Vlieg is nie vir sissies nie, meen armdrukkampioen
Niekie Fourie het al nege keer van die armdruktafels weggestap as kampioen, maar hy het onlangs eers sy grootste vrees oorwin.
Die baardman met die oop en opregte glimlag skuif die sponsstene op die armdruktafel rond en wys met sy elmboog om aan te dui presies hoe belangrik dit is om by hierdie protokol van armdrukkompetisies te hou.
Hy druk sy arm stewig vas en hou sy oop en plat hand uit. Gereed om nog ’n demonstrasie te gee waaroor armdruk as ’n sport gaan.
Die sport is gewilder as ooit volgens die nasionale kampioen van die SA Armdrukfederasie, Niekie Fourie.
Hy het kon al dié prestasie nege keer agter sy naam skryf.
Hy was boonop regterhand- en linkerhandkampioen by die onlangse kampioenskappe.
En daar was legendes in armdruk soos Jean Nel en John MacKechnie.
Hy beywer hom op klubvlak in Gauteng en in sy armdrukgymnasium agter ’n kroeg in Pretoria-Noord om as mentor op te tree vir die jong armdrukkers wat gereed staan om die kuns te bemeester.
Hy staan aan die bestuur van die kroeg dikwels vol ywerige armdrukkers, jonk en oud, mans en vrouens.
Fourie kan saam met die bestes arm druk. Dit was ook die orde van die dag toe hy vroeg in Julie in Kaapstad by die kampioenskappe ingestap het en dadelik ingeval het.

Die geheim wat talle van die toeskouers nie kon raai nie, is dat sy lewensmaat, Nicole Botha, se hand toe reeds wit gedruk is deur Fourie.
En nie in ’n oefening vir die kampioenskappe nie.
Fourie het toe sopas vir die eerste keer in sy lewe gevlieg en as troos het Botha haar hand aangebied.
Al is hy nou so skuins voor 40, het Fourie dit voor hierdie onlangse vlug, nog nooit op ’n vliegtuig gewaag nie weens sy vlugvrees.
Iets wat hy nou nie kan plaas of ’n naam gee nie.
Die man wat reeds vir jare seker maak die handgrepe en liggaamshoudings van ander armdrukkers is tegnies korrek, voordat hy hul arms platdruk op ’n tafel, sit nie sy voete op ’n vliegtuig nie.
Dit verhoed hom ook al jare om internasionaal aan wêreldkampioenskappe deel te neem.
Maar wie weet, na hierdie eerste vlug van OR Tambo na Kaapstad Internasionaal, kan dinge dalk verander?
“Dit was die langste twee ure van my lewe,” vertel Fourie.
Hierdie familieman is geen breker nie. Geen alkohol of sigarette word naby enige armdrukkompetisie of in sy armdrukgymnasium toegelaat nie.
Die saamgestelde gesin het ook twee ouer kinders sowel as hul eie spruit, twee-maande oue Lian: Niekie Junior (10) en Miné (8).
Botha beskryf Fourie as ’n “ou softie”.
Vir hom gaan dit oor die groei van die sport en om dit as ’n professionele sport uit te bou en geregistreer te kry.
Saam met die voorsitter van die SA Armdrukfederasie, Rosemary Botha, maak hulle vordering. Daar is reeds vyf armdruk-klubs in Gauteng.
’n Aansoek is reeds by die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee ingedien sodat kampioen armdrukkers ook Protea-kleure kan verwerf.
Fourie is self besig om homself as meester-skeidsregter in die sport te bekwaam.
“Die groei van die sport beïndruk my. So paar jaar terug kon ek in die kampioenskappe instap in die Kaap en daar was ses lede per provinsie ingeskryf. Nou stap ek dieselfde saal binne en daar sit 400 armdrukkers,” vertel hy laggend.
Die oudleerling van skole in Pretoria-Noord beoefen die sport sedert 2009 toe hy besluit het hy wil die beste armdrukker in SA wees.
“Ek het vir my verskeie doelwitte gestel en het in die oop klasse begin deelneem. Met ’n passie vir hierdie sport, gaan jy ver kom,” vertel hy.
Hy oefen so vier dae ’n week in die gymnasium, maar is op geen spesiale eetplan nie.
“Ek eet wat op my bord is. Ek is net groot gebou en het groot hande,” sê hy.
Hy raai jong seuns aan om enige tyd van 14 jaar oud te kyk of hulle wil deelneem.
“Om jouself te kan handhaaf, sorg vir baie selfvertroue en gee jou nogals so bietjie spogregte,” vertel Fourie.
Fourie glo die jong armdrukkers wat in sy gymnasium kom leer en afronding kry, moet tegnies gereed wees vir kampioenskappe om veral beserings te vermy.
Hy waak veral teen armbeserings by diegene wat hy leer om in sy spesiale toprol-wentegniek te spesialiseer.
Self het hy nou nie in hierdie liggaamsarea juis ’n probleem nie. Volgens die organiseerders van die onlangse SA-kampioenskappe het Fourie die grootste arms op die toernooi gehad.
“Maar hy het beslis die kleinste hartjie,” sê Botha en plaas die kleine Lian in die mandjie van sy pa se groot arms.
Kliek hier om meer van die sport te wete te kom:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
