Local newsNews

Boustene word hoekstene vir kleingoed

'n Projekbestuurder en sy span se verwagtinge is ver oortref toe die gemeenskap op hul noodroep reageer.

’n Laerskool sal eersdaags gebou word danksy die ruimhartigheid van Pretorianers en diegene wat onlangs in ’n fondsinsamelingsprojek met ’n projekspan hande gevat het.

Michael Joubert, die nasionale projekbestuurder van die organisasie sonder winsbejag, SA Cares for Life, en sy span het beoog om een klaskamer te bou vir die 24 kinders wat daagliks onder hul sorg is.

“Nou kan ons ’n hele laerskool met ses klaskamers bou!” sê Joubert heel bewoë.

Die organisasie het op Cullinan in Zonderwaterweg ’n perseel waarop hulle daagliks vir behoeftige kinders skool en maaltye gee.

Hulle vervoer ook die leerders skool toe en huis toe.

SA Cares for Life het ook ’n skuilhuis in Kilnerpark waar babas en kinders wat deur ’n hofbevel verwyder is, sowel as swanger ma’s sonder ’n heenkome ’n tuiste kan vind.

Joubert en sy span beoog om self die stene vir die bou van die nuwe laerskool op hul perseel te maak.

Dit is juis vir die vervaardiging van die stene wat Joubert en sy span ’n hulproep aan die gemeenskap gemaak het.

Eersdaags sal die steenvervaardigingsmasjien weer aan die gang kan kom met die ruim donasie van ondersteuners en Barmhartige Samaritane via radiostasie GROOTfm 90.5.

Joubert het aan Rekord gesê hul verwagtinge is ver oortref.

“Dit kos R12 om ’n steen te maak en ons het so 4 000 stene vir die projek nodig gehad, oftewel so R280 000. Nou het ons ’n donasie van R365 000 waarmee ons ver kan gaan,” verduidelik die geesdriftige Joubert.

Veel meer as 24 000 stene se vervaardiging is befonds ten einde SA Cares for Life toe te rus om ses klaskamers vir behoeftige kinders se onderrig te bou.

’n Hele aantal van die stene is reeds vervaardig waarmee die reeds gevestigde strukture op SA Cares for Life se perseel gebou is.

Daar is reeds ’n opleidingsdiensentrum, ’n bakkery, koffiebrandery en ’n verkoelkamer vir vleisverwerking.

Joubert verduidelik dat die werklose ouers van die behoeftige kinders die geleentheid sal kry om te help stene maak en te bou en so ’n inkomste kan verdien.

“Ons probeer ’n volledige diens aan die kinders en hul ouers lewer deur hul te gaan haal by hul woonplekke, onderrig te gee sowel as om hulle tydens skoolure van ’n maaltyd te voorsien en met kospakkies huis toe te neem,” verduidelik Joubert.

Die organisasie is reeds vier jaar in die Cullinan-gemeenskap aan die werk en twee onderwyseresse behartig die onderrigwerk.

“Ons uitgangspunt is hoe kan ons die kinders help om dalk nie in dieselfde slaggate as hul ouers te trap met moontlikke verslawings en geen opleiding nie om volhoubare werk te hê? benadruk Joubert.

Sonet Stofberg, projekkoördineerder van die radiostasie, glo hoe meer gemeenskappe kinders leer en herinner aan hulle invloed en waardigheid, hoe minder sal hulle ’n lewe kies wat tweede beste is.

“Deur middel van hulp soos hierdie, beleef en besef nie net kinders nie, maar volwassenes, wat die impak van ’n ‘gee’-, eerder as ’n ontvang’-kultuur kan hê,” sê Stofberg.

Joubert se wenslysie vir die SA Cares for Life skoolprojek is skryfbehoeftes, wit en swart borde om op te skryf sowel as toerusting vir die klaskamers soos lessenaars en stoele.

Vir die kospakkies vir gesinne benodig hulle nie-bederfbare produkte soos blikkieskos, meel en kitssoppoeier. Hy vra dat weldoeners dit by Abbahuis by Friedlandrylaan 36 in die Moot of by die Cullinan-hoofkantoor van SA Cares by Zonderwaterweg (oorkant die NG Kerk) aflaai.

Die organisasie het ook ’n slaghuis op die Cullinan-perseel en kan skenkings van vleis verwerk. Kontak Michael Joubert by 072 594 3998 vir nog besonderhede

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button