Groenklower vier 100-jaar van geliefd wees
'n Ontmoeting op die stoep van 'n losieshuis in Arcadia na die 1948-verkiesing het tot 'n leeftyd van geluk vir 'n bekende en geliefde Groenklower gelei.
Die hoogtepunt van Hessella du Preez se lewe was haar troudag.
Hoe dan nou ook anders? Die boorling van Springs het haar eggenoot, Dawie, op ’n spesiale manier tydens ’n grondverskuiwende era in Suid-Afrika se geskiedenis ontmoet.
Sy is die jongste van drie dogters van Hessel en Issie Scholtemeijer van Devon-omgewing en voltooi haar laerskoolloopbaan aan die plaasskool waar haar pa onderwyser was. Daarna gaan sy na die Hoër Volksskool Heidelberg.
Du Preez word op 1 Mei 100 jaar oud, maar roep haar die dag van haar troue in ’n kerk in Troyestraat in Sunnyside en haar bekendstelling aan haar aanstaande eggenoot helder voor die gees.
“My huweliksdag was die grootste oomblik van my lewe. Ons het beide in die Belvedere-losieshuis in Kerkstraat naby die Uniegebou gewoon,” vertel sy in ’n rustige stem.
Alhoewel sy geweet het wie haar aanstaande man was, is sy nooit aan hom voorgestel nie.
In Mei 1948 gaan Suid-Afrika na die stembus. Die uitslae word per kiesafdeling oor die radio bekend gemaak. ’n Klompie inwoners van Belvedere het op die stoep gaan sit en na die uitslag geluister. Die nuus het veral daarrondom gewentel dat Generaal Jan Smuts sy setel verloor het.
“Ek is toe genooi om by die groep aan te sluit en word aan Dawie du Preez voorgestel,” vertel sy.

Die res is geskiedenis. Die gewese inwoner van die Oos-Kaap het toe by die Staatsdienskommisie gewerk. Hulle het op 19 Augustus 1950 in die huwelik getree.
“Ek was baie op my senuwees gewees op my troudag,” lag sy.
Die egpaar het vyf jaar na hul troudag ’n erf in Groenkloof gekoop en ’n huis gebou. Dit sou hulle woonplek wees tot en met Dawie se afsterwe op 14 Oktober 2015.
Du Preez het met haar aankoms in Pretoria van haar geboortedorp Springs eers by ’n motorhandelaar en daarna by die Koringraad en Mielieraad gewerk. Sy los ook af as tikster in die Eerste Minister se kantoor.
Met die geboorte van hulle seun, Francois, hou sy op met werk en vestig haar aandag en energie aan haar gesin. Haar dogter Isabella is in 1959 gebore.
“Na my huweliksdag was die geboorte van my kinders vir my die hoogtepunt van my lewe,” vertel Du Preez.
Die vlytige en besige Du Preez het gou uit hul eie boord in Groenkloof vrugte gepluk en veral lemoenmarmelade saam met haar man gekook en vrugte ingelê.
Van hierdie produkte was trots haar inskrywings by kompetisies van die Vroue Landbou-unie waarvan sy ’n ywerige lid was.
Sy het ook as tydverdryf truie met ’n breimasjien en die hand gebrei.
“Die kinders se eerste gekoopte truie was toe hulle laerskool toe gegaan het,” vertel sy trots.
Sy het tyd afgestaan om met vriendinne soos Liesbet de Kock, Nicolene van Wyk en Vicky Rossouw te kuier.
Dit is veral ook haar en Dawie se jaarlikse kuiers vir meer as tien jaar in die Kruger-wildtuin wat haar sosiale kant na vore gebring het.
“Ek was net bietjie baie bang vir die olifante,” sê sy.
Du Preez was betrokke by die opbou van die NG gemeente Groenkloof, sustersbyeenkomste, het kinderkrans gehou en Bybelstudies gelei.
Sy het uitgebreide navorsing oor haar voorgeslagte gedoen en is trots op haar eie nageslag.
Du Preez spog vandag met vier kleinkinders.
Oor die resep om met grasie ouer te word en ’n gesonde sin vir humor te behou, het Du Preez ’n vonkel in die oog.
“Ek hou aan met lees en nogmaals lees. Ek kry nog elke dag die koerant afgelewer en stel belang in wat om my en in die wêreld aangaan.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
