Veiligheidswag stabiel na hy beweerde motordiewe betrap
’n Veiligheidswag is gewond terwyl hy beweerde motordiewe Saterdag, 13 April by ’n parkeerterrein by die Afrikaanse Hoër Seunskool omstreeks 12:50 in Lynnwoodweg by ’n Toyota Hilux betrap het.
’n Veiligheidswag is gewond terwyl hy beweerde motordiewe Saterdag, 13 April by ’n parkeerterrein by die Afrikaanse Hoër Seunskool omstreeks 12:50 in Lynnwoodweg by ’n Toyota Hilux betrap het.
’n Woordvoerder van Interactive Security bevestig die wag is tans in ’n stabiele toestand in die hoësorgeenheid van die Netcare911 Milpark-hospitaal in Johannesburg.
Volgens ’n nuusverklaring van die skool het die wag die beweerde voertuigdiewe agternagesit.
Lede van die publiek het alarm gemaak toe hulle die beweerde diewe gewaar het.
Die wag wou die diewe met sy voertuig blokkeer toe hulle wou wegjaag. Hy is gewond toe hulle op hom losgebrand het en het beheer oor sy voertuig verloor.
Tobias Lubbe, die skool se logistieke bestuurder, was tydens die interskole teen Paarl Gimnasium aan diens en eerste op die toneel.
Hy het paramedici van Sportmed ontbied. Hulle was reeds aan diens vir die sportdag op die terrein.
Kruger het die wag gestabiliseer en na die skoolterrein geneem.
’n Helikopter van Netcare911 het hom in sy kritieke toestand na Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg vir noodbehandeling vervoer.
Die veiligheidswag se naam word op versoek van Interactive Security vertroulik gehou.
Volgens die skool se mediaverklaring is die voertuig nie gesteel nie, maar die beweerde voertuigdiewe het weggekom.
Die polisie ondersoek die voorval en het reeds op 15 April Interactive Security vir die doel besoek.
Geen ouer, skolier, ondersteuner of besoeker aan Affies was tydens die voorval buite die skoolterrein in gevaar nie.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria High School for Girls en die Blou Bulle Rugby Maatskappy het reeds sedert 2021 die Loftus Sekuriteitsinisiatief, ’n veiligheids- en sekuriteitsforum, gestig wat addisionele wagte te perd en per motor ontplooi om die omgewing en sy mense elke dag te beveilig.
Die skool sê verdere veiligheidsmaatreëls in samewerking met die Loftus Sekuriteitsinisiatief word ondersoek.
Die beheerliggaam het Maandag, 15 April ’n geskeduleerde vergadering gereël waar die voorval en moontlike oplossings verder bespreek sou word.
Die skool sê hulle dra die veiligheidswag en sy gesin in hul gebede op en vertrou dat hy volkome sal herstel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

