Local newsNews

Metro is besig om korrupsieringe stelselmatig uit te roei

Die metro se stelsels is lank deur beweerde korrupsie lamgelê, maar deur die identifikasie van korrupsieringe in die stadsadministrasie kan daar 'n einde aan gemaak word.

Die metro het te kampe met korrupsieringe op verskeie vlakke van die stadsadministrasie wat stelsels ontwrig, doelbewus krisisse skep asook omkoopgeld vra en aanvaar.

So het die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Jacqui Uys, op Dinsdag, 23 April aan lede van die Pretoria Sakekamer gesê.

Sommige van hierdie korrupsieringe is reeds geïdentifiseer en amptenare is ontslaan asook voorlopig geskors.

Volgens Uys sal die stadsadministrasie volhou totdat alle korrupsie uitgeroei is.

“Ons sal doen wat gedoen moet word. Dis tyd om ons voet neer te sit, wet en orde te herstel sodat die metro en belastingbetalers nie langer rot en kaal besteel word nie,” maan sy.

Van die beweerde korrupsie sluit omkoopgeld in wat afgedwing is deur sommige amptenare sodat onwettige koppelings nie afgesny en beboet word nie.

“Daar was ’n kultuur van ‘betaal my en ek sal jou nie afsny nie’,” verduidelik Uys.

Sakekamer voorsitter Fergus Ferguson en finansies burgemeesterskomiteelid, Jacqui Uys

Die metro het tans 50 000 konvensionele elektriese meters wat nie gekoppel is nie.

Van altesaam 8 900 voorafaangekoopte meters wat in werking is, kry die metro geen inkomste nie en 30 000 vullisverwyderingsrekeninge is onbetaald.

’n Totaal van 9 000 erfbelastingrekeninge is uitstaande.

Uys benadruk dat daar ook ’n korrupsiering betrokke was by die oop- en toemaak van elektristeitsrekeninge.

Hierdie beweerde korrupsie het tot ’n onnodige agterstand in veral die registrasie van eiendomme gelei.

“Al die regte om sulke aksies uit te voer rondom die oop- en toemaak is egter nou weggevat van sekere afdelings. Die sisteem sal net een rekening registreer en daar sal soos banktransaksies dubbele verifikasies met eenmalige Pins (OTP) wees vir alle rekeninge wat oopgemaak word,” bevestig Uys.

Sy sê sy kan egter darem ook ’n hoopvolle prentjie skets wanneer dit by kredietbeheeradministrasie kom.

Die metro stel aan die einde van Mei een sentrale kantoor in by Tshwane-huis waar amptenare van al die betrokke departemente wat rekeninge uitstuur bymekaar sal kom om meer vloeiende kommunikasie te bewerkstellig.

“So kan rekeningbetalers toegang kry tot topbestuur en nie net sukkel met ’n oproepsentrum nie. Navrae sal meer onmiddellik aangespreek kan word,” sê Uys.

Sy het daarop gewys dat die hele kredietbeheerstelsel van die metro in hersiening geneem word.

“Ons het nie in die laaste jaar die vermoë gehad om behoorlik die metro se debiteureboek van R23-miljard deur te werk en uitstaande fondse behoorlik in te vorder nie,” verduidelik Uys.

Sy en topbestuur het egter sedert Januarie doelgerig gewerk om die 750 grootste dispute rondom die betaling van die metro se rekeninge aan te spreek.

“Ek bel hierdie mense self. Ons het dit nou afgewerk gekry tot 704 aan die einde van April. Dis onnodig dat ons as gevolg van ons debiteureboek R500-miljoen se rente aan Eskom moet betaal,” sê Uys.

Haar ideaal as burgermeesterskomiteelid is om nie heeltyd aandag aan krisisbestuur te gee nie sodat die metro sy mandaat teenoor inwoners kan vervul.

“Ons kan uiteindelik ook vir die eerste keer in agt jaar proaktief begroot vir onderhoud van infrastruktuur,” beklemtoon Uys.

Volgens haar is geld begroot om masjiene te koop om kabelfoute op te spoor sodat inwoners nie so lank soos in die verlede op die herstel van kabels hoef te wag nie.

Daar is ook R60-miljoen op die begroting om te kyk waar die metro water in hul watervoorsieningnetwerk verloor.

Vir die opgradering van paaie is R40-miljoen begroot.

Om verdere stedelike verval in die middestad te voorkom, oorweeg die metro om spesiaal aangepaste tariewe vir grondeienaars en ontwikkelaars in die middestad in te stel.

Lede van die Sakekamer het verskeie vrae rondom onderwerpe soos die 491 forensiese verslae rondom moontlike korrupsie by die administrasie van die Wonderboom-lughawe gevra en kommer is ook uitgespreek oor disfunksionele watersuiweringswerke van die metro.

Uys bevestig dat die metro bewus is dat sulke watersuiweringswerke soos dié van Bronkhorstpruit dikwels voor verkiesings aan vandalisme blootgestel word en die nodige veiligheidsreëlings sal in plek gestel word.

Sy onderneem om met ’n afvaardiging van die Pretoria Sakekamer te ontmoet om spesifieke brandpunte aan te spreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button