarvan hy van die welstand van mense in nood moet kennis neem.

Hy moet ook planne maak om die geestelike en emosionele gesondheid van die individue en families in stand te hou en te bevorder.

Deputy mayor initiates forensic investigations into incomplete stadiums

Pretorius werk met aanmeldings oftewel die gevalle wat deur onderwysers, vertrouelinge, familielede sowel as kerklidmate na die CMRN verwys word.

“Ons moet elke dag gesinne help om uitdagings soos dwelmafhanklikheid, verwaarlosing en armoede te bowe te kom,” sê hy.

Hy verduidelik dat maatskaplike werkers net by uitsondering nog hofwerk doen aangesien hierdie deel van hul werk ook deur die Departement van Sosiale Ontwikkeling oorgeneem is.

Soms was hy in ’n maand verantwoordelik vir tot agt na tien verslae oor gevalle onder sy sorg en dan veral kinders.

“Hierdie besluit maak ons hande vry om nou veel meer ontwikkeling in ons eie velde te doen soos om meer intensief met families te werk,” vertel Pretorius.

Stian Pretorius. Foto: Elize Parker

Een van die projekte wat hom na aan die hart lê is die Daspoortkantoor se Kospakkieprojek.

Hiermee word gesinne een keer per week toegerus met bemoediging vir so ’n halfuur en word hulle daarna huis toe gestuur met ’n kospakkie.

“Die mense, dikwels straatgebaseer, kom ook na die groep vir die geselsies en die grappies,” dui Pretorius aan.

Vier keer ’n jaar pak Pretorius ook in hul mentorskapprogram met behoeftige kinders ’n uitstappie aan.

Altesaam 14 kinders wat deur hul gementor word, is onlangs na ’n anti-boelie-projek optrede van Jo Black geneem.

Pretorius se uitgangspunt is dat kinders nie net teen geweld in hul gesins- en familieverband beskerm moet word nie, maar ook geleer moet word dat hulle daarop geregtig is om ook goed behandel te word.

“Daarom is dit belangrik dat ons ook ouers moet help om hul eie gebrokenheid en trauma te heel,” glo Pretorius.

Om mense te leer om meer doeltreffende ouers te wees maak ’n groot deel van sy werk uit.

Sy uitgangspunt is indien families nie funksioneel is nie, is daar nie harmonie in die wêreld nie.

“Vir sommige ouers is als ’n stryd en mens moet daarvoor ruimte maak,” meen hy. “Elke familie het sy eie dinamiek. Jou uitgangspunt moet dus wees om nie almal oor dieselfde kam te skeer nie.”

Kontak die bemarkingsbeampte Mandy de Ridder op marketing@cmrn.co.za of 072 287 8323 indien jy skenkings aan die CMRN wil maak.

Hulle wenslysie sluit in nie-bederfbare kos, toiletgoedere, geldskenkings om vir mediese en sielkundige dienste vir diegene in hul sorg te betaal sowel as gelddonasies en debietorders.

Skenkings en donasies mag kwalifiseer vir ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat.

Die CMRN het 15 Sentrums van Hoop in Gauteng, Noordwes en Limpopo.

Skakel 012 460 9272 om in aanraking met ’n maatskaplike werker te kom of stuur ’n e-pos aan cmr@cmrn.co.za indien jy ’n aanmelding wil maak.

Waterbeperkings en OVK-skuif terugslae vir metro

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button