Radioreus laat groot nalatenskap
Die Suid-Afrikaanse radiobedryf en veral die Christelike mediabedryf is armer nadat visoenêre leier, dr. Roelf Petersen, op 16 Februarie oorlede is.
’n Bekende stem het stil geraak toe die voormalige groepsbesturende direkteur van Pulpit Media Group en voormalige direkteur van Radiokansel, dr. Roelf Petersen op 16 Februarie teen die ouderdom van 79 in Pretoria oorlede is nadat hy ongesteld was.
Jean Lung-Harmse, woordvoerder vir Radiokansel, sê Petersen het ’n reuse bydrae oor sy meer as 20 jaar se verbintenis aan die gewilde radiostasie met meer as 400 000 luisteraars gemaak, asook aan die radiobedryf in sy geheel.
“Hy het nie net met Radiokansel ’n bediening help bou nie, maar het sedert 2000 met sy toewyding en vasberadenheid diep spore in die Christelike mediawêreld getrap. Hy was altyd aan die voorpunt van vernuwing en groei,” verduidelik sy.
Sy sonder as mylpaal uit sy toekomsvisie om ’n mediumgolflengte-lisensie vir die radiostasie te verkry sodat die reikwydte uitgebrei kon word, sowel as om nog ’n suster stasie, Kaapse Kansel, in die lewe te roep om luisteraars met meer plaaslike nuus in die Wes-Kaap te bedien.
Hy was ook instrumenteel daarin om radiostasies met ’n Christelike inslag in Madagaskar en Mosambiek te vestig.
Petersen se vooruitsiendheid om digitale platforms te ondersoek as uitsaaiplatforms vir lewendige radio, is welbekend en hy het hiermee tot verbreding van horisonne vir die stasies sowel as die bedryf bygedra.
Vir Lung-Harmse is dit veral sy prestasie om Radiokansel as ’n stasie te vestig wat in Afrikaans, Engels en Afrikatale uitsaai, wat besonders is.
“Dit hang net af van watter tyd van die dag jy inskakel, maar ons is werklik een van min veeltalige stasies in Suid-Afrika,” sê sy.
Nog ’n prestasie van Petersen was om die vestiging en verspreiding van die kwartaallikse blad van Radiokansel met dagstukkies, Die Woord van die Dag/The Word of the Day, uit te bou sodat daar tans twee miljoen eksemplare per kwartaal in Suidelike Afrika versprei word.
Radiokansel-omroepers is baie hartseer oor sy afsterwe, vertel Lung-Harmse.
“Die omroepers is ontsteld want hy was so ’n unieke persoon.”
Petersen was bekend vir uitvoering van reuse hulpprojekte aan gemeenskappe soos om voer by boere in droogte-geteisterde gebiede te laat aflewer sowel as noodlenigingsprojekte soos tydens vloede in Mosambiek.
Wilma van Schalkwyk, stasiebestuurder van Radiokansel, sê Petersen kon ’n span lei om hul fokus te hou om te doen wat van hul verwag word en was ’n uitstekende strategiese bestuurder,
“Hy was streng, maar regverdig, en het geglo elkeen moet in sy baan bly,” vertel Van Schalkwyk.
Die besonderhede oor die Petersense begrafnis was teen druktyd nog nie bekend nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
