NewsSchools

Tradisies anker van skole se 105de bestaansjaarsvieringe

Die twee vooraanstaande skole het met hul vyfjaarlikse tradisie van die “Groot Stap” hul 105de skoolherdenking gevier.

Die Afrikaanse Hoër Seunsskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se meer as 3 000 leerlinge het vroegoggend op 28 Januarie 2025 voor die seunsskool se skoolgebou versamel om die skole se 105de-verjaarsdagvieringe met ’n groepfoto af te skop.

Die skole se geboortedag spruit uit ’n samekoms op 28 Januarie 1920 van 44 leerlinge (seuns en dogters) en drie onderwysers in die woonhuis van Jan Joubert by 218 Visagiestraat om die Afrikaanse Hoërskool tot stand te bring.

Uit die skool se joernaal op die datum 28 Januarie 1920 toon die inskrywing dat Miss de Vos en mnr. D Malan assistente was met Mnr JAK de Lange as waarnemende hoof.

“Dit was ’n nederige begin, maar gerig deur ’n droom wat waar sou word vir Afrikaans en onderwys,” sê Isabel Troskie, waarnemende skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

Die leerders van beide skole het ook op die 28ste na Burgerspark in die middestad van Pretoria met busse vertrek, en ’n byeenkoms gehou naby aan waar die eerste skoolgebou, die woonhuis van Joubert, gestaan het.

Die tradisionele feesoptog deur beide skole, wat sedert 1995 elke vyf jaar geskied, het ook in Burgerspark plaasgevind.

Peregrine Joynt, skoolhoof van die seunsskool, het tydens die Burgerspark-besoek ’n houtbalk uit die oorspronklike skoolgebou aan die hoofseun, Andru van Zyl, in die park oorhandig.

Vandaar het leerders en personeel van albei skole in ’n feestelike luim, met baniere en vaandels, tot by die seunsskool gestap waar hulle op ’n worsbroodjie en ’n koeldrank trakteer is.

Voor die vertrek na Burgerspark is daar by die seunskool ’n toespraak gelewer deur Dr. Pierre Edwards, vanaf 1992 tot 2018, oor die skool se geskiedenis.

By die meisieskool is daar voor die vertrek voormalige hoofde en onderwyseresse tydens ’n saalbyeenkoms verwelkom en is die dogters herinner aan die waardes waarvoor die skool staan.

Isabel Troskie, waarnemende skoolhoof van die meisieskool is al vir 35 van die 105 jaar aan die skool verbonde nadat sy daar as ’n 28-jarige onderwyseres begin het.

Sy is veral trots op die vestiging van eienskappe, soos dissipline en vroulikheid, by die dogters wat sy meen die meisieskool deurentyd kon handhaaf.

“Die eienskappe verteenwoordig die tradisies en waardes waarvoor die pioniers die skool begin het,” sê sy.

Mila Labuschagne (links) het haar 17de verjaarsdag saam met die 105de verjaarsdag van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria gevier. Saam met haar is Lindie Louw, Janie Potgieter en Loekie Rademeyer.

Vir haar is dit besonders dat daar vyf jaar voor die totstandkoming van Afrikaans as amptelike taal in 1925 reeds beslag gegee is aan die Afrikaanse Hoërskool waaruit die meisie- en seunsskool ontstaan het.

Sy wys daarop dat daar eersdaags gestalte sal gee aan die volgehoue en langdurende verbintenis tussen die skole met die bou van ’n brug oor Lynnwoodweg waarmee leerders, ouers en onderwysers op ’n veilige manier van skoolkampus tot skoolkampus kan stap.

“Twee vaar beter as een. Om die verbintenis tussen die skole volhoubaar uit te bou, bly ons visie en die brug sal ook ’n simbool hiervan wees,” vertel Troskie.

Affies se hoofseun Andru van Zyl en skoolhoof Peregrine Joynt met ‘n stuk van ‘n balk uit die oorspronklike huis waar die Afrikaanse Hoërskool gevestig is.

Vir Peregrine Joynt, skoolhoof van die seunsskool, is een van die mylpale van die 105 jaar die totstandkoming van ’n bundel wat die geskiedenis van die skool omvattend beskryf.

“Ten spyte van aansienlike uitdagings in die onderwys, kon ons ook eilande van uitnemendheid vestig en tradisies onderhou,” wys Joynt uit.

Vir hom is die balke uit die Jouberthuis sowel as die optog van Burgerspark na die skool tasbare simbole van die skole se erfenisingesteldheid.

“Dit beklemtoon die samehorigheid tussen ons skole en is ’n blyk van hoeveel ons die geskiedenis na waarde skat.”

Kliek hier om die bestaansvieringe te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button