News

Wilde kat of rondloperkat? So kan jy ‘n katlewe red

'n Groep dierewelsynsaktiviste glo dis belangrik vir katte se oorlewing dat daar 'n verskil getref kan word tussen rondloperkatte en wilde katte. 'n Geselserige kat wat nou vermis word, Billy, is vir hulle 'n voorbeeld hiervan.

Meer as 22% van SA se 18.6 miljoen honde en katte – oftewel net meer as vier miljoen – het nie ’n formele tuiste of ’n spesifieke eienaar nie, volgens navorsers in die State of Pet Homelessness Project.

Dié verslag is duidelik daaroor dat al leef 22% van Suid-Afrika se troeteldiere op straat, impliseer dit nie hulle is geheel en al sonder ’n eienaar, versorger of tuiste nie. Talle van hierdie diere ontvang wel sorg op ’n informele manier, volgens Wellbeing International – een van die organisasies wat data vir die projek gelewer het.

Een so ’n organisasie wat dit uit liefde en op ’n vrywillige basis doen vir wilde en hawelose katte, is Sterrewag Ferals. Hulle werk met die wilde katte volgens ’n Vang-Steriliseer-Loslaat-program.

“Ons is nie ’n geregistreerde organisasie nie, net ’n groep individue wat nie ons rug op diere in nood kan keer nie,” vertel Antoinette Van der Merwe. Sy wy saam met ’n groep mense hulle daaraan toe om die lewens van vergete katte te verbeter.

Hulle sorg vir ’n wilde-kat kolonie in Sterrewag (naby Waterkloof) en werf borge om te help met kos, mediese kostes en sterilisasies.

Van der Merwe glo dit is belangrik dat daar ’n verskil getref moet word tussen wilde katte en katte van wie die eienaars hul versaak het en wat sonder tuistes of eienaars leef en op hul eie probeer regkom.

Nie alle ronddwalende katte (wat in die strate en tussen huise beweeg sonder toesig) kan rondloperdiere genoem word nie. Ware rondloperdiere is deur hul eienaars weggegooi of versaak, op die straat gebore en het niemand om na hul om te sien nie. Hierdie diere ontbeer baie in hul soeke na kos, water en skuiling, het geen mediese sorg nie en kry nie liefde en aandag nie.

“’n Rondloperkat was eens ’n troeteldier, maar het verlore of verlate geraak. Hulle kan óf met hul gesinne herenig word as hulle verlore raak óf hergesosialiseer en in liefdevolle huise geplaas word,” verduidelik sy.

’n Wilde kat daarenteen het selde kontak met mense gehad of kontak met mense het mettertyd verdwyn. Sulke katte oorleef op hul eie, is bang vir mense en sal wegkruip. Hulle verkies om buite te woon en sal nie maklik na binne kom nie. Wilde katte kan dikwels nie vir aanneming by diereskuilings opgegee word nie aangesien hulle nie sal aanpas nie.

“’n Wilde kat is ’n eienaarlose kat wat in die buitelug woon en nie gesosialiseer kan word nie. So ’n kat het ’n wilde kat ma of die kat het na ’n wilde toestand teruggekeer nadat dit verlaat is. Hierdie katte kan gewoonlik nie aangeneem word nie, maar kan veilig leef in bestuurde kolonies met behoorlike sorg.”

Hierdie verskil en hoe belangrik dit is om dit te kan tref, het onlangs weer vir haar duidelik na vore gekom met Billy, ’n kat in Capital Park in die Moot, wat verkeerdelik vir ’n wilde kat aangesien is. Billy is deur ’n inwoner in ’n lokval gevang nadat hy veel onrus in die buurt in sy desperate soeke na kos veroorsaak het, met veral alarms wat tydig en ontydig afgegaan het.

Sterrewag Ferals is gekontak om hom in te neem.

“Dit het gou duidelik geword Billy was nie waarlik ’n wilde kat nie maar eerder ’n verlore kat. Nadat Sterrewag Ferals met die hulp van ondersteuners hom gesteriliseer, ontvlooi en behandel het vir tandvleisontsteking sowel as al sy inentings laat kry het, het hy met goeie sorg en liefde so floreer dat hy ’n kletsbekkie geword het en heerlik kon saamgesels met sy pleegsorgma. Die bang kat het ’n troetelkat geword by sy pleegma,” vertel Van der Merwe.

Tans help haar groep ook by ’n groot kolonie in Pretoria-Wes en by Petronella-hoewes in Pretoria-Noord met kos, om te vang, te steriliseer en in te ent.

“Ons werk nou saam met ander welsynsorganisasies om te help met pleegsorg en steun op hulle ondervinding en raad.”

Sy verduidelik omdat hierdie katte waarlik wilde katte is, kan hulle nie hervestig word of vir aanneming gegee word nie.

Om sulke kolonies wel te ondersteun nadat die wilde katte teruggeplaas is, word voedingstasies opgestel om gereelde en hoë gehalte kos te voorsien en die diere se gesondheid te monitor.

Billy, die rondloperkat wat vir ‘n wilde kat aangesien is, maar wel gered kon word en waarvoor ‘n huis gevind is. Billy het egter weer die pad gevat en is steeds soek.

Sterrewag Ferals het verlede jaar in totaal 43 katte gesteriliseer.

Van der Merwe vertel klein katjies, wat wel gesosialiseer kan word, word deur haar organisasie in pleegsorg geplaas en vir aanneming voorberei by wyse van ontwurming, aanvanklike inentings, mikroskyfie-identifisering en sterilisasie op ses maande. Alle aannemings verg ’n tuisinspeksie.

“Omdat daar bevind is Billy is nie werklik ’n wilde kat nie, maar ’n kat wat deur sy eienaar versaak is en ’n straatgebaseerde lewe moes lei, kon ons ’n tuiste vir hom vind. Maar hy het ongelukkig binne twee dae ontsnap van sy nuwe huis in Mayville en is sedert 1 Desember nog soek.”

Vir Van der Merwe en haar groep het Billy se verdwyning groot trauma veroorsaak.

Dierewelsynsgroepe is daaroor ingelig, daar is wyd adverteer en ’n snuffelhond is ingebring om hom te soek, maar dis steeds onverrigter sake.

“Ons hoop nog steeds om hom te vind sodat Billy nie nog een van Pretoria se vergete, agtergelate katte word of dalk weer aangesien word vir ’n wilde kat wat nie versorging nodig het nie.”

Indien jy dalk vir Billy gewaar, skakel Antoinette by 082 597 4150.

Sterrewag Ferals se wenslysie:
– Nat en droë katjie-/katkos (Sterrewag Ferals gaan deur ongeveer 100kg droë kos per maand),
– ontwurmingsprodukte,
– teenbosluis en teenvlooibehandeling,
– katsand vir pleegkatte,
– hulp met veeartsrekeninge en
– skenkings van bruikbare, ongewenste items om te verkoop om fondse in te samel.

– Kliek hier om na Cupcake (wat verlede jaar in Danvile as verlamde katjie gevind is) se water-rehabilitasie te kyk:

– Kliek hier om meer van Sterrewag Ferals se werk te sien: https://www.facebook.com/people/Sterrewag-Ferals/100094019832753/?_rdr

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button