Community galleriesLocal newsNews

Aanhouer wen vir hengelaar na verlede se dae van pyn

Dit gaan deesdae baie goed met Barnard Swanepoel, wat onlangs in die nasionale varswater kushengel A-span ingesluit is. Hy moes vir agt dae in 2022 in pyn wag voor sy voet geamputeer is.

’n Man se sukses in ’n visvangkompetisie is nie net ’n persoonlike oorwinning nie, maar ook ’n inspirerende voorbeeld vir ander om teëspoed te oorkom.

Barnard Swanepoel moes in 2022 vir agt dae lank in pyn lê met infeksie in sy voet voordat dit geamputeer is by die Steve Biko-hospitaal.

Hy is ’n bobaas hengelaar nadat hy onlangs met ’n plek in die Gauteng-Noord Suid-Afrikaanse Varswater Kushengel Federasie (SAVOF) nasionale A-span verseker is. Sy insluiting is ’n bewys van sy vaardigheid en deursettingsvermoë.

“Dit gaan goed met my en my gesin,” sê Swanepoel.

“My gemoed is beter, al kry ek nog my depressie-oomblike. Maar die laaste jaar en ’n half het ons as gesin ’n hegte eenheid gemaak. Ons is lief vir mekaar, en dit is iets wat niks en niemand ooit van ons kan wegneem nie.”

Barnard en Annelize Swanepoel

Mari Joubert, ’n Tshwane-raadslid van die Vryheidsfront Plus, het as’t ware ’n sleutelfiguur geword om in 2022 die nodige behandeling vir Swanepoel te kry.

“Barnard se situasie het my hart geraak, en ek het geweet ek moet iets doen om te help. Ons moes mekaar se paaie kruis,” sê Joubert.

Sy het ’n hegte verhouding met die gesin gebou en dit op haarself geneem om te pleit vir Swanepoel se regte en toegang tot mediese behandeling. “Ons het steeds kontak met mekaar en ek hoor nog gereeld hoe dit gaan,” meen Joubert.

Barnard het ook ’n groot liefde vir visvang sedert hy klein is. “Vandat ek die eerste keer iemand op die jetty op die strand waar ek groot geword het, sien visvang het, was ek ge-hoek aan die stokperdjie.”

Die ywerige hengelaar neem al sy hele lewe deel aan die sport. “Ek vang seker nou al so 38 jaar vis as jy my kinderjare ook in ag neem. En kompeterend sowat sewe jaar wat ek deel neem aan sosiale kompetisies.”

Die Swanepoel-gesin het nooit toegelaat dat Barnard se situasie hulle onderkry nie. “As ’n gesin staan ons meer as ooit saam om dinge aan die gang te hou. ’n Mens het altyd ’n keuse om te gaan lê of aan te hou baklei vir wat jy wil hê, maar in ons geval is daar nie ’n lê-opsie in my woordeskat nie.”

Barnard het ook onlangs sy uitsonderlike vaardighede by ’n visvangkompetisie van 11-13 April ten toon gestel.

Op die eerste dag het hy ’n indrukwekkende tweede in sy sone geplaas en ’n positiewe toon aangegee vir die dae wat gevolg het.

Sy vertoning het oor die volgende twee dae ’n hoogtepunt bereik waar hy konsekwent beter as sy teenstanders gevaar het en by albei geleenthede die eerste plek in sy sone behaal het.

Sy kumulatiewe tellings het hom ’n vyfde plek algeheel besorg tussen gesoute vissermanne.

Hierdie prestasie is ’n belangrike mylpaal vir Swanepoel, wat die afgelope jaar sy lewe moes aanpas.

Barnard se vrou, Annelize, is dankbaar vir die gemeenskap se bystand met befondsing. “Mense het lootjies gekoop vir ’n hekmotor wat geskenk was om fondse in te samel. Moot Security Shop en DTS het die motor geskenk.”

Behalwe visvang, het Swanepoel ’n motiveringsfiguur in sy gemeenskap geword.

Sy storie het ander aangemoedig wat soortgelyke uitdagings in die gesig staar, en bewys dat met vasberadenheid en passie enige struikelblok oorkom kan word.

Terwyl Swanepoel voorberei om Gauteng-Noord op nasionale vlak te verteenwoordig, staan die Moot-gemeenskap agter hom, trots en geïnspireer deur sy prestasies.

“‘Non Progredi est Regredi’… om nie vorentoe te beweeg nie, beteken jy beweeg agtertoe. Aanhouer wen,” sê Swanepoel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button