Aitsa, kyk net – meer as 500 inskrywings!
Liedjies in vanjaar se Aitsa-toekennings het elkeen 'n storie volgens die kunstenaars – of dit nou die eerste keer in drie jaar is wat 'n geliefde sanger sing of 'n duet met die liefde se oudste boodskap.
Daar was vanjaar bykans 600 inskrywings deur kunstenaars vir die Aitsa-toekennings, bykans 150 meer as verlede jaar.
“Die kompetisie is straf,” sê Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust.
Verskeie kunstenaars van Pretoria is genomineer.
In die kategorie My Kunstenaar is gewilde sanger en skrywer, Riaan Grobler en sy sangmaat Jomari vir hul duet, “Somewhere between” genomineer saam met kunstenaars soos Bernice West en Bok van Blerk.
“Ek en Jomari is baie opgewonde oor die nominasie en het dit glad nie verwag nie. Die kompetisie in die kategorie is sterk en om genomineer te wees tussen sulke groot name is ’n absolute voorreg,” vertel Grobler.
Hy meen musiekliefhebbers hou van die liedjie want nie net kan hulle daarop dans nie, maar hulle kan daarmee identifiseer.
“Uiteraard is dit ’n liefdesliedjie en verskeie mense het nou al laat weet hulle speel dit op hulle troues. Hoe lekker is dit nou maar nie om te weet daar is iemand waarsonder jy nie ’n dag kan gaan nie?” merk Grobler op.
Juanita du Plessis is vir die kategorie Popliedjie van die Jaar genomineer vir haar liedjie “Liewe Jinne”.
“Ek is – soos altyd – nederig dankbaar,” sê Du Plessis.
“Liewe Jinne” was haar eerste nuwe produksie na drie jaar en die reaksie op die liedjie het haar “totaal oorweldig”.
Sy meen die publiek het dit goed ontvang en ondersteun die liedjie nog deurentyd.
“Enige nominasie is altyd vir my ’n eer en ’n voorreg. Om na 25 jaar in die bedryf nog nuwe musiek te kan maak, is absolute genade en ’n geskenk uit God se hand,” sê sy.
Liezel Pieters is met haar liedjie “Waar ek hoort” genomineer in die kategorie Ballade van die Jaar.
“Die liedjie is vir my baie spesiaal omdat dit absoluut net oor die boere gaan en wat hulle vir ons land beteken, en wat dit verg om ’n boer te kan wees,” verduidelik Pieters.
Sy glo dis nie maklik om ’n landbouer te wees nie.
“Dis ’n lied van waardering en dank aan al ons boere in die land! Net soos ons Skepper hul getroue landbouvennoot is, sal ons getrou hulle waardeer vir wat hulle vir ons doen. So, dankie aan elke liewe boer en hierdie nominasie is vir julle,” sê sy.
Riaan Benade het drie nominasies onder meer vir sy liedjies “Boksemdais” en “Stoom”.
“Dit het my ses maande geneem om ‘Stoom’ klaar te maak. Dit gaan oor verhoudings. Ek glo mens moet huwelike en verhoudings interessant maak sodat dit kan hou. ‘Stoom’ gaan daaroor om nie in ’n groef te beland nie,” verduidelik hy.
Hy voel geëerd en dankbaar vir die nominasie.
“Dis lekker om erkenning te kry buiten ons vertoning,” sê Benade.
Musiekliefhebbers het tot 30 Augustus tyd om vir hul gunstelingkunstenaars te stem.
Die skakel om te stem is op Pretoria FM se webblad.
Die toekenningsaand word op 18 September in die 3Ci-ouditorium gehou.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.