Sakekamer stel Wonderboom-lughawe toekomsplan voor
Sakeleiers meen Wonderboom-lughawe het die potensiaal om’‘n ekonomiese kragbron vir Pretoria te wees, maar slegs as daadwerklike stappe nou geneem word.
Die Pretoria Sakekamer het ’n beroep gedoen op besluitnemers om daadwerklike hervormings en ’n strategiese publiek-private vennootskap te implementeer, om die Wonderboom-lughawe se volhoubaarheid en ekonomiese bydrae tot Pretoria te verseker.
Die voorstelle is op 11 Februarie tydens die metroraad se Pretoriuspark-openbaredeelname-sessie oor die lughawe se toekoms ingedien.
Die metro het rolspelers uitgenooi om insette tot die meestersplan van die lughawe in te dien en hou tans openbare deelnamesessies onder leiding van Delta Built Environment Consultants.
Die metro het die Airports Company South Africa (ACSA) versoek om hulle by te staan in die ontwikkeling van die plan met kommersiële doelwitte, sosiale aspekte en die metro se grondgebruikbeleid in ag geneem.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Sakekamer, sê dis alombekend dat die metro nie ’n volhoubare bestuursmodel vir die lughawe kon volhou nie.
“Vir jare is verskeie intervensies van stapel gestuur en konsultante aangestel, sonder enige wesenlike sukses. Pleks daarvan om die kernprobleme van Wonderboom-lughawe aan te spreek, het hierdie pogings slegs tot die vermorsing van belastingbetalers se geld gelei. Weens gedesentraliseerde beheer kon die lughawe nie sy eie sake onafhanklik bestuur nie, wat dit in ’n permanente toestand van onsekerheid en ondoeltreffendheid gelaat het,” verduidelik Ferguson.
Volgens hom is ’n publiek-private vennootskap die enigste realistiese oplossing om privaat beleggers te lok, kommersiële dissipline daar te stel, en volhoubare bedrywighede te verseker.
“Die sukses van Lanseria Internasionale Lughawe is ’n beduidende voorbeeld dat ’n goed gestruktureerde vennootskap – pleks van ’n munisipale entiteit – die beste bedryfsmodel is vir Wonderboom. ’n Munisipale entiteit sou steeds belemmer word deur die metro se burokrasie, stadige verkrygingsprosesse en ’n beperkte vermoë om privaat kapitaal te bekom.”
Hy meen daarenteen sal so ’n vennootskap die lughawe in staat stel om te floreer sonder om ’n las op die metro se begroting te wees, terwyl dit doeltreffend bestuur word en volgens internasionale lugvaartstandaarde funksioneer.
Benewens bestuurs- en beleggingskwessies, het die Sakekamer ook voorgestel dat Wonderboom-lughawe herskep word as ’n gespesialiseerde vrag- en vliegopleidingsentrum, en nie met Lanseria te kompeteer vir die passassiersmark nie.
Ferguson voel die wêreldwye aanvraag na vraglogistiek groei sterk, en Suid-Afrika se alombekende lugvaartopleidingsbedryf bied ’n duidelike geleentheid vir volhoubare uitbreiding.
“Wonderboom-lughawe huisves alreeds verskeie vlugskole, en met die regte kapitaalinsette, kan dit ontwikkel as ’n toonaangewende sentrum vir vlieënieropleiding, vliegtuigonderhoud en logistieke operasies.”
Hy maan egter kritieke infrastruktuur- en energiesekerheid sal onmiddellike aandag vereis.
“Die opgradering van die K97-pad moet dringend versnel word om toegang tot die lughawe te verbeter. Wonderboom moet ook opgeneem word in die Tshwane-bestuur se Rooiwal Kragstasie-heraanvangsplan om betroubare kragvoorsiening te verseker. Sonder hierdie beleggings sal die lughawe se potensiaal as sleutelrolspeler in die streek se ekonomiese groei verlore gaan.
Lees: Pretoria-bound baboon, Jasiri, safely relocated to the mountains
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
