Musikante tokkel paar liedjies by jaarvergadering
Tydens die jaarvergadering van die ATKV Centurion-tak het musikante gesorg dat die verrigtinge vrolik verloop.
Dis ’n jaarvergadering met ’n verskil waar daar sommer ook by getokkel word as die agenda klaar bespreek is.
En nie sommer sulke liedjies nie! Kulturele tradisionele liedtjies soos: “Die Kalfiewals”, “Al lê die Berge nog so blou” en “Suikerbossie”.
Dis nou die ATKV Centurion-tak se algemene jaarvergadering wat op 1 Februarie in die restaurant van die Centurion-teater gehou is onder voorsitterskap van Willie Jooste.
Hoe dan nou anders? Hierdie tak bedryf ’n musiekforum.
Die gevolg is dat omtrent 80% van al hul bedrywighede en funksies plaasvind rondom musiek by kulturele feeste en gemeenskapsfunksies.
Jooste het dan ook sy waardering uitgespreek vir die beskikbaarstelling van die restaurant deur die bestuur van die teater.
Die vergadering is bygewoon deur die volgende hooggeplaastes:
– Marius Janse van Rensburg van die Bloukoei Musiekgroep,
– Niel Robbertse, nuutverkose hoof uitvoerende beampte van die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika, asook
– Lucia van Wyk, hoof uitvoerende beampte van die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys.
’n Paar musikante het die vergadering opgehelder met verskeie Afrikaanse liedjies wat hulle op hul instrumente gespeel het.
“Hierdie was ’n briljante, spontane saamjôl sonder vooraf inoefening en baie goed op die oor!” sê Rommel van der Riet, takwoordvoerder.

Talle hoogtepunte van die tak se prestasies in 2024 is bespreek by die jaarvergadering soos twee optredes van musikante van die tak by die ATKV Klein Kariba Vakansie Oord, onder andere die Afrikiti-fees asook die die Olifant Oasis Fees te Naboomspruit.
Die musikante het ook kerskonsertgangers by die kersliggie-aanbieding van sang en musiek by die Leeupoort Vakansiedorp vermaak en tydens verskeie aanbiedinge van musiek by aftree-oorde en ouetehuise gehou.
Van der Riet sê planne wat gemaak is vir 2025 sluit in optredes by kulturele feeste waar die musikante alreeds vir die afgelope paar jaar betrokke is en ook optredes tydens die uitreikprojekte na die gemeenskap.
Hy verduidelik die jaartema van die ATKV vir 2024 was die ankers wat nodig is vir ’n mens of ’n lid om te floreer: gemeenskap, omgewing en verbintenis.
“Dit beskryf ook in ’n neutedop presies die strewe en verbintenis van ons tak al vir ons bestaan van 30 jaar om uit te reik na die gemeenskap van Centurion,” wys Van der Riet uit.
Dit was vir die bestuur ook ’n riem onder die hart toe Boet Neethling besoek afgelê het. Hy woon tans in Los Angeles in die VSA en is ’n besonderse goeie klawerbordspeler wat gereeld daar optree in verskeie orkeste en kon van sy optredes vertel waartydens hy veral jazz en Countrymusiek speel.
“Hy het natuurlik ook ’n voorliefde vir ons taal, kultuur en musiek en het tydens sy besoek hier by ons, heerlik saamgespeel met een van ons Boere-orkeste by ’n optrede,” sê Van der Riet.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
