Local newsNews

Simbool van hoop skyn weer oor Moot

Van 'n opruimsessie by Melgisedek tot by die oprigting van die Paasfeeskruis – die Moot-gemeenskap vat hande om vorentoe te beweeg met onblusbare geesdrif.

Die Paasfeeskruis waak soos tydens Kersfees en verlede jaar voor, tydens en na Paasfeestyd weer oor die inwoners van die Moot as simbool van hoop.

Só sê die mede-stigter van die Moot-projek, prof. Johan Oberholster.

Die simbool verteenwoordig ook volgens hom die wyse waarop die gemeenskap hul koppe opgelig het om infrastruktuur te verfraai en op te knap.

Daar is volgens hom ’n gewilligheid en motivering om staat vir straat, park vir park die Mootbuurte weer leefbaar, mooi en veilig te maak.

Projekte van die Moot-projek en ander selfdoeners in die gemeenskap het vroeg vanjaar momentum gekry en gestalte gegee aan die simbool van hoop.

Oberholster is trots op die oprigtingspan se werk en ook dankbaar vir die Kruis se oprigting op 25 Maart.

“Daar is ’n geskiedenis van betrokkenheid ook met die kruis. Ons het die kruis by die NG Kerk Villieria in 24ste Laan gekry. Hulle het dit voormalig by ’n ander NG Kerk in Villieria, in 30ste Laan, gekry toe die kerk toegemaak het,” verduidelik Oberholster.

Doxa Deo Meet het vir die verlenging van die kruis en installering betaal.

Snags skyn ’n lig op die paneel sodat die aangrensende bure sowel as motoriste in die besige pad verby ’n gewilde plaaslike restaurant en parkgangers die simbool teen die lug kan sien uitstaan. Die lig is geskenk deur een van die predikante in die Moot.

Hy is ook trots op die sirkelpad in die Slothuispark wat nou naby aan voltooiing is. Die gelyke oppervlak sirkelpad wat deur drawwers, fietsryers, en stappers met hul honde met gemak gebruik sal kan word, is op die perimeter van die park en is 650m lank.

Oberholster verduidelik hy het tydens ’n wandeling op die Promenade in Seepunt, Kaapstad op die gedagte gekom om so ’n sirkelpad vir die parke in die Moot te skep. Inwoners en gebruikers van ’n soortgelyke sirkel-wandelpad in Rietondale baat reeds deur die gebruik daarvan.

Die bou van die Slothuis se sirkelpad is ook deur sakemanne in die Moot befonds. Oberholster sê die koördineerder van die projek. Dewald Burger, het verskeie skenkings soos baksteenplaveiselstene vir die projek se uitvoering gekry.

Skenkings maak ’n groot deel van die projek se suksesverhaal uit. Donateurs uit die gemeenskap skenk verf om lamppale te verf en grafitti op mure toe te verf, en oortollige plante word geskenk om sypaadjies te verfraai en op te knap.

Die ou Moot-slothuis op die hoek van Terblanche- en Codoniastraat het ‘n baken geword vir inwoners in die omgewing nadat ontwikkeling rondom die slothuis en parkie momentum met die werk van die Moot-projek gekry het. Foto: Elize Parker

Die buurt se inwoners het bekend geword met die gereelde skropsessies waardeur die Moot parke en sypaadjies skoon hou.

Onlang is Steadlaan se sypaadjies se gras gesny en is straatpale geplant om onwettige toegang tot en parkering op die sypaadjies te beperk. Die veld langs Huis Herfsblaar in Queenswood is ook skoon gemaak. Tom Fratespark se bome is gesnoei en rommel is verwyder. Die verfspan het ingespring om die speelparktoerusting op te knap.

Spanne van die Moot-projek, wat deur gemeenskapslede gedryf en gefinansier word, het ook al vanjaar sirkels en voetgangeroorgange geverf, toegesien dat sypaadjies in veral Queenswood se gras gesny word, straatpale geplant en lamppale geverf.

Daar word gereeld verpakkingsmateriaal van dwelms tydens van die skoonmaaksessies opgetel.

Oberholster het ’n oproep gedoen op inwoners om enige vermoede van dwelmhandel in van die parke by die polisie aan te meld.

Dis juis hierdie instelling om ook die buurte veiliger en dwelmvry te maak wat onlangs nog ’n skoonmaakprojek in die Moot geloods het.

Die verwaarsloosde gebou op die hoek van Steve Bikostraat en Annie Bothalaan, Melgisedek, is onlangs opgeknap. Die gebou is ’n paar jaar gelede as onleefbaar deur die metro verklaar.

Die Doxa Deo-kerk Wonderboom het met hul skoonmaakprojek by Melgisedek stukkende vensters herstel.

Gemeentelede van die Doxa Deo-kerk in Wonderboom het ingespring om die gebou en terrein meer leefbaar te maak.

Colleen Joubert, woordvoerder vir die gemeente, sê hulle het gevoel “die Here lê die gemeenskap met hul baie afhanklikheidsprobleme en vervalle omstandighede waaronder die inwoners leef, op ons hart”.

Die skoonmaaktaak veral rondom die dwelm- en ander afhanklikheidsmiddels se gebruik kon hulle aanpak na ’n skenking van 100 pare stewels en industriële handskoene. Die materiaal het hulle in staat gestel om dwelmnaalde en ander artikels rondom dwelm- en drankgebruik te verwyder.

“Dit gaan maar rof daar met talle mense onder die invloed en ons moes moed aan die dag lê om die probleme een vir een aan te pak,” wys Joubert uit.

Verskeie bedienings van die kerk het verantwoordelikheid geneem vir die skoonmaakdag. Die Melgisedek-kinders het klere en kos ontvang en is speletjies geleer. Mure is geverf en vensters se glas vervang. Die projek is ook aangepak as bewusmakingsprojek om van die jong volwassnes te wys wat die uitwerking van dwelms op mense se lewens is.

“Na die tyd het ons sakke en sakke vullis weggery,” vertel Joubert.

Daar word beoog om die Doxa Deo-projek voort te sit deur opleiding aan inwoners van Melgisedek te bied om selfvoorsienend oor die skoonmaak van hul terrein te word.

Kliek hier om die skoonmaakprojek van Melgisedek op video te sien: 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

* Artikel gewysig

 
Back to top button