KI: Kopkrap nodig om vrese te kelder
Kunsmatige intelligensie is nie meer net 'n veraf gedagte of begrip nie. Maak seker jy weet genoeg daarvan om in beheer te bly.
Kunsmatige intelligensie (KI) is al ’n ruk lank ’n gonswoord en talle internetgebruikers en sosiale mediaslawe is bang vir die ontwikkeling.
Hierdie vrese is nie ongegrond nie, meen ’n inligtingstegnologiekenner van Pretoria, dr. Coetzee Bester.
Hy het onlangs die onderwerp onder die soeklig geplaas met ’n filosofiese gesprek oor die voordele en moontlike nadele van KI, asook die etiese aspekte daarrondom by ’n vergadering van Philcofeast in Brooklyn op Donderdag, 18 April.
Volgens hom is KI die vinnige skep van inligting met die hulp van robotika volgens persoonlike voorkeure wat ’n individu met enige interaksie met die internet wys.
Bester se uitgangspunt is dat vrese mense weerhou om meer van die onderwerp en die funksie daarvan in hul eie lewens uit te vind.
Sommige van hierdie vrese is geldig, glo hy, en ander wel nie.
“Hoekom is ons angstig hieroor? Bes moontlik omdat ons ’n vrees vir verandering het, nie weet of ons masjiene kan vertrou nie en bang is vir wat ons voel ons nie kan beheer nie,” sê Bester.

Hy het ’n paar gerusstellende gedagtes met die deelnemende gehoor op ’n gevatte en spitsvondige manier gedeel.
“Masjiene is nie altyd intelligent nie. Ons is opgewasse teen hulle. Dink bietjie aan hoe maklik en met hulp, meesal van kleinkinders vir die ouer generasie, het ons tog wel die verstommende wonderwerk van ’n selfoon leer hanteer. Dit moet ’n troos wees. Ons sal ’n klein bietjie meer vertroue in onsself moet openbaar,” verduidelik Bester.
Hy ontmoedig egter nie mense om alle aspekte rondom KI te bevraagteken nie.
“Hierdie vrae moet dikwels draai om ons dilemmas, veral rondom waarhede. Die basiese dilemma is ons voel ons is nie meer in beheer van wat is waar en wat is nie. Ons weet nie meer wat is waar of wat is vals nie want ons weet nie met wie ons praat nie,” verduidelik Bester.
’n Ander onsekerheid wat vrese in die hand werk, volgens Bester, is dat bekende beleidsraamwerke rondom inligtingstegnologie nie van toepassing is op KI nie en dat daar nog nie sulke raamwerke gevestig is nie.
“Wie verantwoordelikheid hiervoor gaan neem om die grense en wetlike aspekte daar te stel, is nog ’n vraag wat nie beantwoord is nie,” meen Bester.
Sy standpunt is tegnologie se invloed op lewens is so goed soos wat individue hierdie impak hanteer.
“Moenie net wag vir ander se opgestelde reëls nie. Speel binne die reëls waarbinne jy veilig voel en wat jy self vir jou en jou gesin opstel soos wat julle met WhatsApp aanstuur of nie,” sê Bester.
Hy het verwys na wat nou in die wêreld as die “sintetiese samelewing” bekend staan.
“Dit is die wêreld wat as gevolg van KI ontstaan. Maar dis nie vir almal aanvaarbaar nie want baie van ons wil bewus wees van wat ons sien,” glo Bester.
Hy het uitgebrei op die gevare van die sogenaamde KI-hallusinasies: Die manier wat robotika taalmodelle gebruik om inligting te skep gegrond op patrone wat nie bestaan nie en dan daarmee vals of verkeerde afleidings en gevolgtrekkings aan die gebruiker bied.
Een van die groot invloede wat KI op die mens kan hê, is volgens hom ’n impak op gesondheid omdat die tyd afgestaan aan inligtingstegnologie sy lewe oorneem.
Oefening, sport en gesonde sosiale omgang sowel as verhoudings kan só in die slag bly.

Bester waarsku dat mense afhanklik kan word van die identiteit wat KI op hul afdwing.
“Onthou, die identiteit soos byvoorbeeld die flieks wat ’n instroomdiens aan jou aanbied as ‘jou’ keuse, is net saamgestel uit logaritmes en afleidings. Watter logaritmes ookal jou interaksie met die internet tot stand laat kom, gaan vir jou ’n sekere identiteit uitspoeg. Dit mag dalk glad nie die ware jy wees nie. Wees versigtig,” maan Bester.
Hy glo elke individu moet sy eie waardes rondom KI ontwikkel om nie in ’n vals wêreld ingetrek te word nie.
“Wees bewus van die gevare. Bly in beheer deur jou eie riglyne te stel. Besluit met enige interaksie met die internet en KI self wat is waar, reg en geldig,” sê Bester.
Deel van ’n manier om beheer te neem, glo Bester, is om terme rondom KI te bemeester.
’n Paar KI-terme om te ken:
– Groot taalmodelle (LLMs – large language models) is masjienleer se manier om data te verstaan, ’n begrip van te vorm en ’n nuwe voorstelling daarvan te maak en aan die gebruiker te bied.
– Masjienleer is die manier hoe robitika geprogrammeer word om by wyse van algoritmes en modelle afleidings oor ’n individu te maak.
– Aanporboodskappe (prompts) is die vraag of opdrag wat jy aan die KI-assistent gee om uit te voer.
– Diepvervalsing (deep fake) vind plaas wanneer boodskappe geskep word deur vals inligting of uitsprake toe te dig aan politici en bekendes en word meesal gedoen om vrees te skep.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
