News

Potjiekosbeoordelaar: “Moenie roer of loer nie!”

Twee ervare beoordelaars is aangestel om die potjiekosmeesters van die Moot aan te wys en die jaarlikse trofee te oorhandig.

Die beoordelaars van die YANA-Potjiekoskompetisie in die Moot stel hoë vereistes aan vanjaar se wenpotjie.

YANA (You Are Never Alone) is ’n organisasie sonder winsbejag wat psigososiale rehabilitasie vir mense met skisofrenie voorsien. Die kompetisie is ’n jaarlikse fondsinsamelingsprojek.

Vir ekonoom Dawie Roodt is die goue reël wat hy as beoordelaar gaan toepas: “Is daar aan die potjie gekarring en geroer of nie?”

“Moenie roer of loer nie! Daar is ’n reuseverskil tussen ’n bredie en ’n potjie. ’n Potjie pak jy laag vir laag, en pak dalk weer ’n laag, maar die sous is nie die deurslaggewende faktor nie. As jy ’n potjie roer, gaan jy met ’n pot bredie of sop sit. Mens wil met ’n potjie darem proe jy eet ’n vleisie of sagte wortel,” vertel die gewilde TV-aanbieder, gebore in die destydse Warmbad. Hy het grootgeword in Tzaneen in Limpopo.

As Bosvelder wéét Roodt dus hoe om kos in die buitelug te maak. Aan die ander kant, is hierdie ervare ekonoom ook deeglik onderlê in wat die ekonomie kan laat werk of nié werk nie.

Hy glo daar is talle raakpunte tussen ’n wenpotjie en ’n land se ekonomie.

“’n Wenpotjie is soos ’n suksesvolle ekonomie. Jy moet hom net aan die gang kry en daarna sal hy self aan die kook bly, indien jy die vuur reg hou.”

Hy glo ook ’n pruttelende potjiekospot wat aan homself oorgelaat word, is juis geuriger omdat smake nie vermeng nie.

Vir dieselfde rede glo Roodt sit jy bestanddele in die orde van hoe lank die bestandele vat om gaar te kook van onder na bo met vleis heel onder en sagte groente soos vlapampoentjies heelbo.

Roodt se gunstelingpotjie om self te maak is juis sy bekende “Geel Potjie” waarin hy groentes soos patats, geel rissies en vlapampoentjies bo-op lae hoender pak.

“Dis nogals sag op die oog ook. Kos wat mooi lyk, proe ook mos lekkerder,” glo Roodt, maar hy gee nie graag die geheime bestanddeel van sy geel potjie weg nie.

“Dis ’n familiegeheim,” lag Roodt. “En ek is in die moeilikheid as ek dit weggee.”

Een van verlede jaar se wenners en lid van die Minute-To-Win-It-span, Charl Groenewald, is ook vanjaar ’n beoordelaar. Sy span se vyfsterpotjie verlede jaar was ’n room-biltongpotjie.

Groenewald gaan vanjaar potjiekosinskrywings deurkyk vir ’n nie-tradisionele, unieke potjie.

Ekonoom Dawie Roodt

Vir hom moet die bestanddele ’n verrassing wees.

“Ek soek na iets wat dalk nie die norm is nie, maar ’n tradisionele potjie kan ook los hande die wenner wees indien dit nie ’n vervelige potjie is nie,” glo Groenewald.

Vir hom is die bykosse ook belangrik. “Natuurlik het dit ook vir ’n beoordelaar veel te make oor hoe ’n gereg voorgesit word. Maar voorkoms is nie alles as dit by potjiekos kom nie. Mens soek die harmonie tussen goed lyk en geurig smaak.”

Soos vir Roodt, is kleur belangrik vir Groenewald. “’n Ligter kleur potjie met ’n groenigheid daarby, werk vir my.”

Linda Prinsloo, woordvoerder van YANA, sê die potjiekoskompetisie is nou al ’n jaarlikse instelling en ’n trofee word van jaar na jaar aan wenners toegeken.

Fondse wat ingesamel word, word aangewend om diegene wat met die geestesgesondheidsiekte, skisofrenie, gediagnoseer is, se lewens makliker, gesonder en veiliger te maak veral diegene wat by die YANA-huise in die Moot inwonend is.

Skisofrenie is ’n geestestoestand en breinsiekte wat ’n individu se vermoë om te dink, te voel en gepas op te tree, beïnvloed.

Prinsloo sê die organisasie maak voorsiening vir persone gediagnoseer met skisofrenie in groepshuise en met rehabilitasieprogramme sedert 1984. Die eerste huis vir mans is in 1993 gevestig en gevolg deur ’n tweede huis in 1996. Die huis vir dames is in 2000 gevestig en in 2007 is die huisvesting verder met twee huise uitgebrei.

Die YANA-potjiekoskompetisie vind op 29 Maart plaas by Toutrekpark, 14 de Laan, Rietfontein. Vir meer besonderhede, skakel Linda Prinsloo bu 066 224 1552.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button