Local newsNews

Vyf negentigjariges vier saam verjaarsdag in oos-aftreeoord

Geskiedkundige gebeure en populêre kulturele gebeure het vyf negentigerjariges tydens die viering van hul verjaarsdae met 'n glimlag laat terugkyk.

Vyf negentigjariges en hul vriende van die Willow Village-aftreeoord in Pretoria-oos het op 9 April tydens ’n vrolike onthaal saam teruggekyk na wêreldgebeure sedert 1934, die geboortejaar wat hulle deel.

Daar was ’n stil glimlag op die gesigte van die gehoor toe hulle teruggekyk het na geskiedkundige gebeure en films oor die afgelope 90 jaar waarin helde van die ou dae soos Fred Astaire en Elvis Presley gespeel het. Dit was veral ’n opmerking oor die film Seven Brides for Seven Brothers wat ’n paar bejaardes aan die neurie gekry het.

Meelewing is uitgespreek met die rampe en krisisse se slagoffers oor die 90 jaar, soos die 1960 steenkoolmyntragedie, die 1968 SAL228-vliegtuigramp en die Tulbagh-aardbewing in 1969, sowel as die Laingsburg-verdrinkings.

Geskiedkundige gebeure het herinneringe vir talle gebring van mylpale wat in hul eie lewens bereik is, soos toe die Sputnik-satelliet in 1957 gelanseer is, die eerste bikini in die sestigerjare gedra is, die geboorte van die internet in 1983 en Harry se Komeet wat in 1986 te siene was.

Die vyf verjaarsdagmaats, wat in verskillende maande vanjaar die lewensbaken bereik, het saam aan ’n tafel hul verjaarsdae gevier.

Hester du Plessis, beter bekend as Dupie, is oorspronklik van Potchefstroom en is as ’n inwoner bekend vir haar skerp geheue. Sy onthou nog die dokter wat haar die eerste lewenslig laat aanskou het op Kaalplaas waar haar pa die skoolhoof was.

Du Plessis is ’n oud-onderwyseres wat by Morgenzon Laerskool skool gegee het. Sy was met Ockert Fourie getroud en hulle het vir sewe jaar op Bethal gewoon. Sy kyk met liefde terug op haar jare saam met haar vier kinders. Sy woon sedert 2004 in die aftreeoord.

“Hoe geseënd is ons om hierdie ouderdom te bereik! Saam is ons hier in die aftreeoord tot baie dinge in staat en ek glo ons kan nog groter dinge as in die verlede bereik,” sê Du Plessis.

Barry Puttergill is in Port Elizabeth gebore en het as ingenieur ver lewenspaaie gestap. Hy het onder meer in Afrikalande soos Kenia en Botswana gewerk. Hy was 84 jaar oud toe hy, in sy eie woorde, “die boeke toegemaak het” en ophou werk het. Uit sy huwelik is twee kinders gebore. Hy woon al sedert 2017 by die aftreeoord.

Hans Husgen is ’n gebore Duitser wat hom saam met sy vrou, Hanny, in die laat vyftigs in Suid-Afrika kom vestig het. Hy onthou die lang vlug uit Europa na Suid-Afrika van meer as drie dae goed. Hy het 40 jaar vir die ingenieursmaatskappy Siemens gewerk. Hans en Hanny het twee seuns en woon al agt jaar in die aftreeoord na hul verblyf van talle jare in Constantiapark.

Leonica Strydom is ’n gebore Vrystater en een van tien kinders. Sy spot met haar mooi naam en sê “ek dink my ma het nie meer name gehad nie en maak toe die naam op!” Sy het as onderwyseres op Dordrecht gaan vakansie hou en haar man daar ontmoet. Hul twee kinders leef nog. Sy woon al 16 jaar in die aftreeoord.

“Ek is so gelukkig hier want almal is so hulpvaardig,” sê Strydom.

’n Boorling van Villiers, Isabella Cornelius, vertel sy het moeilike jare gedurende haar grootwordtyd op Rooiwal geken. Hul huis is gedurende die Tweede Wêreldoorlog afgebrand en die gesin moes weer hul voete vind.

Sy het haar eggenoot tydens haar werksjare by ’n versekeringsmaatskappy ontmoet. As paartjie het hulle Windhoek gekies om hulself te vestig en twee kinders is uit die huwelik gebore. Een van die hoogtepunte van haar lewe, vertel Cornelius, is die jare toe sy as vrywilliger vir die Kankervereniging as deel van hul Toktokkie-veldtogte gewerk het.

“So ’n liefdestaak oor die jare in mens se lewe bring baie vervulling,” sê Cornelius.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button