Local newsNews

Monument vier suksesse van afgelope drie jaar

Dis vorentoe en vooruit vir die Voortrekkermonument se span wat besoekers besig en veilig moet hou.

Die Voortrekkermonument vier vandeesmaand die suksesse van die afgelope drie jaar met 38 projekte – ’n mylpaal vir die bestuur.

Dit ten spyte van die feit dat in 2020 daar sprake was dat die monument as toeristebestemming gesluit kon word.

“Die monument ontvang geen staatsubsidie nie en ons moes besluit gaan ons voort om die monument as ’n bestemming vir besoekers en inwoners te bedryf of nie,” sê adjunkhoof Petré Theron.

“Daar is besluit om ’n omdraaistrategie in plek te stel en ’n nuwe bestuur het die leiding geneem. Danksy die gemeenskap se inkoop, kan die monument nou met trots terugkyk na alles wat in drie jaar vermag is,”

Na die inwerkingstelling van ‘n omdraaistrategie jaar gelede, het die bestuur en personeel van die Voortrekkermonument veel om op trots te wees. Foto: Elize Parker.

Theron glo die statistiek vertel ’n suksesverhaal van sy eie.

Geloftedag het gegroei van 10 000 mense in 2021 tot meer as 30 000 mense wat dié dag in 2023 by die monument herdenk het.

In 2023 was daar 10 groot feeste op die terrein. Hierdie jaar beplan die monument se bestuur 14 feeste.

“Die publiek kan uitsien na die Mampoerfees, Erfenisfees, Gelofteweek-feesvieringe, Glimlagfees, Jopie-fees en nog baie meer,” sê Henk Maree, hoof van funksies.

Die monument het in drie jaar ook drie nuwe ambassadeurs bygekry: Dricus du Plessis, Adam Tas en Marcell Coetzee.

Van die projekte en ontwikkelinge wat die Voortrekkermonument sedert 2021 suksesvol uitgevoer het, is:

– die opening van die Skool op Wiele Restaurant en die Lewende Laer,
– die historiese fakkelloop van Fort Schanskop na die monument,
– die stigting van die Pro Patria Museum, en
– die instelling van perderitte vir besoekers.

Aan die hoof van die versorging van die perde staan Alissa Gibbon. Dié boorling van Limpopo werk van kleins af op haar ouers se plaas met perde en stel veral belang in die arenawerk wat sy met die perde by die monument kan doen sowel as om die diere voor te berei vir die veldritte.

“Die besoekers geniet dit om tydens ’n rit nog meer van die veld en die geskiedenis van die terrein en Suid-Afrika te leer. Hiervoor moet ons perde goed versorg wees,” sê Gibbon.

Sy glo ’n vernuwende tyd breek aan vir die perde en drie ponies by die monument met die bou van nuwe stalle, die vervanging van kos- en waterbakke en die algehele opgradering van die geliefde diere se geriewe.

Tans werk sy hard daaraan om die ponies meer gewoond aan mense te maak sodat hulle in die toekoms dalk ook deur besoekers gekam en versorg kan word.

“Hulle is nog ietwat aan die wilde kant, maar ons kom goed reg om hulle mensvriendeliker te maak,” glo Gibbon.

Haar gunsteling onder die perde is die hings, Koning. “Hy is soos ons ander perde liefdevol en hou daarvan om te werk,” sê Gibbon.

Ilomie Kruger is die administratiewe bestuurder van die plaaswerfprojek. Sy is trots op die span bestaande uit Francois Coetzee en Chris van der Merwe wat met die dwergbokkies, varke, skape en pluimvee werk en ook ’n ogie hou oor die diere in die veld soos sebras, blesbokke en swartwildebeeste.

Kruger, ’n gekwalifiseerde veldgids, het ook onlangs vir die monument ’n aantal staproetes ontwikkel.

“Hier is ’n ongelooflike groot verskeidenheid toeriste-aantreklikhede op een terrein vir besoekers. My voorkeur lê natuurlik in die veld by die diere en die natuuraanbod,” vertel sy.

Sy noem ook die klein skarnierskilpad, Sondagsrokkie-vlinder en oranjebors laksman wat by die monument te siene is.

Die afgelope jaar het die ervare tuinboukundige, Alan Tait, ’n studie gemaak om die tuine rondom die monument te hervestig asook om aanplantings van medisinale plante te verhoog. Sy deurlopende taak is om die Trekroetetuin in te rig en op te knap asook om die plante rondom die voetstuk van die monument so te vervang dat dit in alle seisoene ornamenteel is.

Alan Tait Foto: Elize Parker

Tait het 28 jaar vir Tshwane as tuinboukundige gewerk en wend veral sy uitgebreide kennis van vetplante aan om die tuine so getrou as moontlik aan die Pretoria-klimaat te hou.

Met ’n uitgebreide biblioteek tuis van tuinboukundige en botaniese boeke, is navorsing onderliggend aan Tait se aanplantingstrategie.

Tans het ’n hy paar proefaanplantings om te sien watter inheemse plante aard die beste in die area.

“Min mense besef ons eerste vetplante het al in 1605 na Europa hul weg gevind en het as medisinale plante gewild geword in tuine in Amsterdam,” deel Tait sy in-diepte kennis.

Hy woon steeds op die landbouhoewe in Centurion waar hy grootgeword het en het veldkennis soos min.

“Ek hou van die uitdaging om op die Trekroetetuin die plante te koppel aan die areas waar die trekkers was, maar ook om rondom die voetstuk van die monument ’n meer formele tuin te vestig.

“Die uitdaging was oorspronklik om die bossies en onkruid ook uit te roei. Nou na so jaar en ’n paar deklae verder, begin die tuin te floreer en begin kleure en geure ons harde werk beloon,” sê Tait.

Uitbreiding van sekuriteit met opgeleide honde is nog een van die suksesvolle projekte.

Veiligheidshoof Danie Dreyer en sy span vat vas met honde, perde, fietse sowel as hommeltuie op die 341 hektaar terrein.

Sy span hondegeleiers, patrolleerders en hommeltuigvlieëniers is verantwoordelik vir 8km lyndraadpatrollies en die veiligheid van 22 geboue.

Die vierpotige K9-span lê die fikse en positiewe Dreyer na aan die hart. Bobaas snuffelhond, Stevo, kan ’n spoor soos min vat, en het ’n hoë veiligheidskwalifikasie verwerf.

Twee Rottweilers, Ellie en Volt, doen ook hul diens getrou sowel as die jongste toevoeging, Maverick.

Hy is trots op ’n onlangse inspeksie deur die owerhede om aan die K9-eenhede en hul geriewe ’n volle permit en lisensie toe te staan.

Sy span is ook volledig opgelei om enige brand te blus.

“Ons span als in om hierdie kosbare erfenis op te pas. Almal se harte in my span is op die regte plek. Hierdie is ons almal se tweede familie,” sê Dreyer.

– Kliek hier om na Anneke Langner te luister oor die projekte van die monument se span.

@rekordpretoria

Anneke Langner vertel oor die projekte by die Voortrekkermonument RekordNewspaper pretoria #voortrekkermonument

♬ original sound – rekordpretoria – rekordpretoria

 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 
Back to top button