Metro het ‘n plan met afloopriool in Moot-strate
Inwoners van die Moot is raadop met riool in hul strate. Die metro wys daarop die rioolpype is diep en onder geboue met beplanningsoortredings. Al is 'n nuwe instrukteur aangestel, is die moontlike oplossings onderhewig aan begrotingsbeperkings.
Inwoners van Capitalpark in die Moot is moedeloos oor verouderde, gebreekte en gekraakte keramiekpype wat veroorsaak dat riool vloei in Flower-, Trouw- en Myburgstrate weens dele van die munisipale pypleiding wat verbrokkel.
Raadslid Mari Joubert van die Vryheidsfront Plus is tans aan die voorpunt van ’n projek om toe te sien dat hierdie onhigiëniese toestande nie langer geduld word nie.
Sy verduidelik die Tshwane metro se Departement van Water en Sanitasie het reeds verlede jaar ’n kontrakteur aangestel om die pype te herstel, maar die projek is nog nie voltooi nie.
“Die vertraging word veroorsaak weens die hoofpyplyn wat deur private eiendom loop en nie maklik toeganklik is nie. Buitegeboue en plaveisel is ook oor die pyplyn gebou,” verduidelik Joubert.
Sy het bevestig sy is tans besig met ’n ondersoek om vas te stel of daar bouplanne vir die geboue by die metro ingedien en goedgekeur is.
Dit bekommer haar dat Capitalpark tans ’n toestroming van mense beleef wat op soek is na goedkoop behuising.
“Dit kan aanleiding gee tot die oprig van geboue sonder die nodige goedkeuring,” glo Joubert.

Sy het ’n beroep op huiseienaars in Capitalpark gedoen om nie bykomende geboue op hul eiendom op te rig sonder die nodige toestemming van die metro se Departement van Ruimtelike Ontwikkeling nie.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo bevestig ’n raadgewende ingenieur en ’n kontrakteur is voorheen aangestel om die vereiste werk in Capitalpark uit te voer, maar hul kontrakte het verval voordat al die vereiste werk voltooi is.
Volgens hom is nog ’n raadgewende ingenieur en ’n kontrakteur intussen deur die stad aangestel om die vereiste werk te verrig.
Hulle is tans in ’n proses om kring-TV-ondersoeke te doen oor die probleempype, insluitend die aanvanklike twee problematiese rioolpypleidings.
Mashigo wys daarop dat toegang tot eiendomme sowel as die diepte van riole en gebou-oortredings rondom die rioolpypleidings, die voltooiing van die ondersoek en die daaropvolgende aanvang van die werk vertraag.
“Dit is middelblokrioolpype en toegang is moeilik. Rioolpype is ook uiters diep,” verduidelik Mashigo.
Volgens hom word daar tans planne in plek gestel om verligting aan inwoners te bring.
Mashigo bevestig die konsultant sal dringend ’n werkpakket voltooi vir die vervanging van al die betrokke rioolpype in Capitalpark.
“Die werkpakket sal werk insluit wat die kontrakteur in ’n konstruksietydperk van sewe maande vanaf Maart 2025 tot Augustus 2025 kan voltooi. Die aanstelling van die huidige kontrakteur verstryk egter in Augustus 2025. Indien die vereiste werk vanaf September 2025 voortgesit moet word, sal ’n nuut aangestelde kontrakteur oorweeg moet word totdat al die problematiese en of potensieel problematiese rioolpypleidings in Capitalpark óf vervang óf herlyn is,” wys Mashigo uit.
Hy maan egter hierdie werk is onderhewig aan beskikbaarheid van ’n voldoende begroting.
Die huidige kontrakteur sal met die werk begin waar ondersoeke in Myburghstraat afgehandel word deur óf die bestaande pyplyngedeeltes se voerings te vervang óf deur middel van ’n slootlose pypkrakingmetode waar moontlik.
Mashigo waarku egter ’n oop uitgrawingsmetode sal ’n uitdaging wees weens onvoldoende spasie en uiterste veiligheidsgevare.
“Die kontrakteur sal voortgaan om die werk uit te voer terwyl die ondersoeke oor verdere problematiese rioolpypleidings uitgevoer word.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
