Raad se oorsigkomitees laat steeds veel te wense oor – DA
Oorsigkomitees se vergaderings en die wanbestuur rondom verslae deur die komitees en die burgemeesterskantoor is 'n bron van kommer, glo DA-raadslid Ofense Madzebatala.
Die inwoners van Pretoria moet weet dat die stadsraad se administrasie van oorsigkomitees en verslae veel te wense oorlaat en hulle op die teleurstellendste manier ooit in die steek laat.
Dit is volgens DA-raadslid Ofentse Madzebatela, wat sê dat die Artikel 79-komitees se administrasie, soos bestuur deur die oorsigkomitee-voorsitters en die Speaker se kantoor, steeds hoogs ondoeltreffend is.
Volgens hom was dit boonop nodig om die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, by die Etiek- en Reëlskomitee van die raad aan te gee oor haar versuim om die finansiële state en verslae kragtens wetgewing betyds aan die raad voor te lê.
Ten opsigte van die Seksie 79-oorsigkomitees, voel Madzebatela dat daar ’n verbetering is. Dit sedert hy alarm aan die begin van Januarie gemaak het oor die komitees se pligversuim om vergaderings te hou en die metro se departemente se verslae doelgerig en met sorg na te gaan.
Maar hy voel ook belastingbetalers se belange word steeds nie gedien nie.
Hy voel die komiteevoorsitters en onervare komiteepersoneel is medepligtig daaraan dat hierdie oorsigkomitees nie aan hul mandaat voldoen nie.
“Al is daar nou meer gereelde vergaderings, is dit dikwels nie doelmatig nie, aangesien net een verslag dikwels bespreek kan word. Met van die twee belangrikste komitees oor finansies, is daar min vordering met die agendas gemaak aangesien een se samestelling verlede maand verkeerd was en die vergadering nie kon plaasvind nie. Daar is met beide finansieskomitees talle agterstallige sake wat vyf maande lank opgehoop het,” vertel hy.
“Dit beteken dat die onreëlmatighede met die belastingbetaler se geld al vir vyf maande nie aangespreek is nie,” waarsku hy.
Volgens hom het hy die burgemeester verlede maand na die raadsvergadering by die Speaker gaan aangee vir haar administrasie se wanbestuur rondom die voorlegging van die finansiële begrotingsverslag.
Die verslag moes kragtens wetgewing kwartaalliks binne 30 dae na die verstryking van die vervaldatum aan die einde van die kwartaal voorgelê word.
Madzebatela sê ten spyte van verskeie opvolgaksies aan sy kant om as raadslid toe te sien dat druk op die burgemeesterskantoor voor die vergadering geplaas word, was die korrekte verslae steeds nie beskikbaar tydens die raadsvergadering nie.
Moya het na die vergadering by ’n mediakonferensie aangedui die oorsig was te wyte aan oponthoude in die interne komiteestelsels.
Vanessa da Sousa, woordvoerder van die Speaker se kantoor, het aan Rekord gesê dat Seksie 79-oorsigkomitees soos per stadsraadsgoedgekeurde jaarskedule een keer per maand vergader.
“Sover het alle komitees in Februarie hul vergaderingskedule nagekom,” sê Da Sousa.
Sy het bevestig dat die Speaker nie sy plig versuim om die komitees en hul komiteevoorsitters oor die hou van vergaderings aanspreeklik te hou nie.
By die Januarie raadsvergadering het daar 14 verslae van ses komitees voor die vergadering gedien, soos onder meer verslae deur oorsigkomitees vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning, gesondheid en omgewingsbestuur.
“Die Speaker se kantoor glo die komitees is op koers volgens die reëls en bevele-verordening en die bestuursmodel van die raad,” glo Da Sousa.
Sy wys daarop dat geen oorsigkomitee-vergaderings gekanselleer is nie.
“Die voorsitters is op 24 Oktober 2024 aangewys, in November is die nuwe voorsitters ingehuldig, terwyl hulle met hul komiteewerk voortgegaan het. In Desember en die eerste twee weke van Januarie was die raad in reses.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
