Local newsNews

Buurtwag se slaankrag verhoog met stelsel om nommerplate te herken

Sigbare wetstoepassing in Pretoria Noord het 'n hupstoot gekry met die instelling van maandelikse massapatrollies deur die Apiesrivier-buurtwag.

Die AfriForum Apiesrivier-buurtwag verwag die inwerkingstelling van gevorderde nommerplaatherkennningskameras gaan lede help om misdaad meer doeltreffend te bekamp.

“Dié kameras neem en digitaliseer voertuie se nommerplate en is ’n onmisbare hulpmiddel in die beskerming van die gemeenskap,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek.

Volgens Steinberg is die stelsel toegerus met gevorderde tegnologie wat nommerplate in ’n oogwink herken en met ’n databasis van verdagte voertuie vergelyk.

“Dit bied uitsonderlike inligting wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal help om voertuie wat by misdaad betrek is, te identifiseer en op te spoor,” verduidelik hy.

Die buurtwag het ook onlangs 49 vrywilligers tydens AfriForum se Apiesrivier-buurtwag se massapatrollie gemobiliseer om ’n 588 kilometer-patrollie in die buurt af te lê.

Die patrollie het die hoewegebiede by Bon Accord, Vastfontein, Bultfontein en Lusthof ingesluit.

Altesaam 20 voertuie is vir die patrollie gebruik.

Steinberg benadruk die patrollie sal voortaan op ’n maandelikse basis aangepak word.

“Dis om ’n duidelike boodskap aan misdadigers te stuur dat misdaad geen plek in dié geweste het nie,” sê hy.

Die patrollie is deur verskeie ander veiligheidsrolspelers in die gebied ondersteun.

Hy beklemtoon patrollies van dié aard word altyd streng binne die raamwerk van die wet aangepak.

“Ons verseker deurlopend dat buurtwaglede deur middel van gehalte opleiding toegerus word vir dié belangrike gemeenskapsdiens,” meen Steinberg.

Hy glo in sigbare patrollering om veiligheid van gemeenskappe te verseker.

“Die Apiesrivier-buurtwag se maandelikse sigbaarheidspatrollie vorm ’n belangrike komponent in die algehele veiligheidsbenadering waardeur die gemeenskap self op ’n proaktiewe wyse ingryp en hul reg tot veilige gemeenskappe opeis,” sê Steinberg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button