News

Metro en AfriForum vergader om probleme uit te stryk

Die burgerregteorganisasie het in die bestek van twee maande twee vergaderings by Tshwane-huis bygewoon om die pad vorentoe met die metro te bespreek.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in Desember en Januarie twee vergaderings met die bestuur van die metro by Tshwane-huis afgelê om strydpunte te bespreek en voorstelle te oorweeg.

Die eerste vergadering het gevolg op burgemeester dr. Nasiphi Moya se aankondiging op 28 Oktober 2024 dat die samewerkingsooreenkomste van die metro met organisasies soos nie-winsgewende organisasies, gemeenskapsverbeteringsprojekte en burgerregteorganisasies soos AfriForum deur die metro hersien sal word.

Sy het die hersieningsproses aangekondig nadat kommer in ’n raadsvergadering geopper is oor die ongelykheid in hulpbrontoewysing tussen welvarende gebiede en ander dele van die stad.

Llewellyn Hemmens, woordvoerder van AfriForum, het aan Rekord bevestig dat die vergadering oor die samewerkingsooreenkomste wel reeds in Desember plaasgevind het en dat die uitkoms daarvan eersdaags bekend gemaak sal word.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo bevestig dat beide die burgemeester en die adjunk-burgemeester, Eugene Modise, die vergadering bygewoon het.

“Die vergadering was omvattend en produktief,” sê Mashigo.

’n Tweede vergadering tussen die organisasie en die metro is in laat-Januarie gehou waartydens ’n voorstel van die organisasie bespreek is om ’n model vir afvalbestuur te oorweeg.

Hierdie model stel voor die inwoners moet die keuse gegee word om van die metro se dienste gebruik te maak óf van private diensverskaffers.

“Hierdie benadering sal druk van die munisipaliteit afhaal en die bestuur van vullis deurlopend verbeter. Selfs tydens arbeidsgeskille sal die metro nie onder vullis begrawe word nie, want ander diensverskaffers sal steeds vullis kan sorteer en verwyder,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van veiligheid in die Noordstreek.

Die burgerregteorganisasie het al vroeg in 2025 sy herwinningsprojek in gebiede soos Groenkloof vergroot en beplan om dit na ander areas in Pretoria soos die Moot uit te brei.

AfriForum-buurtspanne in Pretoria het in 2024 nagenoeg 15 517 sakke vullis verwyder en 43 560kg vullis herwin.

Die organisasie het na die tweede vergadering ’n beroep op die Tshwane-metro gedoen om hierdie voorstel te ondersoek en die nodige stappe te doen om voortslepende probleme die hoof te bied.

Hy sê die metro oorweeg tans die voorstel en nog ’n moontlike vergadering word in die vooruitsig gestel.

Intussen is die aanklagte teen AfriForum Groter Moot se buurtspanvoorman, Henk Niemann, op 28 Januarie teruggetrek deur die munisipale hof in Wonderboom.

’n Boete is op 29 Augustus 2024 deur die metropolisie uitgereik omdat die organisasie se buurtspan glo besig was om rommel onwettig in ’n spruit in die Moot te stort.

’n Bakkie en ’n sleepwa van Saalsak Sleepwaens wat deur die organisasie hiervoor ingespan was, was gekonfiskeer.

Die buurtspan was egter besig om bourommel op te ruim uit die spruit by 14de Laan en Louis Trichardtstraat waarvoor die buurtak se lede donasies gegee het.

Alhoewel hul denkfout aan die metropolisie uitgewys is, is ’n boete van R5 000 uitgeskryf.

Op 28 Januarie is die boete en gepaardgaande aanklag teruggetrek in die munisipale hof. Die voertuie is al in 2024 aan die organisasie terug besorg.

Andries Opperman, AfriForum-woordvoerder, sê hulle het tydens die voorval “dit absurd gevind dat die Stadsraad wat self veronderstel is om die diens te lewer maar versuim om dit te doen, die gemeenskap vervolg”.

Opperman glo dit is ’n verleentheid vir die metro dat belastingbetalers nou weer geld moet uithaal om privaat die dienste te lewer.

“Wat dit nog vererger, is dat daar nie eers een enkele bywet deur die gemeenskap oortree was nie. Die bewyse was voor die hand
liggend dat die buurtspan nie besig was om onwettig te stort nie, maar juis besig was om onwettige storting op te ruim.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button