Bekende ondersoeker gevra om Waterkloof-beweringe te ondersoek
Een van die land se bekendste ondersoekers is genader om verskeie beweringe by 'n spogskool te ondersoek.

Die bekende ondersoeker, Mike Bolhuis, is deur die personeel, ouers en leerders van Hoërskool Waterkloof aangestel op 23 Oktober om volgens hom “kwessies te ondersoek wat die welsyn van leerders en die skool se reputasie raak”.

Bolhuis het bevestig dat sy firma, Specialised Security Services, getaak is om alle inligting en versoeke rondom bewerings teen die skool se beheerliggaam, skoolbestuur, personeel en leerders onder die loep te neem en daaroor verslag te doen.
“Hierdie bewerings sluit in seksuele aanranding, seksuele teistering, intimidasie, viktimisasie, nepotisme en crimen injuria,” verduidelik Bolhuis.
Volgens hom is beweringe rondom moontlike finansiële ongerymhede en die afdwing van godsdienstige oortuigings by die skool deel van die ondersoek.
Die skool was in Oktober in die kalklig toe ’n groep ouers klagtes via ’n prokureur by die Gautengse Departement van Onderwys teen die skoolhoof, Chris Denysschen, aanhangig gemaak het rondom verskeie van die beweringe wat Bolhuis nou volgens opdrag moet ondersoek.

’n Groep ouers en leerders het vir die skoolhoof in die bresse getree en by wyse van ’n Facebook-groep in ’n verklaring hul steun aan die skoolhoof toegeê.
Bolhuis het enigiemand met inligting in verband met bogenoemde beweringe gevra om hom en sy span te kontak so gou as moontlik.
“Neem kennis ons sal alle onskuldige partye sowel as partye wat hierdeur geraak word van die Hoërskool Waterkloof, ondersteun en beskerm,” sê Bolhuis.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse Departement van Onderwys, wou op navraag van Rekord geen besonderhede verstrek van hoe ver die ondersoek tans is of waar en in watter hoedanigheid Denysschen hom tans in terme van sy onderwysloopbaan bevind nie.
Mabona het met die aankondiging van die ondersoek rondom die beweringe teen die skoolhoof, aangekondig dat die ondersoek teen hom volgens departmentele regulasies binne ’n tydperk van 90 dae moet plaasvind.
Die skoolhoof is op 17 September tydelik van sy pligte onthef en verplaas na die department se administratiewe kantore in Pretoria, maar het volgens sy verteenwoordigers by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie, ’n kort ruk daarna op mediese verlof gegaan.
Een van die omstrede beweringe rondom moontlike finansiële wanadministrasie, raak glo die bou van ’n ouditorium van miljoene op die skoolterrein.
Die ouditorium is sedertdien in diens geneem op 18 Oktober en die matriekeksamens word sedert 22 Okotber in die nuwe saal afgelê volgens die skool se Faceboek-bladsy.
Juan Nagel is tans die waarnemende hoof.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
