News

Pretoria dieretuin lei globale pogings om diere van uitwissing te red

Die dieretuin het al suksesse behaal met die volgende bedreigde dierespesies: die sabel-horing gemsbok, die suidelike bromvoël, die kransaasvoël en die groot gordelakkedis.

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria is aan die voorpunt van wêreldwye pogings om die uitwissing van spesies te bekamp en het sy verbintenis aan Reverse the Red Day (7 Februarie) bevestig.

Hierdie jaarlikse globale inisiatief is daarop toegespits om die afname van bedreigde spesies en ekosisteme om te draai deur strategiese optrede en samewerking.

Woordvoerder Nontsikelelo Mpulo sê hierdie missie is krities, omdat 15% van die spesies wat by die dieretuin gehuisves word as bedreig geklassifeer is.

Suidelike bromvoël Foto: Verskaf

“Hierdie spesies sluit in die Sabel-horing gemsbok (Scimitar horned oryx), die Suidelike bromvoël (Southern Ground Hornbill), Kransaasvoël (Cape Vulture) en die Groot Gordelakkedis (Sungazer Lizard).

“Hulle word bedreig weens habitatverlies, stropery en interaksies tussen mens en wilde diere.”

Mpulo sê 7 Februarie dien as ’n kragtige herinnering dat die mens ’n verantwoordelikheid het om die planeet se biodiversiteit te beskerm.

“Reverse the Red Day is ’n tyd om na te dink oor ons verantwoordelikhede en ons verbintenis om die biodiversiteit vir toekomstige geslagte te hernu,” sê sy.

Mpulo beklemtoon ook dat om die verlies aan biodiversiteit te verminder vereis ’n globale, verenigde poging met instansies soos die dieretuin wat ’n noodsaaklike rol speel.

Een van die dieretuin se mees noemenswaardige suksesse was hul bewaringswerk met die sabel-horing gemsbok, ’n spesie wat in 2000 as uitgesterf in die natuur verklaar is weens vernietiging van habitat en oormatige jag.

Deur bewarende teelprogramme, insluitend dié by die dieretuin, is die spesie weer hervestig in beskermde areas in Tsjad en is hul status afgeskaal na bedreig.

Die dieretuin is vir 58 jaar lank ’n tuiste vir hierdie spesies en het onlangs twee belangrike mylpale gevier.

“Ons mylpale sluit in die geboorte van kalfies in September 2023 en Julie 2024, met nog een wat later vanjaar verwag word.”

Mpulo benadruk hoe die hervestiging van die sabel-horing gemsbok die doeltreffendheid van bewaringspogings demonstreer.

“Die herstel van die sabel-horing gemsbok wys dat bewaring kan werk wanneer ons beslissend optree.

Dit is ’n oorwinning – nie net vir die spesies nie maar vir biodiversiteit as geheel,” sê sy.

’n Ander spesie wat gebaat het uit die dieretuin se bewaringspogings is die Kransaasvoël, ’n voël wat as kwesbaar op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se Rooi Lys verskyn.

Sabel-horing gemsbok Foto: Verskaf

Die dieretuin teel sedert 1996 met hierdie belangrike aasvreters, wat ’n kritieke rol in ekosisteme speel deur weg te doen met karkasse en te keer dat siektes versprei.

“Ons werk is in ooreenstemming met Suid-Afrika se multi-spesiesbiodiversiteit beheerplan, wat daarop gemik is om die aasvoëlbevolking teen 2033 te herstel.”

Mpulo wys daarop dat hulle ook vordering gemaak het met die bewaring van die Groot Gordelakkedis, wat tans bedreig word deur habitatverlies en onwettige jag.

Sy sê 99% van sy bevolking bestaan buite beskermde gebiede.

“In vennootskap met die Endangered Wildlife Trust (EWT) en die Sungazer Working Group, lei die dieretuin bewaringspogings deur teling en rehabilitasie van akkedisse waarop beslag gelê is,” sê sy.

“Met vyf suksesvolle geboortes sedert 2020 en 30 akkedisse wat tans gehuisves word, werk die dieretuin daaraan om die toekoms van hierdie kritiese-bedreigde reptiel te beveilig.”

Mpulo is vol hoop vir die toekoms en sê dat die dieretuin se navorsing en kundigheid verdere aksie kan inspireer.

“Deur navorsing en tegnieke te deel, hoop ons om die skepping van beskermde bewaringsgebiede vir gordelakkedisse te inspireer. Samewerking is die sleutel tot hul oorlewing,” sê sy.

Die Groot Gordelakkedis Foto: Verskaf

Die dieretuin se pogings strek tot die suidelike bromvoël, ’n spesie wat hulle sedert 1995 help om te bewaar.

Kuikens wat van die Kruger Nasionale Park afkomstig is, is by die dieretuin grootgemaak voordat hulle in die natuur vrygelaat is, veral in die naburige eSwatini.

“Vandag ondersteun die dieretuin steeds hierdie inisiatief deur voëls te huisves wat bestem is vir hervestiging en word broeipare fyn dopgehou vir toekomstige vrystellings.”

Die dieretuin se direkteur van diereversamelings en bewaring, Tracy Rehse, beklemtoon dat hierdie pogings ’n belangrike deel uitmaak van die dieretuin se breër missie.

“Ons toewyding om hierdie spesies te bewaar reflekteer ons breër missie om biodiversiteit te beskerm.

“Deur toegewyde teelprogramme en habitatbewaring, mik ons om ’n toekoms vir hierdie merkwaardige diere te verseker.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button