News

Fotograaf neem nóg ‘n ikoniese foto ná ‘n eeu

'n Fotograaf van die Moot het met ikoniese foto's van 1925 en 1975 ter hand na die Uniegebou gegaan om soveel jare later vanaf dieselfde punt die tydsgees af te neem. Die verskille is duidelik sigbaar hoe die luglyn van Pretoria oor ’n eeu verander het.

Vir oud-militêre fotograaf en gebore-Kapenaar, Johan van Wyk (66) moet die nalatenskap van vorige generasies se fotograwe bewaar en geëer moet word omdat hulle juis só ’n groot rol gespeel het om die bydraes te maak tot die visuele geskiedenis van Pretoria.

Om aan hierdie droom van hom gestalte te gee, het hy onlangs twee geskiedkundige foto’s van die Uniegebou-kanon, The Sentinel, met ’n uitsig oor Pretoria gaan dupliseer deur self ’n foto vanaf bykans dieselfde staanplek te neem.

Hierdie twee soortgelyke foto’s voor die Uniegebou is onderskeidelik in 1925 deur Alan Yates en in 1975 deur Dotman Pretorius afgeneem.

Wanneer jy die drie foto’s langs mekaar plaas, kan jy in die agtergrond sien hoe die luglyn van Pretoria oor ’n eeu vanaf die statiese punt voor die Uniegebou verander het.

Van Wyk, ’n bekende in fotografiekringe in Pretoria, sorg al ook vanweë sy 48-jaar lange verbintenis in klein- en groot handel fotografiese benodigdhede, dat fotograwe in Pretoria rare stukkies onderdele vir kameras kan bekom. Sy tegniese kennis is uitgebreid en gespesialiseerd.

“Ons het fotograwe vir jare met kennis oor kameras en fotografie bedien. Dit was baie bevredigende werk,” vertel hy.

Sy eie omvattende versameling van foto’s het hierdie oudleerling van Laerskool Fleur en Hoërskool Lyttelton juis begin toe Dotman Pretorius hom onder sy vlerk geneem het en hy veel by die bekende fotograaf kon leer.

“Hy was ’n goeie mentor en ek het dikwels by hom en sy vrou, Gwen, aan huis gekom,” vertel Van Wyk.

Pretorius (1917-1999) was verlangs familie van Andries Pretorius na wie Pretoria vernoem is. Hy was op Afrikaanse Hoër Seunskool en het as argeoloog respek afgedwing voordat hy in 1938 sy eerste bokskamera gekoop het. In 1945 het hy formeel as fotograaf by die ateljee van Martin Gibbs Photography aangesluit en hom só bekwaam dat hy sy eie ateljee, Dotman Pretorius Studio of Photography, in 1955 kon begin.

Hy was veral bekend vir sy fotografie van weermagpersoneel, politici, sang- en teatersterre maar ook vir lugfotografie van Pretoria.

Van Wyk is ook die trotse bewaarder van die twee ou kameras wat Pretorius aan hom gegee het: Alan Yates se kamera (KODAK Model BGrootte 6 1/2 X 4 3/4) en Pretorius se eie Linhoff 4X5-kamera.

Die twee geskiedkundige foto’s by die Uniegebou is met hierdie kameras geneem.

Van Wyk het die kameras en foto’s by Pretorius as geskenk gekry toe dié ’n ateljee in die vroeë tagtigs op Kerkplein in Burolaan besit het.

Van Wyk het, soos Pretorius, ook ’n kameraversamelaar geword en het ’n uitgebreide versameling van ou kameras.

Hy het ook ’n stewige en uitsonderlike versameling van sy eie foto’s wat hy tydens sy militêre diens aan veral die grens in die laat-sewentigs en tagtigerjare geneem het.

Die versameling is in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se argiewe. “Ek het net die herinneringe, goed of sleg, by my.”

Hy was toe saam met die joernalis Nico van Burick, verbonde aan die weermagtydskrif, Uniform.

Van Wyk moes ook talle foto’s neem vir artikels oor mense in die weermag en hul doen en late, lief en leed vasvang.

“Een oggend is ek net ingeroep en gesê ons gaan Angola toe en ek moet my kamera bring. Daarna het ek ’n groot argief kon opbou van baie troepe en offisiere wat ek aan die grens in oorlogsituasies en in kampe ontmoet het.”

Een van hierdie foto’s is vir hom besonder kosbaar juis oor die besonderse oomblik toe hy dit kon afneem.

“Soms neem ’n mens ’n foto. Soms neem mens dié foto,” glo hy.

Die hoof van die Leër destyds, generaal Jannie Geldenhuys, het vir ’n oomblik midde-in die harwar van ’n slag, tot stilstand gekom om sy sokkies te ruil. Van Wyk kon ’n portretskoot van hom kry maar met ’n spesifieke instruksie van Geldenhuys: “As jy my vra om te glimlag, is jy in die moeilikheid”.

Hy het ook op ’n keer in die middel van ’n veldslag sy kameratoerusting verloor en moes terugkeer na Suid-Afrika om ’n nuwe stel te verkry.

Hierdie pa van twee volwasse seuns, Gavin en Vaughn, en eggenoot van Margaret-Anne, sê oor hierdie jare weg van die huis: “Ek is bly oor die interessante mense wat ek in hierdie tyd ontmoet het. Dis lekker om hul soms raak te loop. Dit was ’n harde leerskool vir my as fotograaf. Jy kon amper nie oor ’n foto dink nie. Jy moes neem en klaarkry.”

Vir hom bly ’n fotograaf die dokumenteerder dikwels van ’n sekere tydsgees.

“’n Fotograaf is eintlik ’n lopende argief en ’n visuele inligtingversamelaar.”

– Kliek hier om ’n video van die kanon voor die Uniegebou te sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button