Produktiewe maand vir AfriForum se Centurion-tak agter die rug
Die burgerregtegroep poog om die inwoners se daaglikse lewens te verbeter met skoonmaakprojekte en sekuriteitsinisiatiewe.
AfriForum se Centurion-tak het ’n produktiewe Maart gehad, met die bestuur van die verwydering van verskeie vragte rommel en grassny.
Die tak het benewens sy gereelde vuurwapenopleiding vir sy buurtwaglede, ook voortgegaan met sy maandelikse opruimingsprojekte.
Dit kom nadat die burgerregtegroep op 4 Maart ’n ooreenkoms met Tshwane metro onderteken het wat amptelik die wedersydse ondersteuning en gemeenskapsbetrokkenheid by die aanpak van ’n wye reeks projekte in die stad merk.
Die ooreenkoms is om uitdagings aan te pak rakende die beskerming en beveiliging van infrastruktuur en die omgewing van die metro se gemeenskappe.
AfriForum-koördineerder vir Groter Pretoria-Suid, Dewet Ungerer, sê hulle beoog om met die projek Centurion inwoners se daaglikse lewe te verbeter.
Ungerer sê die werk sou ten spyte van die ooreenkoms gedoen word, maar dat die metro se ondersteuning verwelkom word.
“Dit stel die plaaslike tak gerus dat ons weet ons is besig om die metro te help en dat ons die metro se ondersteuning het met alles wat ons aanpak.”
Die tak het 1.6 ton vullis in die gebied bymekaargemaak en weggery, asook 3.5 hektaar gras gesny en 181 onwettige plakkate op sypaadjies verwyder.
“Die vullis is grotendeels van al die skoonmaakprojekte wat suksesvol afgehandel is en ook uit die Pierre van Rynneveld se vullisdromme wat verwyder is,” sê Ungerer.
Hy sê plakkate word deur die stadsverordeninge vir buitelugreklame gereguleer.
Volgens die Tshwane-verordeninge mag enige plakkaat wat sonder die toestemming van die stad of in stryd met die buitelugreklame-verordening opgerig, versprei of vertoon word op eiendom wat deur Tshwane besit word, sonder kennisgewing deur die stad verwyder en vernietig word.
Enige onwettige advertensies kan by outdooradvertisingcomplaints@tshwane.gov.za aangemeld word en moet die ligging, beskrywing en prente insluit indien moontlik.
Ungerer sê inwoners kan ook die tak kontak of ’n klag op die e-Tshwane-platform indien.
Ungerer sê verder die tak se plan vir April is om voort te bou op die projekte wat in Maart begin is om die voorkoms van voorstede in Centurion te verbeter.

Dit sluit in die skoonmaak van middelmannetjies, Centurion misdaadbrandpunte en om parke te onderhou.
“Die opruiming- en instandhoudingswerk word elke dag meer, maar AfriForum se Centurion-tak staan nie terug vir enige uitdagings nie.
“Elke gemeenskapslid se verbintenis tot die burgerregteorganisasie maak dit moontlik vir die Centurion-buurtspan om bietjie vir bietjie die verval om te keer.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


