News

Afrikaans 100: “Afrikaans sit nie op ‘n mishoop nie”

Die Afrikaanse Taalraad is hard besig om moedertaalonderrig in Eersterust te bevorder.

Die Afrikaanse Taalraad sê in hul projek vir Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie fokus hulle spesifiek op Eersterust omdat dit ’n Afrikaanssprekende gemeenskap is waar moedertaalgebruik onder druk is.

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die raad, glo dat Afrikaans meer as een gewaad dra.

“Afrikaans verbind al die sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat. Onderliggend aan alles is natuurlik altyd die beginsel dat Afrikaans nie eenkant op ’n mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van ander inheemse tale saamwerk om die sukses van ’n ware meertalige bestel te verseker,” meen Steenkamp.

Volgens die raadwoordvoerder, Merlyn van der Rheede, deur onderwysers op te lei en gemeenskapsprojekte te ondersteun, help die raad om Afrikaans as ’n lewende taal in die gemeenskap te bewaar en te versterk.

“Ons droom vir Eersterust is ’n gemeenskap waar elke kind gelyke geleenthede het om in hul moedertaal te leer en te groei. Deur gehalte-onderrig en gemeenskapsontwikkeling wil ons seker maak dat Afrikaans bly leef en dat elke kind die kans kry om hul volle potensiaal te bereik,” sê Van der Rheede.

Met die oog op die viering van moedertaalonderwys bied die Vriende van Afrikaans in samewerking met die Afrikaanse Taalraad ’n voorleeswerkswinkel aan vir leerkragte, ouers en ander belangstellendes met die tema: “Elke kind wil lees”.

Taalraad-woordvoerder, Merlyn van der Rheede

“Met ’n groot oortuiging in die waarde van moedertaalonderrig, wil die raad die aandag van ouers vestig op die waarde daarvan. Wanneer leerders in hul moedertaal onderrig ontvang, skep dit ’n omgewing wat bevorderlik is vir leer en begrip,” verduidelik sy.

Die raad glo dat dit nie slegs hul akademiese prestasies versterk nie, maar ook hul selfbeeld en trots verhoog.

“Studies dui aan dat leerders wat in hul moedertaal onderrig ontvang, ’n beter begrip van kognitiewe, abstrakte terme het en beter presteer in eksamens. Moedertaalonderrig bemagtig gemeenskappe en bied groter opsies vir werksgeleenthede. Die Taalraad gee aan ouers voorligting oor die waarde van meertaligheid en moedertaalonderwys asook oor die hantering van taal in die gesin,” wys sy uit.

Die raad is reeds die afgelope vyf jaar aktief besig met opleiding vir onderwysers en gemeenskapsgesprekke in Eersterust.

“Hierdie inisiatiewe fokus op die bevordering van moedertaalonderrig en die versterking van taalontwikkeling.”

Die raad doen die ontwikkeling in samewerking met hul vennote, die Afrikaanse Onderwysnetwerk wat opleiding en onderwysondersteuning bied aan die kleuterskole en skole.

Die Vriende van Afrikaans sal boektrommels skenk en leeswerkswinkels aanbied.

“Ons werk ook nou saam met die gemeenskaps-organisasie, Eersterust Taalontwikkelings Forum en die Congregational Kerk. Ons glo dat ’n regverdige en inklusiewe toekoms gebou word deur die volle omvang van Afrikaans se geskiedenis te erken en te waardeer, asook deur bewus te wees van die verskeie invloede, gebruike en veranderinge wat die taal oor tyd gevorm het. Wanneer ons die heelheid van ons taalgeskiedenis erken, neem ons die bydraes en ervarings van alle groepe en gemeenskappe wat Afrikaans gebruik of beïnvloed het, in ag.”

Sy glo so word ’n verbintenis tot inklusiwiteit en respek gevestig vir die diverse gemeenskappe wat Afrikaans gevorm het en steeds vorm.

Sprekers sal gesels oor die noodsaaklikheid van lees en voorlees, die inklusiewe klaskamer en Doen en Leer-demonstrasies.

Boektrommels word ook aan die Arewo Happy Kids-kleuterskool en PS Fourie Primêre Skool in Eersterust geskenk.

Vir Van der Rheede is die mooiste van haar moedertaal hoe dit haar diepste gedagtes, emosies en ervarings op ’n unieke en egte manier uitdruk.

“Dit verbind my met my geskiedenis, my mense en my kultuur, en dra ’n klank en ritme wat my tuis laat voel, ongeag waar ek is.”

Almal is welkom om Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie van 08:30 tot 12:30 by Arewo Happy Kids (AFM Kerk), George Hoodlaan 301, Eersterust, Pretoria te vier.

– Luister na skrywer Anzil Kulsen wat oor die waarde van hardoplees gesels: https://www.facebook.com/taalraad/videos/608360038728856

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram or TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button