Unieke laboratorium maak deure vir leerders oop
Met sy unieke visuele en praktiese ontwerpe is die leerders by Laerskool Garsfontein nou toegerus om wetenskapvakke in 'n multisensoriese laboratorium aan te pak.
Laerskool Garsfontein het op 22 Januarie hul eie multisensoriese wetenskaplaboratorium ingewy.
Skoolhoof Neels Snyman en bestuurliggaamsvoorsitter, Gerhard van Wyk, het ’n reuselint voor die deur na die klas geknip en ’n groep ouers, onderwysers en borge deur die laboratorium vergesel.
Snyman wys daarop dat leerders nou al op ’n interaktiewe manier vir die arbeidsmark voorberei moet word en dat geriewe soos dié unieke laboratorium ’n stap in die regte rigting is.

“Ons sal nooit die tradisionele leermetodes by die deur uitgooi nie, maar vul dit met tegnologie aan soos met hierdie laboratorium wat die eerste van sy soort in die land is. Dit was elke sent werd. Dis ons droom om op elke vakgebied waar dit kan, so ’n verbeeldingryke ruimte aan leerders te bied,” beklemtoon Snyman.
Die laboratorium was die droom van twee leerkragte, Linda Wonigkeit en Lou-Anne Maritz. Die ontwerper, Christopher de Bod, het gestalte aan hul gedagtes gegee.
Maritz verduidelik die laboratorium spreek temas soos planete, lewe en lewendige dinge sowel as energie, aan.
“Ons fokus op die toepassings van die teoretiese kennis,” sê sy.
Binne die laboratorium maak jy kennis met ’n miershoop agter glas, ’n tuiste vir paddas en planete wat plante wat in proefbuise groei. Teen die plafon hang planete wat aanflikker met die druk van ’n knoppie en sonkragpanele is gekoppel aan elektriese toestelle sodat die krag wat verbruik word, waargeneem kan word.

Maritz is ook trots op plakkate van bekende wetenskaplikes wat naby aan hul uitvindsels pryk.
Beheerliggaamvoorsitter ,Gerhard van Wyk, glo die nuwe laboratorium kan leergierigheid by die leerders stimuleer.
“Ek wil graag die leerders aanmoedig: Laat jou nuuskierigheid jou lei. Elke groot uitvinding begin met ’n vraag en die begeerte om die antwoord te kry.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


