Local newsNews

Metro neem sterk stappe teen onwettige strukture in Wonderboom-Suid

Die departement het 'n hooggeregshofbevel verkry om alle onwettige strukture op die betrokke eiendom te sloop.

’n Woonbuurt in Wonderboom-Suid is sedert 2013 in ’n uitgerekte regstryd gewikkel aangesien inwoners met die gevolge van onwettige strukture en moontlike kriminele aktiwiteite in ’n residensiële woonbuurt worstel.

Tshwane se Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning (EDSP) het ’n hooggeregshofbevel verkry om alle onwettige strukture op die betrokke eiendom te sloop.

Die eiendom is in die besit van ’n man wat sy werk in 2012 verloor het en as gevolg hiervan houthuisies opgerig het om uit te verhuur.

Die tydelike strukture, wat sowat 30 mense huisves, het nie behoorlike sanitasie en elektrisiteit nie, wat haglike lewensomstandighede skep.

“Hy stel nie belang om die water- en sanitasieprobleem op te los nie,” meen ’n jare lange vriend wat self daar gebly het. “Ek kry die bure in die area wat elke dag met hierdie gemors moet sit jammer.”

Omliggende inwoners is lank reeds gefrustreerd deur die toestande, met oop vure wat gebruik word om op te kook en ’n enkele buitetoilet wat alle huurders moet gebruik.

As gevolg hiervan gebruik sommige huurders ook die oop area langs ’n nabygeleë stroom as ’n tydelike badkamer.

“Sommige huurders wat daar woon, word gedwing om die oop area langs die spruit as ’n tydelike badkamer te gebruik. Die eiendom het ’n brandpunt geword vir dwelmproduksie en onwettige verkope, wat kwessies van misdaad en veiligheid in die buurt vererger. Die mense breek in en steel oral in die woonbuurt,” het een gefrustreerde inwoner gesê wat annoniem wou bly vir haar veiligheid.

“Dit is kommerwekkend wanneer inwoners toelaat dat hul eiendom ’n gevaar word vir die res van die samelewing,” sê DA-raadslid Elma Nel.

“Mens verstaan dat hierdie man in die knyp was en noodgedwonge ’n plan moes maak, maar die oomblik toe dit ’n informele nedersetting word sonder water en elektrisiteit, het dit ’n direkte gevaar vir die bure geword.”

Een van die houthuise wat opgerig is en uitverhuur word.

Nel meen dat die bure en mense in die omliggende area ook met hulle gesondheid sukkel.

“Die bure woon regtig in gevaarlike omstandighede. Hier is mense wat sukkel met assemhalingsprobleme as gevolg van die gereelde vure wat gemaak word en dit het regtig ’n teerpunt geword vir die buurt.

“Ongelukkig mag nie ék of die polisie privaat eiendom betree nie. Daar is hangende hofsake, maar die hof gee nie vir ons die toestemming om daardie mense daar uit te kry nie,” sê Nel.

In ’n hofuitspraak het die hof die plaaslike owerheid gemagtig om alle onwettige strukture op die eiendom te sloop, met verwysing na talle oortredings van die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde 103 van 1977.

“Daar is egter geen kriminele sake by SAPD gerapporteer nie. Tshwane hanteer hierdie aangeleentheid en hulle het reeds die dagvaardiging op die eienaar geteken,” sê adjudant-offisier, Johan van Dyk, polisiewoordvoerder.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê, “Die stad se Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning (EDSP) het ’n hooggeregshofbevel verkry om al die onwettige strukture (houthuise en pondokke) by die eiendom te sloop. Geen appélle teen die hofbevel is deur die stad ontvang nie. Die EDSP-departement is tans in samewerking met die metropolisie besig om ’n diensverskaffer aan te stel om die hofbevel te implementeer.”

Een van die houthuisies wat uitverhuur word

Hierdie beslissende optrede kom as ’n verligting vir baie inwoners wat voel dat hulle deur die owerhede in die steek gelaat is.

Garrin McKenzie, funksionele hoof van boubeheerstreek 3, het ook kommentaar gelewer oor die kompleksiteit van die aangeleentheid: “’n Lasbrief vir arrestasie is vir die oortreders uitgereik. Die oortreders is 21 dae gegee om die saak reg te stel deur of ’n bouplan in te dien òf alternatiewelik die huis te sloop. Nie een van hierdie twee dinge het gebeur nie.”

Inwoners het hulle intussen tot onkonvensionele metodes gewend, soos die herverspreiding van ekstra asblikke, om die aandag op die raad se verwaarlosing te vestig.

Die voortdurende stryd in Wonderboom-Suid beklemtoon ’n breër kwessie van onwettige behuising en die uitdagings wat plaaslike owerhede in die gesig staar om bouregulasies af te dwing, terwyl menseregte-kwessies gebalanseer word.

Terwyl die gemeenskap op verdere regstappe wag, bly die woonbuurt ’n slagveld van botsende belange, met inwoners wat hoop op ’n oplossing om vrede en veiligheid te herstel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button