News

Pretoria-skole oorvol en onder druk in noorde, weste en ooste

Talle skole in Pretoria se onderwysdistrikte is onder druk oor te veel leerders. Die Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie maan dit is tot die nadeel van leerders en onderwysers.

Twee Pretoria-skole, Hoërskool Langenhoven in Pretoria-Wes en Laerskool Akasia in Pretoria-Noord, ly veral onder oorlading van leerders in skole, volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Paul Sauer, uitvoerende beampte van die unie, sê dit is met groot kommer dat die organisasie terugvoer van lede ontvang het oor die oorlading van leerders in skole.

Volgens die unie is 4 000 leerders regoor Gauteng nog nie in skole geplaas nie.

“Hierdie week is reeds die vyfde week van onderrig en leer in skole, met slegs vyf weke in die kwartaal oor voordat skole vir die vakansie sluit. Dit impliseer dat daar reeds genoegsame onderrig plaasgevind het sodat assessering vir die eerste kwartaal afgehandel kan word.

“Hierteenoor is daar steeds skole wat nie met kwaliteitonderrig kon begin nie omdat daar soveel leerders in klasse geplaas word dat elke individuele leerder nie die nodige onderrig kan ontvang nie,” verduidelik Sauer.

Laerskool Akasia het volgens die unie plek vir 240 graad 1-leerders terwyl daar meer as 1 400 aansoeke vir plasing ontvang is.

Die unie se lede in skole in Pretoria-oos en Pretoria-Noord sowel as Pretoria-Wes het ook aangedui dat skole in die distrikte oorvol is.

Alhoewel ’n ekstra 4 000 klaskamers deur die Gauteng Department van Onderwys belowe is, het dit nie gerealiseer nie en leerders is in oorvol skole geplaas wat reeds onder geweldige druk verkeer.

Sulke klaskamers is ook dikwels nie doeltreffend aangesien dit dikwels tydelike vraghouer-klaskamers is en nie toegerus is met lugverkoelers nie.

“In vorige jare is tydelike klaskamers opgerig om in hierdie behoefte te voorsien, maar in plaas daarvan dat daar later permanente strukture opgerig is, is hierdie klaskamers as permanente fasiliteite aangelê,” wys Sauer uit.

Sulke oorvol skole dra die benaming van hoë druk- of hoëdigtheidskole. Hiervan is daar in Gauteng tans 292 laerskole en 277 hoërskole.

Sommige skole in die provinsie berig dat daar soveel as 70 leerders in ’n graad 1-klaskamer ingedeel is.

“In graad 1 het ’n leerder behoefte aan kwaliteit-aandag van die onderwyser om die aanleer van basiese vaardighede soos skryf, lees en tel moontlik te maak. Dit is egter nie moontlik in oorvol klaskamers nie,” verduidelik Sauer.

Hy wys daarop dat verslae van verskillende entiteite het aangedui dat daar groeiende kommer is oor die welstand van onderwysers, asook die hoeveelheid stres wat hulle tans ervaar.

“Vir hierdie onderwysers is die onderrig van leerders in ’n oorvol klaskamer, sonder die nodige onderrigmateriaal, ’n ekstra stresfaktor.”

Volgens hom is bydraend tot hierdie kommerwekkende situasie dat sommige skole steeds nie die nodige handboeke en skryfbehoeftes wat vir onderrig en leer noodsaaklik is, ontvang het nie.

Daar word ook berig dat sommige skole nie genoegsame stoele en tafels vir leerders beskikbaar het nie.

“’n Kind kan slegs leer in ’n omgewing waar hy of sy kwaliteit-aandag en onderrig kan ontvang, waar hy of sy ’n geskikte tafel, boeke en skryfbehoeftes om mee te skryf het. As hierdie basiese benodigdhede nie voorsien word nie, kan die voorgestelde verbetering aan vaardigheidsvlakke nie in die onderwysstelsel bereik word nie. Geskikte beplanning vir die onderwysstelsel het ’n noodsaaklikheid geword om te verseker dat elke leerder ’n gelyke geleentheid het om te leer.”

Vrae is aan die Gauteng Department van Onderwys gestuur maar antwoorde is nog nie ten tyde van publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button