Jy kan ‘n ou hond nuwe toertjies leer, sê hondehanteerder
Bianca Fourie, ’n oudleerder van Hoërskool Centurion en Laerskool Louis Leipoldt, glo mens kan ’n ou hond nuwe toertjies leer.
Behalwe om al vroegoggend die werkshonde van ’n hondeopleidingsentrum vir ’n stappie te neem, is die ander daaglikse wandeling wat ’n toegewyde hondehanteerder graag neem, ’n energieke wandeling met haar eie hond, Brizbi.
Bianca Fourie, ’n oudleerder van Hoërskool Centurion en Laerskool Louis Leipoldt, glo mens kan ’n ou hond nuwe toertjies leer.
Dit is presies wat sy met haar 12-jarige Jack Russell, Brizbi, reggekry het. Dié kortbeen-buksies is bekend vir hul leeuemoed en ondersoekende natuur.
Fourie wou Brizbi van die toertjies leer wat sy daagliks in haar rol as vrywilliger by ’n opleidingskool vir honde en hanteerders gebruik.
“Ek en Brizbi stap al ’n pad van 2012 [saam]. Al werk ek nou al vir ’n paar jaar met honde, het ek hom nog nooit werklik geleer en opgelei soos wat ons met die werkshonde doen nie. Onlangs het ek hom geleer om ’n weggesteekte voorwerp te vind. Hy het die voorwerp een, twee, drie opgespoor en nou is hy so slim soos die werkshonde. Elke hond kry sy dag en Brizbi het syne gehad toe hy allerhande kunsies bemeester het,” vertel sy.
Vir dié rede het sy ook wegkruipspeletjies met Brizbi begin speel. Gou was dit een-twee-drie-blok-myself vir die slim hondjie.
Hy het so goed gevaar dat hy onlangs vir ’n Canine Good Citizen-toekenning gekwalifiseer het en kan nou ook talle behendigheidspeletjies in ’n hindernisbaan baasraak.
Om hiervoor te kwalifiseer moet ’n hond sekere persoonlikheidseienskappe kan openbaar soos dat hy simpatiek met mense kan werk asook seker vaardighede kan baasraak.
“Soms as ek met ’n oomblik se breinfloute vergeet hoe die hindernisbaan werk, onthou die honde dikwels die uitleg van die baan. Brizbi het ook ’n goeie geheue hiervoor,” lag die natuurliefhebber.
Sy is ingestel op die natuur en glo veral soggens is dit nodig om ver met die werkershonde te stap sodat die hond sy energie kan fokus vir die dag.
“Die natuur weer help my om te herlaai,” glo Fourie.
Sy glo gehoorsaamheid in ’n hond word uit vertroue gebore wat met interaksie, speel en beweging opgebou kan word.
Haar belangstelling om ’n loopbaan rondom honde te bou, is gestimuleer na blootstelling aan Dave Harris se opleidingsakademie vir sporthonde.
Deelname aan sulke honde-sportsoorte toets ’n hond se werksvermoë, intelligensie en uithouvermoë.
Daarna het sy opleiding as ’n hondehanteerder ondergaan by Genesis K9 Group waar sy tans betrokke is as vrywilliger.
Hondehantering is ’n werk wat sy veral vir nuwe werksoekers vanjaar aanbeveel.
Fourie vertel ook hoe die honde-opleidingsmaatskappy opleiding gee aan werkshonde met ’n sterk begeerte om te werk, sowel as moed, intelligensie, opleibaarheid, ’n beskermende instink en reuksintuig toon.
Van die honde word landwyd ingespan deur veiligheidsmaatskappye as snuffelhonde om byvoorbeeld ’n span in staat te stel om ’n gebou springstofvry te verklaar.
Hulle verskaf ook opleiding aan hondehanteerders in die Krugerwildtuin en aan munisipaliteite soos die Overberg-munisipaliteit waar hulle honde leer om perlemoen by stropers op te spoor.
Sy het in ’n stadium belang gestel om ’n loopbaan in animasie te volg, maar haar liefde vir honde en hul opleiding het haar ’n keuse laat maak om ’n hondehanteerder te word.
“Ek was van kleintyd net eenvoudig mal oor honde,” sê die borrelende Fourie wat in Pierre van Ryneveldpark grootgeword het en nou in haar dertigs is.
Sy woon saam met die span op die terrein in Pretoria-oos waar die honde opgelei word.
Fourie glo jy moet jou energie gebruik om ’n hond te motiveer om aan jou bevele gehoorsaam te wees.
“Jy moet aan die hond kan wys jy is positief oor hom en jul verhouding, en lewendig teenoor hom optree. Jy kan nie ’n dooierige en vervelige persoon wees en dink honde gaan jou bevele gehoorsaam nie. Gedrag wat liefs vermy moet word, kan jy ’n einde aan maak deur die dier te ignoreer en weg te kyk. Dit is uiteindelik jou stemtoon wat die knoop sal deurhak. Onthou vir jou hond is als ’n speletjie.”
Sy glo ook daaraan dat die regte toerusting, soos die regte harnas, vir opleiding van honde gebruik moet word.
Vir Fourie is dit belangrik om fiks en sterk te wees om al haar verpligtinge as hondehanteerder na te kom. Sy glo ook in ’n daaglikse stiltetyd soggens nadat sy die honde gestap, water en kos gegee en hul hokke versorg het.
“Ons leier by Genesis K9, Thys Kleyn, leer ons met die regte oefenprogram hoe belangrik is fiksheid en om ’n goeie balans in jou lewe te handhaaf. Ek sê gou vir my maats: ‘Los die gym, en gaan stap eerder soos ek en Brizbi’.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


